Zelda la Grange gesels oor Madiba

0
79
zelda_le_grange_1.jpg

Een van die min mense wat die wêreld se grootste ikoon beter geken het as selfs sy getrouste ondersteuners is Zelda la Grange. Sy vertel wat Madiba vir haar beteken het, en wat sy by hom geleer het.

Jy was nog op skool toe Nelson Mandela in die tronk was. Wat het jy geweet voordat jy die werk aanvaar het?

In 1988, toe ek matriek geskryf het, was Madiba nog in die Victor Verster-gevangenis, maar ek was onbewus daarvan. Al wat ek geweet het was dat hierdie man die eerste swart President was. In daardie stadium was ek eintlik ’n ondersteuner van Chief Mangosuthu Buthelezi. Ek het eendag ’n optog in die straat gesien en trots gevoel op dié mense wat juigend in hul tradisionele Zoeloeklere getoi-toi het. Ek het dit fassinerend gevind. In elke Afrikaan gebeur daar mos iets binne-in jou as jy die geslaan van dromme hoor.

Toe het ek gedink dat met die ANC aan bewind, dinge baie duister was vir witmense in Suid-Afrika. Ek het nie gedink ek sou ’n leeftyd vir Madiba werk nie, net ’n paar jaar op die meeste. Maar iets wat my ouers my geleer het, het die verskil gemaak: maak nie saak watter beroep jy volg nie, jy moet trots wees daarop en so hard moontlik werk. Dis dus die uitgangspunt waarmee ek die werk aanvaar het.

Wat het Madiba jou geleer en hoe inspireer hy jou?

nelson.jpgBehandel enige persoon met dieselfde respek waarmee jy behandel wil word. Hoe jy ’n persoon benader, sal bepaal hoe die persoon teenoor jou optree. Iemand anders se tyd is van onskatbare waarde, nes jou eie. Daarom, as iemand bereid is om tyd aan jou te bestee, waardeer en respekteer dit en moénie laat wees nie, want dis ’n aanduiding dat jy dink jou tyd is belangriker.

As jy ’n persoon se integriteit bevraagteken, is dit eintlik ’n refleksie van jou eie (dis seker die belangrikste). Hy het my ook geleer om my groente te eet en gereeld te oefen (ek’s ernstig). As daar ’n moeilike dag is of as dinge gekompliseerd raak, dan dink ek altyd hoe Madiba na die probleem sou kyk. Dan probeer ek dit op so ’n manier benader dat ’n kompromie bereik kan word tot almal se voordeel.

Hy het soveel van homself gegee dat, wanneer ek begin kla, ek myself herinner hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Ek het ook ’n baie goeie en waardevolle verhouding met die voorsitter van die Mandela Foundation, prof. Jakes Gerwel en sy familie. Dis soos my eie en hy is altyd daar om te luister en raad te gee. Ek bid ook want ek kan op geen ander plek krag kry vir al die uitdagings nie. Madiba het nie baie af dae gehad nie. Me. Machel was sy anker en ek het seker gemaak dat dinge rondom hom in orde was sodat dit nie ekstra druk op hom geplaas het nie.

Ons het vir hom baie liefde gegee, iets wat regtig maklik was. Eintlik is liefde al wat hy nodig gehad het. Dis was vir my baie oulik dat wanneer hy siek was, hy nie sou sê, “I am ill” nie. Hy sou sê, “We are ill”. Hy was baie dierbaar. Madiba was ’n vreeslike terggees en ek ook. So as hy skerts het ek altyd ’n slim antwoord vir hom gehad en hy het dit baie geniet (met die nodige respek natuurlik).

Dan was daar groot oomblikke wat ek met hom kon deel. Soos toe ons die 2010-sokkerbod gewen het. Hy het soveel van sy persoonlike energie daarvoor opgeoffer dat ek blyer vir hom persoonlik was. Dan is daar ook oomblikke wat vir ander mense na klein oomblikke sal lyk – om ’n skool te open waar kinders voorheen 40 km per dag skool toe en terug moes loop, was ’n absolute hoogtepunt.

Ons het egter ook al lelik vasgesit, selfs oor die politiek. Maar dit maak nie saak hoe kwaad Madiba vir ’n mens geword het nie, hy het nooit ’n grief gehou nie. Hy sou vyf minute na ’n geskil weer sy vriendelike self gewees het en voorgee of niks gebeur het nie. Ek het by hom geleer dat dit aanvaarbaar is om te verskil, solank die verskille nooit persoonlik raak nie.

Van sy hartseerste oomblikke was defnitief toe Walter Sisulu oorlede is en sy seun, Makgatho. Daar is nog baie herinnerings tussen ons wat ek graag vir myself wil bewaar. Een van my gelukkigste dae was toe hy my in 1999 gevra het om saam met hom af te tree. Ek was ongelooflik geëerd dat hy my, iemand met soveel eenvoud, foute en tekortkomings, tog ’n kans wou gee.

Hoe het jou werk saam met Madiba jou verander?

Die ondervinding het my ’n baie ryper mens gemaak. Emosioneel is ek verryk en ek het insig en mensekennis gekry wat vir my van onskatbare waarde is. Die werk het my egter ook ’n inherente siniese mens gemaak. Ek het al elke truuk in die boek gesien. Ek was nie voor in die ry toe geduld uitgedeel is nie, maar om een of ander rede het ek die wêreld se geduld met Madiba gehad, al was hy hoe oud. Ek dink daarom dat hy my verdraagsaamheid geleer het.

My waardesisteem is gebaseer op my Christelike beginsels. Ek haat rassisme en sal tot ek doodgaan dit met alles in my beveg. Ek glo aan eerlikheid, opregtheid, respek, waardigheid, nederigheid, eenvoud en lojaliteit. Dis die waardes waarop ek my lewe lei. Twee mense uit twee heeltemal verskillende wêrelde, maar met gedeelde waardes wat hulle aan mekaar bind.

 

FINESSE Oktober 2006