Ek het deur die jare ’n paar kosbare lesse geleer wat my help om, ten spyte van ’n besige lewe, ’n kwaliteit lewe te lei. Ek deel dit graag met jou.
God gee rus ten spyte van ’n gejaagde lewe
’n Fotograaf was eenkeer besig om skoolfoto’s van Graad Eentjies te neem. “Wat gaan jy wees as jy groot is?” vra hy vir ’n dogtertjie. “Moeg!” antwoord sy. Sy het hoogs waarskynlik die woorde gereeld by haar ouers en ander grootmense gehoor.
Ja, baie mense sê hulle kan nie meer die pas waarteen ons vandag leef, volhou nie; hulle voel uitgebrand en is moeg vir besigwees. Ek worstel self steeds met die besigwees-monster.
Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28). Hy sê nie Hy gaan al ons probleme laat verdwyn nie, nee, Hy gee ware rus ten spyte van ’n gejaagde lewe. By Hom vind ek kalmte in my binneste al het ek baie hooi op my vurk.
Het jy geweet die term burnout beteken letterlik “om sonder brandstof te wees”? As jy die langpad aandurf met jou kar sonder om petrol in te gooi, gaan jou kar beslis staan. So brand ons ook uit as ons net voort stoomroller sonder om tyd te maak vir God! Wanneer die Heilige Gees in ons woon, gee Hy vir ons stille krag en vrede om druk te hanteer.
Hoe moet ek tyd maak vir stiltetyd in my besige dag? Moenie God in jou besige dagboek probeer inpas nie, beplan jou dagboek rondom Hom.
Jy is na Sy beeld geskep. In Genesis staan daar dat ek en jy na God se beeld geskep is; ons het dus die vermoë om keuses te kan maak. Tyd is deesdae ons kosbaarste kommoditeit; kies om dit reg te bestuur. Werk slimmer, gejaagdheid lei nie tot hoër effektiwiteit of beter resultate nie.
Gryp elke dag aan en leef voluit
Ons is besig, ons omstandighede gaan nie sommer verander nie. Ons moet dus verander; ons moet kies om tyd te maak vir God, vir mekaar en vir dinge wat ewigheidswaarde het!
Multitask is ’n mite. In Psalm 90:12 staan daar: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom …” Ons hou ons dikwels besig met dinge wat baie tyd in beslag neem, maar nie werklik waarde inhou nie. Begin elke dag deur God te vra om jou te help om jou dag met wysheid te gebruik, om jou te help fokus op dit wat belangrik is!
Leef intensioneel en aspris: ek wil jou uitdaag om elke oomblik aandagtig te leef: proe die lewe, ruik die vars lug, kyk in jou geliefdes se oë, neem die oomblik in! Ek glo God wil hê ons moet elke dag aangryp en voluit leef.
Wat definieer jou? Ek sien nou die dag ’n motor met die nommerplaat “Geseënd”. Dit het my laat wonder: Hoe dink ons oor seën?
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek ware seën is ’n gesonde en gelukkige gesin, die eenvoud van die lewe. Vra jouself: “Gaan dit wat ek nou doen saak maak oor tien jaar?”
Ons werk hard om meer geld te verdien, maar dan ly ons gesondheid daaronder en moet ons daardie einste geld waarvoor ons so hard gewerk het op mediese onkoste spandeer. Vind jou waarde in Christus, nie in waar jy bly, wat jy kry en wat jy ry nie!
Mag hierdie paar wenke jou gejaagde hart kalm maak, mag jy God se vrede beleef!