Bou ’n hegte band met jou kind

hegte band met jou kind

As jou kinders groter word, beweeg hulle ’n bietjie verder weg van jou. Hoe sorg jy dat daar ’n stewige band van liefde tussen julle bly?

Dr. Rodney Seale sê: “Die belangrikste vraag wat jou kind permanent op die brein het, is: ‘Is julle lief vir my?’ Om dit te sê is nie genoeg nie. Jou optrede dra altyd die meeste gewig.”

Verstaan eers mooi wat dit beteken om te luister

Woorde is welkom, maar vir kinders is aksie belangriker. Jou kind word baie meer beïnvloed deur jou optrede as jou woorde. Dis net wanneer jy jou volle aandag gee dat jou kind voel hy is spesiaal. Daarom is dit belangrik dat jy nooit, ooit jou selfbeheersing moet verloor nie. As jy oorreageer, onbeheersd gil en dinge sê waaroor jy later gaan spyt wees, verloor jy haar respek.

Jou tiener gaan dikwels net ’n skimp gooi dat sy jou liefde en aandag nodig het. Sy mag dalk sommer oor iets oppervlakkig begin praat. Sy is besig om tyd te wen en haar pad oop te voel om oor iets belangriker te praat.

Wees geduldig. Gee haar die tyd wat sy nodig het om by die punt uit te kom. Luister aktief.

Kyk na haar lyftaal, vra vrae, gee terugvoer, bly objektief. So sal jy agterkom wat sy eintlik probeer sê. En ook wat sy nié sê nie.

Maak dan die reëls en hou daarby!

Onthou, jy is nie jou kind se pêl nie. Jy is nie sy speelmaat nie. Jy is ook nie sy bediende nie. Jy het meer ondervinding en beter oordeel – gebruik dit reg! Aanvaar maar die feit dat kinders wel die grense wat jy stel, gaan probeer oorsteek.

Maak daardie reëls baie streng. Namate jou kind volwasse word en wys sy kan vertrou word, kan jy die leisels skietgee. Daar mag dalk ’n tydelike gemor en gebrom wees, maar sy sal mettertyd agterkom dat jy regtig omgee en sal jou daarvoor respekteer.

Bly kalm en konsekwent. Straf as hulle die reëls oortree – moenie dit oorsien nie. Maar gee ook positiewe terugvoer as jy hulle “vang” dat hulle iets goeds doen.

Respekteer elke kind se unieke persoonlikheid

Jy moet jou kind goed ken. Wees betrokke by haar lewe en bring baie tyd saam met haar deur. Help haar om goed oor haarself te voel en leer om haar te aanvaar vir wie sy is. As sy nie aan jou drome en verwagtings voldoen nie, moet jy dalk jou drome ’n bietjie aanpas!

Miskien is sy nie die beste presteerder of die een wat altyd betyds is nie. Miskien is sy net ’n vrolike siel wat vir ander plesier verskaf. Jou seun het dalk vreeslik galante maniere en trek jou vriendinne se stoele vir hulle uit. Of pluk elke dag vir jou ’n blom. Waardeer daardie spesiale eienskappe.

Ons wil almal hê ons kinders moet suksesvol wees, maar wees eerlik: Daar is waarskynlik twee redes: Jy wil hê hy moet ’n goeie lewe hê en jy wil soos ’n goeie ouer lyk. Jy behoort egter jou kind ’n goeie lewe toe te wens omdat jy vir hom lief is.

Hopelik kan jou kinders later met waardering terugdink aan die gelukkige tye saam met die gesin. Die grootste pluimpie is natuurlik as hulle dieselfde met hulle kinders doen!

 

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA