[Oudio] Ja vir nuuskierige agies grootmaak – Carla Lang, redakteur en skrywer

Is jou nuuskierige kinders se vrae uitputtend? Lees op oor dit wat hulle wil weet. So leer jy iets nuuts en help jou kind goed ontwikkel.

Dis ons plig as ouers om ons kinders se ingebore nuuskierigheid aan te wakker. Die vlam van kreatiwiteit, leergierigheid en ontwikkeling stook.

Dis moeilik om geduldig te bly. Boonop het baie van ons grootgeword met “nuuskierige agies verbrand hulle magies”. Of “van nuuskierigheid is die tronk vol en die kerk leeg”.

Maar verduidelikings is nie net belangrik omdat dit kinders leer hoe die wêreld werk nie, maar dit brei ook woordeskat uit en ontwikkel emosionele volwassenheid. Verder leer hulle om nie tweedimensioneel na dinge te kyk nie, maar verskeie perspektiewe te kan insien.

Dit verbeter ook jou verhouding met jou kind.

Kinders moet kan krities dink. En om dit te doen, moet hulle die vrymoedigheid hê om baie vrae te vra. Hulle moet voorsien word met behoorlike, soms herhaaldelike, verduidelikings.

Feitelike vrae soos: “Hoekom is die sterre so ver?” of “Hoekom is die son so skerp?”, is belangrik. As ons die tyd vat om op te lees en te verduidelik, leer die kind meer oor die wêreld om hom. Partykeer leer ons ook iets.

As daar ’n onderwerp is waarin jou kind belangstel, oorweeg ’n relevante feiteboek. Bestudeer dit geduldig saam met hom of haar. Julle kan selfs gaan gesels met ’n kundige op die gebied.

Die internet is ook ’n opsie. Ons is gelukkig om maklike toegang tot ’n verskeidenheid van bronne te hê. Ouers het eintlik geen verskoning om nie behoorlike verduidelikings te voorsien nie.

Kom ons maak dit ons prioriteit om ons kinders se vrae so deeglik as moontlik te beantwoord.

Deel die oudio
Scroll to Top