Alle ma’s doen nie outomaties die hele tyd alles foutloos nie. Goeie ouerskap word aangeleer en ontwikkel soos jou kind groei. Kry hulp as jy sukkel.
Dikwels erken ons as ouers nie ons foute wat ons kinders betref nie. Kyk hoe vinnig spring jy op jou perdjie as jou man, ’n vriendin of selfs jou eie ma uitwys wat jy as ouer verkeerd doen.
Dit is moeilik om ons eie foute raak te sien en te erken. Eindelik maak dit van jou ’n beter mamma.
Moenie maak of jy as ouer perfek is nie. Spesifiseer vandag jou foute in plaas daarvan om blindelings verby dit te kyk. As eerste-keer-ouer kan dit ’n groot uitdaging wees om kinders groot te maak. Snaaks genoeg hardloop ons eerste na daai mense toe vir raad wat ons so dikwels aanspreek oor ons kinders se opvoeding.
Het jy ook ’n oneindige lang lys in jou hart van al die foute wat jy soms maak? In vandag se moderne lewe is daar nie iets soos ’n perfekte mamma nie. Ek sê baie kere vir myself: Leandra, jy is die perfekte mamma vir jou driejarige dogtertjie.
As mamma in wording leer God my steeds daagliks hoe om ma te wees en hierdie rol te vervul.
Foute deel ek graag, want daar is baie mammas wat net soos ek voel. Een fout wat ek soms maak, is om my dogtertjie te onderskat. Te dink sy sien nie nou al sekere dinge raak of besef dit nie. Sy is mos nog nie op dieselfde bladsy as ek nie.
Tog hoor en neem die klein mensies elke dag waar sonder dat ons dit besef. Kyk bietjie hoe luister en prosesseer kinders inligting wanneer jy ’n gesprek met jou man of vriendin het. My driejarige antwoord soms selfs terug in die gesprek.