Wyse woorde – Elsabé Daneel

0
300
Elsabé Daneel

Elsabé Daneel se positiwiteit dra haar, of dit nou op die skerm, op die verhoog of agter ’n mikrofoon is.

Elsabé Daneel se positiwiteit dra haar, of dit nou op die skerm, op die verhoog of agter ’n mikrofoon is.

Oor werk

Omdat ek in die media werk, het ek groot respek daarvoor. Dis ons waghond en kollektiewe geheue. Gedurende my werk aan die kykNET-dokkie Lourier het die suksesstories van prominente Afrikaanse presteerders my bekoor. Die TV-werk oor baie dekades het my as mens, joernalis en aktrise gevorm en geslyp. Ek probeer fyn skryf aan elke persartikel, want ek besef dit kan ’n uitwerking op iemand se lewe hê. Dis ’n groot verantwoordelikheid.

Oor alleen-wees

’n Mens moet vroeg reeds ’n wêreld buite jou huis skep wat jou sin en vreugde gee as skans teen die leë nes. ’n Goue stukkie raad is om in voeling met jongmense te bly, want hulle hou jou kop oop. Die lewe is dinamies, veranderlik en onvoorspelbaar. Daar nie ’n netjiese versekeringspolis teen verlies en hartseer nie. Die kuns van oorlewing lê daarin om doelbewus soepel en aanpasbaar te wees. Gelukkig neig die lewe om iets terug te gee waar iets vergaan het.

Oor positiwiteit

Vir my is die glas altyd halfvol. Niks is ooit te erg of te verskriklik nie. Ek het ’n onblusbare energie en nuuskierigheid soos Alice in Wonderland. Maak dit jou basiese beginpunt om kans te sien vir alles. Leer om alle mense interessant te vind, want jy kan by almal onverwags iets leer. Baklei soos ’n tierwyfie vir wat vir jou belangrik is, maar kies die goed waaroor jy wil baklei versigtig.

Tel jou woorde, want dis soos tandepasta wat jy nie kan terugdruk in die buisie as dit eers uit is nie.

Oor ma en dogter

Ek voel elke dag bevoorreg dat Roeline my dogter is. Ek was naby aan my ma, Roeline, wat ook naby aan háár ma was. Die waardering en begrip tussen ma’s en dogters en susters en tannies is sterk in my Viljoen-bloedlyn. Tog is ons vroue individualisties. My twee seuns is vir my ewe kosbaar. Wat ’n groot vreugde tussen my en Roeline is, is ons liefde vir die uitvoerende kunste, kos, reis en ginnegaap. Ons hou gereeld “parteiki”.

Oor inspirasie

Omdat ek passievol leef, inspireer baie dinge my. Teater, musiek, fliek, kuier, lees, poësie, kuns en reis is vir my ’n ewige opkikker wat ek gedurig opsoek. Ek is sterk op my sintuie ingestel, so, ek koester ’n warm sonnetjie, lekker kos, ’n louwarm Griekse see, treffende argitektuur, ’n sagte kasjmiertrui en ’n uil wat roep in die nag.

Lig, skoonheid en kleur laat my altyd beter voel. Mense inspireer my ook, of hulle snaaks, briljant, eksentriek of doodgewoon is.

Oor gemeenskapswerk

Dis vir my belangrik om dit wat ek geleer het en geniet, oor te dra aan ander wat dalk minder kanse het. Ek is elke jaar lid van die Suidoosterfees se talentsoekspan wat nuwe uitvoerende talent regoor die Wes-Kaap uitsnuffel. Ek tree gereeld gratis op as gasspreker, aktrise, beoordelaar of compère by fondsinsamelings, kunsuitstallings en kunsuitvoerings. Dan geniet ek dit gewoonlik die meeste van almal en staan laaste op om te loop.

Oor reis

Daar is niks soos reis om jou horisonne te verbreed en jou kop verwonderd te hou nie. Hongarye, Pole, Namibië en Griekeland was vanjaar op my reisplan. InAuschwitz-Birkenau is ek weer eens geskok deur die mensdom se onmenslikheid. In teenstelling daarmee was die Griekse soldate betowerend as hulle in hulle wit geplooide rokke dansmarsjeer. Ek het die siel van ’n sigeuner wat saam met die sirkus oor die bult wil verdwyn. Ek wil toer en leer tot ek omval.

Oor die einde

Ons het al baie oor Alzheimersiekte gelees, maar jy kan jou nooit indink watter monster van ’n siekte dit werklik is nie. Dit het my ma verinneweer totdat sy soos ’n verslae, maer kind in ’n traliebed gelê en huil het. Dit is ’n vreemde, oorweldigende gedagte as jy besef jy betree iemand se laaste fase. My grootste emosie was dat ek ongelooflik bevoorreg was om die vrou wat die lewe aan my en my twee broers geskenk het, na haar einde te begelei.