Yster slyp yster, vriende vorm mekaar

0
112
friends.png
  1. Wens jy soms jy het iemand in jou lewe wat jy genoeg kan vertrou om jou die waarheid te vertel – selfs oor jou gewig?
  2. Wens jy jy ken iemand wat jou tot twee-uur in die oggend sal kom help met jou probleem?
  3. Het jy ’n begeerte om iemand te hê wat saam met jou kan bid oor enigiets – van jou huwelik tot jou kleintyddroom?
  4. Het jy “eeue laas” tyd gemaak om saam met iemand te lag, koek te bak, te sing, te sweet én geestelik te groei daardeur?
  5. Kort daar iemand in jou lewe wat jou inspireer tot ’n beter lewe?
     

“Enigiemand wat jou nader aan God bring, is jou beste vriend.
ANONIEM

Vandag het ek weer nodig gehad dat iemand wat self getroud is vir my ’n paar moeilike vrae beantwoord oor prioriteite en skuldgevoelens, wat ek kan doen om my man se las ligter te maak en die krag van my gebede. Ek stap weg na ons kuier; geïnspireerd asof iemand my ’n openbaring gegee het …

Dís vriendskap. Saam met daai selfde vriendin kan ek menige koppie rooibos tee en creamy chocs geniet terwyl ons plat op die vloer 300 kaartjies vou vir ’n funksie, etensure in my dressing room deur bid vir ons vriende wat nog nie die Here ken nie, en die treadmill flou hol terwyl ons skaamteloos kompeteer vir die grootste kilojouleverbrand- telling.

Ek kan my lewe nie indink sonder haar vriendskap nie! En wat maak my vriendskappe vir my so besonder kosbaar?

vriendskap bevraagteken en toets

 

Ek glo aan ’n oop en eerlike lewe. Sondes wat in die kop gebeur, is partymaal baie erger as dié wat in werklikheid gedoen word, omdat niemand dit kan sien nie! Jy kan dit dus wegsteek of verbloem. Ek wil dit na die lig bring, waar dit getoets kan word.

Vandaar my begeerte vir ’n vriendin wat die moeilike vrae sal vra, wat my motiewe kan toets, iemand wat die waarheid op die woord af gee (nie altyd sag op die oor nie), wat my erns met Jesus en ’n koninkrykslewe verstaan en my accountable sal hou van so ’n lewe.

My vriendin kan nie my sondes vergewe deur na hulle te luister nie, maar sy kan saam met my bid, my herinner aan dit wat die Woord sê en praktiese raad uit haar eie lewe deel oor hoe sy dit voorkom, oorkom en bemeester.

vriendskap skaaf en skuur

Ek het my eenders-denkende vriende en hulle hou my op koers, maar daar lê nog goeie oefening in vriendskap met iemand wat anders as ek dink, glo en toepas – ’n goeie Christen vriendin vir wie ek my lewe sal aflê, maar haar toepassing van God se Woord verskil van myne. Dit, asook ware vriendskap met iemand anders wat nog nie die Here ken nie, stretch my en maak seker ek boks nie Jesus in ’n “Lindie-shape” nie.

vriendskap is geen kennis of bediening

Maak jou los van die allemansvriend-effort. Jy kan nie. In elk geval nie sinvol nie. Tref onderskeid oor wie speel watter rol in jou lewe, dan weet jy waar jy staan.

’n Kennis is oppervlakkig. Hulle bespreek enigiets van die weer tot die Pick ’n Pay specials.

’n Bediening is moeite, dalk selfs dreinerend, maar dit voel bykans altyd soos jou TV-lisensie (“die regte ding om te doen”). Daar is nie noodwendig iets in dit vir jou nie.

Vriendskap is wedersyds, spontaan, inspirerend, dienend en opbouend. Dit gee rigting, raad en wysheid. Dit lag en huil saam, en ken en daag uit.

In kort, ’n kennis en ’n bediening is opsioneel, maar vriendskap is essensieel! Geniet jy die voorreg en waarde daarvan in jou lewe?

Om jou vriendskap te verryk …

  • Kry vir jou ’n accountability partner. ’n Vriendin met wie jy jou drome en doelwitte kan deel en wie jy vertrou om jou op koers te hou.
  • Begin by oppervlakkige sake soos oefenprogramme en stokperdjies as jy glad nie die konsep ken nie of nog nie heeltemal gemaklik daarmee is nie. Iets soos: “Ek wil in die volgende maand drie keer ’n week gym, leer kitaar speel en meer tuin maak. Hou my asseblief accountable.” Mettertyd, soos julle ’n vertrouensband bou, sal julle ook die “moeiliker” onderwerpe kan deel en vir mekaar daarvoor kan bid.
  • Reël ’n kuier vir ten minste een keer ’n maand waar julle gesels oor julle vordering en nuwe uitdagings. (Accountability se waarde lê egter in die “ekstra gewete” wat meer gereeld as een keer ’n maand moet funksioneer – dalk weekliks via sms of e-pos.)
  • Hou ’n joernaal van julle kuiers. Dit is altyd interessant om daarop terug te kyk.