Die geheim om jou drome en ambisies te bereik, is om te kies om nooit moed op te gee nie en om nou vir jou sukses te begin beplan.
Neem die tyd om ‘n plan te maak
Toe ons in 2000 tot 2012 in Nieu-Seeland gewoon het, het ons elke drie jaar ons familie en vriende in Suid-Afrika besoek. Ons was geskok om te sien hoe baie van hulle hulself begin verwaarloos het en nie behoorlik eet en oefening doen nie, wat daartoe gelei het dat hulle oorgewig en onfiks geword het.
As ons hulle sou vra waarom hulle nie oefen of behoorlik eet nie, was die algemene reaksie: “Ek het nie die tyd nie!” Hulle sal dan verder verduidelik dat hulle te besig is met werk en nie tyd beskikbaar het vir enigiets anders nie.
Ons het almal dieselfde 24 uur van die dag om te spandeer. Sodra jy dit gebruik het, is dit verby, en dit hang grootliks van jou af hoe jy dit gebruik.
Maak nie saak wat jy in die lewe bereik of wat gebeur nie, dit is byna altyd die gevolg van keuses wat jy in die verlede gemaak het. Dit is ons keuses, goed én sleg, wat gelei het tot waar ons vandag is. Verandering is ’n geleidelike proses wat ’n dag op ’n slag plaasvind, en die goeie nuus is dat jy nou weer kan begin.
Die meeste van die goeie dinge in die lewe gebeur nie net per geluk of is bloot toevallig nie. Jy sal baie struikelblokke en probleme in jou lewe teëkom – dit is net normaal! Maar die geheim om jou drome en ambisies te bereik, is om hierdie probleme te oorkom deur te kies om nooit moed op te gee nie en om nou vir jou sukses te begin beplan.
Beplanning gee jou beheer van jou lewe
Ek het die fout gemaak om “die kers aan beide kante te brand”, lang ure te werk ten koste van tyd saam met my familie en God en om gereeld te oefen. Ek het uitgebrand as gevolg van hierdie lang ure, en dit onder die voorwendsel dat ek voorsiening maak vir my gesin.
Ek het daardie belangrik werk-leef balans verloor, en nie geweet wanneer om op te hou nie. Spreuke 23:4 beveel dat ons onsself nie moet uitput om ryk te word nie, maar moet weet wanneer om op te hou. Moenie jouself oorwerk om ryk te word nie, laat jou eie insigte jou laat ophou!
Daar word gesê kinders spel liefde as “TYD”. Ek is dankbaar vir goddelike vriende wat my herinner om verantwoording vir my tyd te doen, sodat ek nie weer die fout maak nie.
Hier is ’n mooi gesegde van Goethe wat dit goed opsom: “Die dinge wat die meeste saakmaak, moet nooit aan die genade van die dinge wat die minste saakmaak, oorgelaat word nie.”
So, die volgende keer wat jy in die versoeking is om te sê: “Ek het nie tyd nie”, maak seker jy beplan en doen eerste die dinge wat God bo alles eer. Dit is wat Jesus bedoel het in Mattheus 6:33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Dit gaan daaroor om pro-aktief te wees, om beduidende beheer van jou eie lewe en ontwikkeling te hê, met ander woorde plaas jouself in beheer.