“Die wese van die hemel is nie hoe dit daar lyk en wat ons daar gaan doen nie, maar dat ons by God gaan wees,” sê pastoor en kerkleier DR. ISAK BURGER.
Die hemel is meer as net ’n mooi plek
Mense het verskillende persepsies en perspektiewe oor die hemel. Daar is selfs grappies dat ons soos engele op die wolke sal sit en harp speel. Of dat ons heeldag kerk gaan hou en voortdurend lofliedere gaan sing.
Ons moenie dink oor wat ons in die hemel gaan doen en hoe dit daar gaan lyk nie. Hoewel die Bybel ons heelwat inligting gee oor hoe die hemel gaan lyk – ’n wonderlike plek wat nie in mensewoorde behoorlik beskryf kan word nie – is dit nie die belangrikste nie.
Die belangrikheid, die essensie van die hemel, is dat ons by God sal wees. Ek dink nie dat ons ooit ten diepste sal besef wat dit sal beteken om God te sien nie.
Die twee persone van wie ons in die Nuwe Testament lees, wat wel iets van die ander kant beleef het, was al twee ademloos.
Paulus, in 2 Korintiërs 12:1-4, vertel dat hy na die derde hemel in die paradys weggeruk is. Hy het dinge gehoor wat hy nie kan vertel nie. Dis te wonderlik om oor te vertel.
Johannes, die apostel wat die boek van Openbaring geskryf het, is deur die Gees as’t ware ’n voorskou van die hemel gegee. In Openbaring 4:2 beskryf hy waar hy by die poort van die hemel deur die Here Jesus ingelei word, en hy sê: Ek het ’n troon gesien en Een wat daarop sit.
Hy is nie in staat om God te beskryf nie. Hy beskryf dit as “die Een wat daarop sit”. Dan sê hy net dat Sy voorkoms was soos dié van die edelmetale opaal, karneool en smarag. Hy kan nie eens God se aangesig en God se teenwoordigheid beskryf nie. Hy was daar en hy het dit gesien, maar dit was vir hom onbeskryflik.
In die hemel sal ons by God wees
In Openbaring 22:4 staan daar: Ons sal Sy aangesig sien. Dít is wat die hemel die hemel gaan maak.
Al sou die hemel lyk soos die Sahara-woestyn, as God daar is, sal dit nog hemel wees. Al sou die hemel lyk soos dit wat die beste verbeelding kan optower, as God nie daar is nie, sal dit nie die hemel wees nie.
Net om by Hom te wees, in Sy aangesig en Sy teenwoordigheid, gaan alles ’n nuwe betekenis kry.
Mense wil dikwels weet waar die hemel is. Die hemel is ’n plek, maar nie noodwendig ’n plek op ’n ander planeet of ’n ander sonnestelsel nie. Die hemel is in ’n ander dimensie.
Ons moet besef daar is iets soos ’n geestesdimensie wat net so ’n werklikheid is soos die fisieke dimensie waarin ons nou leef.
In die wêreld het ons vyf sintuie waarmee ons kan waarneem, maar die Bybel is baie duidelik – daar is ook ’n ander dimensie.
Elisa se dienskneg, toe hulle in Dotan deur die Aramese leër omring was, het gesê: My heer, wat gaan ons doen? Elisa het vir die Here gebid: Here, open sy oë dat hy kan sien.
Toe sien hy meteens in die geesteswêreld ’n leër van vuurwaens en perde wat rondom Dotan se berg geleë was. Wat hy nie andersins sou sien nie, het hy vir ’n oomblik ’n blik van die geesteswêreld gekry (2 Konings 6:17-18).
Dieselfde met die verheerliking op die berg, toe Jesus saam met drie van sy dissipels op die berg was. Meteens was Elia en Moses in hulle verheerlikte hoedanigheid by Hom op die berg. Die dissipels het vir ’n stonde ’n insig gekry in hierdie ander dimensie, in hierdie geesteswêreld (Markus 9:2-8).
Die hemel is ’n plek van vrede en rus
Die geesteswêreld is nie ʼn figuurlike wêreld nie. Dis ’n werklike, letterlike wêreld in ’n ander dimensie wat ons nie met ons vyf sintuie kan waarneem nie.
Dis waarom Stefanus terwyl hy sterwend was onder die klippereën wat op hom val, Jesus sien staan aan die regterkant van die Vader (Handelinge 7:54-60).
Wanneer mense sterf, breek hulle deur ’n soort dimensionele skeiding tussen die hier en die hierna, na die geestesdimensie.
Daar is wonderlike verhale van mense op hulle sterfbed, wanneer hulle daardie dimensionele oorgang na die ander kant maak. Hoewel hulle hart miskien nog klop, en hulle breingolwe miskien nog werk, beleef hulle reeds iets van die ander kant.
My oortuiging is dat mense dweep nie op hulle sterfbed nie, mense speel nie speletjies op hulle sterfbed nie. Wat mense daar beleef is eg en werklik.
Gewoonlik is daar ’n verskil te sien by die gelowige. Ek het ’n tyd gelede met ’n verpleegsuster gepraat wat in ’n hoë-sorgeenheid van ’n hospitaal gewerk het waar sy gereeld mense sien sterf het. Sy het my gesê, in die meeste gevalle, kan jy sien dat ’n gelowige anders as ’n ongelowige sterf. Daar is iets van die vrede, iets van die rus van God, wat by ’n gelowige is wanneer hulle sterf.
Ons gaan nie as onbekendes aan die ander kant kom nie. Jy gaan die Here Jesus herken, dit weet ons uit die Bybel. Jy gaan jou geliefdes herken. Jy gaan nie ’n vreemdeling wees nie. Jou geliefdes wat in Christus gesterf het, gaan daar wees.
Al is daar onsekerheid en miskien ’n tikkie bangheid by jou, as jy glo in God en jy glo in Jesus Christus, laat jou hart nie ontsteld word nie. Daar is ’n huis waar daar baie woonplek is.