Wyse woorde - Carike Keuzenkamp

0
151
Carike Keuzenkamp

Met ’n lang en suksesvolle loopbaan agter die rug het Carike Keuzenkamp ikoonstatus bereik. Sy deel haar geheime oor sekere aspekte van haar lewe.

Met ’n lang en suksesvolle loopbaan agter die rug het Carike Keuzenkamp ikoonstatus bereik. Sy deel haar geheime oor sekere aspekte van haar lewe.

Oor drome

As ’n mens ouer word, dink jy minder oor drome. Jy raak realisties en voel jy het nie meer issues nie. Dit is maklik om te droom as jy jonk is, want as jy al hierdie jare voor jou het, dink jy jy gaan vir altyd leef. Mense moet vrede maak daarmee as hulle ’n ideaal het wat hulle nooit bereik het nie. Soms moet ’n mens realisties wees en jouself daaraan herinner dat vandag belangrik is.

Oor plooitjies

Ek was nog nooit behep met plooie en lyne nie. Ander mense is baie meer obsessief oor my plooie as ekself. Vir my goeie gene is ek dankbaar, maar ek is nie grootgemaak om oorbewus te wees van my voorkoms nie. Kosmetiese operasies is dus nie vir my nie. Na my mastektomie sien ek operasies in ’n ander lig. Die lewe en tyd is te kosbaar om op onnodige operasies te verkwis. Ek wil met grasie oud word.

Oor kanker

Ek was gelukkig om in ’n posisie te wees waar ek op gesond word kon fokus na my tweede diagnose. Ek het baie kans gehad om te dink. Natuurlik het ek gedink oor die pad vorentoe. Is daar nog iets wat ek wil bereik? Wil bewys? Ek het gedink en gedink, maar ek kon toe aan niks indrukwekkend dink behalwe om nog by my familie en vriende te wees nie.

Oor geduld

Ek moes leer om te wag en te aanvaar dat ek nie alles kan beheer nie. Dit is iets waarmee ek glad nie goed is nie. Ek hou daarvan om dinge te beplan en te organiseer, maar ek moes vrede maak daarmee dat goed gebeur wanneer dit gebeur. Dit was vir my moeilik om te delegeer, alles moes wees soos ék dit wou hê. Ek het geleer om die lewe kalmer te benader, want môre is nog ’n dag.

Oor sjarme

Sjarme laat almal, oud en jonk, uit jou hand eet. Maar wat is die geheim daarvan? Kyk op, glimlag met jou hart in jou oë. Wees self gelukkig, stel jou oop, kry harmonie in jou lewe en gee, gee, géé! Moet niks vir jouself hou nie – jou talente, skeppende vonk, al die liefde wat jy ontvang. Deel uit sover jy gaan. Die geheim vir immergroen sjarme lê nie in skoonheid of jeug nie.

Oor liefde

Ons geheim is harmonie. Dit is uiters belangrik. Alhoewel Olaus ’n siviele ingenieur en ek ’n sangeres is, vul ons persoonlikhede mekaar aan. Natuurlik is integriteit en humor baie belangrik. Vir ’n verhouding in die openbare oog, het jy ’n goeie skoot humor nodig. Ons huwelik van 48 jaar is gebou op respek, vertroue, lojaliteit en hope liefde. Noudat ons weer alleen is, wil ons dinge saam doen en wil ons nie van mekaar af weg wees nie.

Oor mense

Ek het geleer om altyd goeie verhoudings met mense te handhaaf. Jy weet nooit wanneer jy weer saam met sekere persone moet werk nie. Jy moet mense respekteer, soos om te laat weet jy kan nie ’n afspraak nakom nie, as jy wil hê hulle moet jou ook respekteer. Ek het ook geleer the show must go on is ’n werklikheid as jy sukses wil behaal. As mense jou CD’s koop en vertonings bywoon, het jy ’n verantwoordelikheid teenoor hulle.

Oor vriendskap

’n Mens het verskillende vriendinne. Daar is dié saam met wie jy net laf kan wees, dié wat jy van kerk of skool af ken en dan hartsvriendinne. Ek is gelukkig om ’n suster en dogters te hê met wie ek kan praat, maar soms moet ’n mens net met iemand gesels wat nie familie is nie, wat ’n ander perspektief het. Dit is ook lekker om ’n vriendin te hê wat jou deur dik en dun bystaan.