[OUDIO] Onthou die waarde van jou eie voorbeeld

Jou kinders leer altyd die heel beste uit jóú voorbeeld. Stel elke dag die regte een en ontgin hulle identiteit so ten volle.

Daardie gesegde “Apie sien, Apie doen” is so waar. Veral as dit jou eie klein “Apies” is, net die soort sonder ’n stert. Van kleins af is jy jou baba se alles. Ogies hou jou dop en hoe ouer hulle word hoe meer verander hulle in ’n spons. Absorbeer alles om hulle.

Jy is hulle verwysingsraamwerk waarna hulle opkyk. Letterlik opkyk in die meeste gevalle, maar wat van wanneer hulle “afkyk” na jou? Die waarheid is: ons is hulle voorbeeld. Vir die eerste en belangrikste deel van hulle lewe in elk geval.

Dit hang van jou af of hulle later in hulle meer volwasse lewe op- of afkyk na jou. Leer hulle van reg en verkeerd: ’n mens doen die regte ding wanneer jy onseker is. Daar is ’n rede hoekom ’n mens gewoonlik eers ná skool, universiteit en jou jongmenslewe ’n ma word.

Volwassenheid berei jou voor om ’n beter rolmodel vir jou kinders te wees, deur hulle te help om moontlike lewensfoute te vermy wat jy gemaak het. Kinders grootmaak is nie kinderspeletjies nie.

Werk regtig aan jouself wanneer jy kinders het. Jy stuur nou klein wesentjies die wrede wêreld in met dit wat jy hulle geleer het as wapenrusting. Wat jy doen, of selfs níe doen nie, spreek die hardste.

Praat tot jy uitasem is en tree altyd op soos wat jy wil hê hulle moet optree. Iewers sal dit vassteek. Kinders grootmaak wat as gelukkige, gebalanseerde individue die lewe betree, is ’n tawwe, onbetaalde werk wat jou plooie en grys hare gee.

Al maak dit jou oud voor jou tyd, laat dit terselfdertyd oneindige liefde deur jou are borrel en jou onwillekeurig lag van lekkerkry.

Deel die oudio
Scroll to Top