Zelda la Grange: “Ek wil nie kinders hê nie.”

0
177
zelda_le_grange.jpg

Op Saterdag 23 November sal Zelda la Grange en duisende ander mans en vroue die Sisters with Blisters wedloop aanpak. Sy vertel ook hoekom sy nooit sal kinders hê nie, en dat sy ’n motorfiets-freak is.

Hoekom is jy betrokke by Sisters with Blisters?

Ek is beskermvrou van die die First for Women Trust, wat die wedloop aanbied in samewerking met Jakaranda FM. Dit bied vir my ’n platform om geweld teen vroue en kinders te bekamp. Ek is passievol om ’n verskil te maak. Uit die verlede moet ons leer! Kyk hoeveel mense moes doodgaan aan VIGS voordat die publiek wakker geskrik het. Een uit 3 vroue sal met geweld te doen kry. Een uit 9 rapporteer dit. Hoe ver moet dit gaan voor dit met jou of iemand naby jou gebeur? Ons moet wakker word! Hierdie wedloop fokus op die bekamping van geweld teenoor vroue en kinders, en dis waarom ek dit ondersteun.

As jy dan so passievol is oor vroue en kinders, waarom wil jy nie self ’n ma wees nie?

Nee, ek wil nie kinders hê nie. Al trou ek nou met my droomman, is dit nie op my lysie nie. Deel daarvan is die hele kwessie rondom die veiligheid van ons kinders in Suid-Afrika. Hoe sal ek hulle ooit kan beskerm en kan seker maak dat iemand nie my dogter mishandel of verkrag nie. Of dat my seun nie dit aan ’n vrou doen eendag nie! Nee wat … Ek is mal oor my peetkind en sy kuier gereeld by my, maar ek is heeltemal te veel van ’n linkerbrein mens. Ek sal my letterlik doodbekommer as ek kinders het.

Jy voel ook dat die samelewing baie onnodige druk op vroue plaas Zelda, wat mishandeling kan vererger?

Ja dit is jammer dat ons almal swig onder die druk van die samelewing. Ons dink ons moet trou na skool of universiteit en dan moet ons ’n huis koop en honde en dan moet ons kinders hê. En so gaan dit aan. Ek dink as meisies gemaklik raak met hulleself en besef dat hulle iets beteken sonder ’n man aan hulle sy, is hulle al halfpad daar. Vir my is dit beter om gelukkig alleen te wees as om ongelukkig getroud te wees. Soveel girls trou net omdat hulle dink niemand anders gaan hulle ooit weer liefhê nie. En dan trou hulle met die verkeerde persoon. Dalk selfs met iemand wat hulle later mishandel. Dis bog! Dis oukei om single te wees en dis oukei om nie kinders te hê nie. Almal se paadjies hoef mos nie dieselfde te loop nie.

Ken jy iemand wat mishandel is?

Ja ek het ’n vriendin wat baie erg mishandel is deur haar man. Ekself was al in emosionele abusive verhoudings. Emosionele mishandeling is die begin van groter mishandeling. As hy vir jou sê om nie iets aan te trek nie of nie met hierdie of daardie persoon te praat nie, het hy waarskynlik ’n issue met beheer en later kan dit handuit ruk, en kan daar geweld wees. Emosionele seerplekke op jou hart los groter scars. Dit breek jou selfbeeld af.

Ek was al twee keer in sulke verhoudings – in my vroeë 30’s en die ander verhouding was nie baie lank terug nie. Nou het ek al geleer. Ek sou dit in die verlede gelos het. Maar nou trek ek ’n streep. As iemand my afknou of my afkraak, weet ek dis nie ’n gesonde situasie nie, en sal ek die verhouding beëindig.

Wat is die rooiligte?

Sjoe daar is ’n hele paar. Die algemeenste is wanneer ’n man jou wil beheer. Wanneer hy jou die hele tyd op-check, wil weet waar jy is en saam met wie en jou nie toelaat om met sekere mense te praat nie. Wanneer hy met ander woorde oorbesitlik is en jou nie vertrou nie. Nog iets is dat hierdie mans jou afkraak of met hulle woorde seermaak. Natuurlik is enige fisiese vorm van geweld al ’n aanduiding dat dinge te ver gegaan het.

Goed, terug na die Sisters with Blisters wedloop. Hoeveel kilometer stap jy die jaar?

Ek dink die 8 km en ek vat my twee honde saam! Dan ook genoeg water en goeie geselskap. Gewoonlik stap ek saam met Jakaranda se mense. Maar niemand moet dink ek gaan met stiletto’s stap nie. Ek loop in tekkies of plakkies!

Is jy ’n skoen-meisie?

Nee glad nie! My skoengeld, handsakgeld en skoolfonds gaan alles in motorfietse in. In my garage is daar 3 pare handskoene en 5 valhelms en 5 baadjies wat ek moet verkoop. Ek het ’n BMW padfiets en geniet die oop pad ongelooflik. Tog is ek baie versigtig wanneer ek ry. Ek ry nooit in die donker nie en nooit as ek alkohol gebruik het nie. Nie eers een glas wyn nie. En as dit reën freak ek heeltemal uit. Want ek probeer die hele tyd (met my ooraktiewe linkerbrein) uit-figure hoe die fiets se wiele op die pad bly wanneer die teer so nat is, en wat gebeur wanneer ek om ’n draai gaan en en en …!

In wie se skoene wil jy nie op die oomblik wees nie?

Beslis Angie Motshekga, die minister van Basiese Onderwys. Sy het ’n massiewe taak om die gemors in skole op te klaar.

En in wie se skoene wil jy graag wees?

Mmmm … Angelina Jolie! Dit kan mos net lekker wees as Brad Pitt sy skoene onder jou bed inskop!

Sterkte met die wedloop Zelda, en dankie dat jy ’n verskil maak! Ek glo dat daar baie van ons lesers Saterdag sal wees.