Voel jy jy kan net nie meer byhou nie, omdat jy te besig is? Ongelukkig? Dit is belangrik dat ons positief moet wees ten spyte van ons besige lewe.
’n Positiewe instelling en gedagtes bring ’n gelukkige lewe
Besef jy dat ons gedagtes (brein) en ons liggaam onlosmaaklik aanmekaar verbonde is? Elke gedagte het ’n fisieke invloed op jou liggaam.
Wanneer jy negatief voel (dinge is te veel), gee dit aanleiding tot negatiewe emosies en skei jy die streshormoon, kortisol, af. Dit laat jou nie net moeg voel nie, dit verswak jou konsentrasie, jy vergeet, gee aanleiding tot angs en depressie, verswak jou oordeel en kan selfs die geheuesentrum van jou brein vernietig.
Meer nog, vyf minute van negatiwiteit het ’n ses-uurlange negatiewe invloed op jou immuunsisteem en jy word gouer siek. Asof dit nie genoeg is nie, beïnvloed jy ander mense, binne ’n radius van drie meter van jou af, negatief binne 2–16 minute! Sjoe!
Is daar ’n oplossing? ’n Positiewe instelling en gedagtes bring geluk weer terug in jou lewe ten spyte van omstandighede! (Romeine 12:2). Ons weet nou dat positiewe emosies wat jy genereer wanneer jy gelukkig is, belangrike hormone in jou liggaam afskei wat jou nie net gesonder maak en stres verminder nie, maar jou ook langer gaan laat lewe.
’n Bewys hiervan is die navorsing wat op positiewe en negatiewe nonne gedoen is: Op 85 het 90% van die positiewe nonne nog gelewe, en slegs 34% van die negatiewes; op 94 was dit 54% van die positiewe nonne en 11% van die negatiewes.
Verstaan jy dus waarom dit so belangrik is dat ons positief moet wees ten spyte van ons besige lewe? Is dit waarom die navorsing wys dat gelukkige mense die lewe beter hanteer? Die Bybel het dit alreeds in Johannes 10:10 gesê dat die mens ’n gelukkige lewe moet lei.
Lei ’n lewe vol geluk, ten spyte van besigwees
Goeie nuus! Navorsing in die velde van emosionele intelligensie, positiewe sielkunde en neurowetenskap gee eenvoudige aktiwiteite wat ons kan doen om ’n gelukkige lewe te lei, ten spyte van besigwees!
Hierdie aktiwiteite is:
- Positiewe ratio: Maak seker dat jy vir elke negatiewe ding wat jy vir jouself sê, ten minste drie positiewe dinge sê. Jy het nou gesien as jy gelukkig is, word daar positiewe hormone in jou liggaam afgeskei wat jou gesonder maak en meer energie gee.
- Dankbaarheid: Sit tyd opsy om elke dag aan drie dinge te dink waarvoor jy dankbaar is. Seligman, ’n psigiater, het depressiewe pasiënte vir drie weke lank elke dag net aan drie dinge laat dink waarvoor hulle dankbaar is. Die resultaat: 94% se depressie het afgeneem. Wissel hierdie drie dinge elke dag af, anders word jy daaraan gewoond en verloor die effek daarvan.
- Neuroplastisiteit en positiewe stellings: Elke gedagte wat aanhoudend deur jou brein gaan, verander die bedrading van jou brein. As jy dus konstant vir jouself sê “ek is te besig”, bedraad jy daardie neurone van “als is oorweldigend” in jou brein en die liggaam reageer met negatiewe hormone. Jy bly moeg en ongelukkig. Dus, bedraad jou brein positief elke oggend, en sê: “Ek is ’n gelukkige mens en ontspanne, net goeie goed sal vandag met my gebeur.”
- Hart-koherensie: Sit elke dag stil tussen 3–5 minute en haal diep asem: ses tellings in, hou in vir twee tellings, blaas vir sewe tellings uit.
- Glimlag: Baie depressiewe pasiënte gebruik Prozac met die bestanddeel serotonien. Wanneer jy glimlag, skei jy jou eie serotonien af!
- Werk aan goeie verhoudings: Dit maak jou gelukkiger, gesonder en jy leef langer!