[OUDIO] ’n Lewe van volheid en oorvloed begin by selfontdekking

Geen teleurstellings, mislukkings of verwerping kan jou daarvan weerhou om ’n lewe van volheid en oorvloed te leef nie. ’n Beter lewe begin by jou. 

Ons kla dikwels oor die ongeregtigheid in die wêreld. Ons opper vrese en misnoeë oor alles wat verkeerd is en hoe ver dit tekort skiet van ons ideale. Die waarheid is egter dat ’n beter lewe en ’n beter toekoms nie daar ver in die wye wêreld te vinde is nie. Dit begin by jouself.  

Selfverwyt, selfkritiek, klagtes en teleurstellings help nie om jou nader aan ’n beter lewe te bring nie. Dit motiveer jou nie om beter te doen nie. Eers wanneer jy waarlik jouself liefhet en aanvaar, kan jy begin groei, verander en diegene na aan jou, help.  

Selfliefde is nie noodwendig ’n borrelbad, sjokolade en wyn, of om TV-reekse te kettingkyk nie. Dit is eerder die wete dat jy die keuse en verantwoordelikheid het om die beste besluite vir jou eie lewe te neem. 

Daar is dinge wat totaal buite jou beheer is. Daar is kritiese situasies wat jy wel beheer oor kan uitoefen. Die gevolg is dat dit vir jou ’n beter lewe sal verseker. 

Jy is nie ’n slagoffer van die lewe nie, maar ’n kragtige, kreatiewe en unieke wese. Jy het die keuse en vermoë om die standaard van jou lewe te bepaal. Die gehalte van jou lewe begin met ’n beter self-verhouding.  

Dit begin wanneer jy werklik jouself deur jou Skepper se oë sien en glo dat jy in en deur liefde gebore is. Wanneer jy glo dat jy waardig en waardevol is. Dat jy geroep en bestem is om uitdrukking te gee aan Sy karakter en natuur.  

Daardeur kan jy genade vir jouself, geduld met jouself en vergifnis aan jouself verleen. Jy kan jou verhouding met jouself verbeter. 

Deel die oudio
Scroll to Top