Van net-net oorleef tot waarlik lééf

313

Hartswonde is onsigbaar vir die wêreld. Genesing daarvan lê in die feit dat jy oorleef het, want jy kan kies om te begin leef, sê ALMARIE DU PREEZ.

Almarie du PreezHelder oordag ry ek rustig werk toe. Wat volgende gebeur, lyk soos ’n toneel uit ’n aksiefilm. Teen 120 km/h gly my kar, tol deur die lug en rol herhaaldelik voor dit op sy dak tot stilstand kom.

Te midde van geskokte omstanders se ongeloof klim ek in een stuk uit die wrak. ’n Piepklein litteken is al wat ek oorhou van daardie fratsongeluk.

“Julle sal vir my gips moet aansit, anders gaan die mense nooit glo wat gebeur het nie,” skerts ek met die dokter.

Kom ons wees nou maar eerlik. ’n Uiterlike wond met steke, verbande en kneusplekke lyk erger as onopsigtelike inwendige beserings.

Dit is net so met diep, emosionele pyn. Dit is onsigbaar vir ander. Daar is geen fisiese tekens nie. ’n Mens kan sê jy het seer ná ’n verbrokkelde huwelik, emosionele mishandeling of die dood van ’n kind. Maar hoe wys jy die ware uitwerking van wonde wat jy self nie eens kan sien nie?

Vir ander lyk jy gesond, terwyl jy dalk binnekant besig is om te bloei. Mense sien nie jou onvermoë om te konsentreer, die onwillekeurige terugflitse na die trauma, emosionele afgestomptheid, skuldgevoelens of eensaamheid nie.

Dit is logies dat hierdie seer baie ongesond is vir jou liggaam en gees. Dit kan selfs dodelik wees. Daar is wonderlike hulpmiddels soos terapie, leesstof en medikasie, maar selfs met al hierdie dinge is genesing van diep emosionele pyn ’n uitdaging.

Elkeen herstel op haar eie manier. Miskien laat dit by jou ook net ’n klein litteken, maar miskien vereis dit iets drasties soos ’n hartoorplanting.

Genesing is ongelukkig nie gewaarborg nie, maar een ding is seker: Die feit dat jy nog bestaan, beteken jy het die emosionele pyn oorleef. Om te oorleef het jou dalk baie gekos, maar jy is nog hier!

Maar die lewe gaan voort. Hoe pak ’n vrou elke dag aan as sy binne voel sy bloei dood?

Jy begin deur jouself toe te laat om te voel. Pluk die masker van voorgee af, hou op vlug na verslawings en kyk die realiteit in die oë. Stop alles wat die pyn tydelik verlig en besluit om jou unieke pad van genesing aan te durf.

Luister na jou liggaam se unieke behoeftes en gee dit alleentyd, rus of die kans om ordentlik te huil as dit daarna vra. Raak selektief met wie jy jou omring en stel grense vir dié wat jou welstand bedreig.

Die lewe is onregverdig. Jy het nie beheer oor alles en almal nie en is ook nie gevrywaar van toekomstige seer nie. Maak vrede daarmee. En sê dankie dat hierdie ondervinding jou bewus gemaak het van en waardering gebring het vir alles wat werklik kosbaar is.

Koester jou geloof deur genoeg tyd saam met die Vader deur te bring. Genesing lê in die feit dat jy reeds oorleef het en nou weer kan kies om waarlik te begin lééf!

’n Boek wat jóú lewe sal verander!

“Elke vrou loop met ’n stukkie verwerping, verwaarlosing en seer rond. Sommige groter as ander, sommige al ’n bietjie gesonder as ander. Nou is die tyd dat jy jou seer heelmaak en die wêreld in die oë kyk!” –Anri Powell, eienaar Ace Models

“Pyn en verlies kan ons hard maak. Wanneer ons egter die Here innooi, gebeur die teendeel: Ons raak sagter, met ’n diep begrip en fyn aanvoeling vir ander se pyn. Wie wil jý word?” –Greta Müller, leraar NG Kerk, Moreletapark

Nou is die tyd boek Koop die boek NÓÚ IS DIE TYD aanlyn by voelgoedboeke.co.za.

R104 R149

Ook beskikbaar as ’n e-boek R99 R139.