[Oudio] Sien eerder geleenthede as verskonings raak

’n Mens kan maklik in ’n gedragspatroon verval van verskonings uitdink. Onderskei tussen wat binne en buite jou beheer is om geleenthede raak te sien.

Verskonings het die volgende impak: Jy raak goed daarin om altyd redes te sien waarom iets nie moontlik is nie. Jy plaas alle mag buite jouself en weier om aanspreeklikheid te neem. Vrees hou jou terug, maar jy noem jouself ’n “realis”.

Jy raak verstrengel in ’n ingesteldheid van probleme en tekortkominge. Dit voel of jou lewe geen doel het nie. Jy verloor hoop.

Jou liggaam begin die impak daarvan voel … chroniese moegheid of selfs emosionele uitputting.

Wat as dit anders kon wees? Wat as jy met die lewe kon dans? As jy jou vrese kon laat gaan en jou verskonings kon stilmaak? As jou hele wese net die sterre bokant jou kon gewaar omdat die dak wawyd oop is?

Indien jy eerder jou sienswyse wil verander om die lewe se geleenthede raak te sien, kan jy die volgende doen: Wees eerlik met jouself – die waarheid van jou situasie, jou emosies en jou denke.

Oordink jou situasie op ’n verantwoordelike wyse. Onderskei tussen wat binne en wat buite jou beheer is. Onthou dat jou denke, jou gemoed en jou emosies ten volle binne jou beheer is. Die wêreld om jou – en dit sluit ander mense se gedrag en keuses in – is buite jou beheer.

Jy kan egter steeds kies hoe jy jouself daardeur laat beïnvloed. Dit is waar jou mag lê. Wanneer jy jou eie mag om besluite te neem werklik besef, kan jy jou fokus verskuif. Dink eerder wat jy kan leer, wen, sien en voel wanneer jy geleenthede aangryp.

Deel die oudio
Scroll to Top