Dit lyk of geen uitdaging VANES-MARI DU TOIT bang maak nie. Of dit in die raadsaal van ’n korporatiewe maatskappy is of om ’n berg uit te klim, sy floreer!
Jy het onlangs ’n wêreldrekord opgestel vir die hoogste swem in die Himalajas.
Toe ek gevra is om op die ekspedisie te gaan, het alles in my gesê nee. Onder geen omstandighede nie. Dit is te gevaarlik. Ek is nie ’n bergklimmer of ’n swemmer nie.
Ek het die aand daaroor gebid, maar eintlik klaar besluit om dit nie te doen nie.
Die volgende oggend, toe ek my Bybel oopmaak, het ek by my gunstelingvers, Efesiërs 3:20, oopgemaak.
Dit sê jy is tot alles in staat deur God wat jou krag gee. Almal ken die vers. Ek het gedink die Here wil vir my iets anders sê en het verder geblaai. Tot dit soos koue water oor my gespoel het.
Dalk is dit presies wat die Here vir my wil sê. Om te sê, Vanes, jy kan nie net die vers lees en vir mense aanmoedig om buite hulle gemaksone te lewe, en dit self nie doen nie.
Ek kon nie skynheilig wees nie. Ek kon nie daarmee saamleef dat ek iemand is wat dit sê, maar wanneer die geleentheid oor my pad kom, dit nie self doen nie.
Ek het die oproep gemaak en laat weet dat ek in is. Ek was verskriklik bang.
Ek het ook intussen geleer jy kan nie in vrees en geloof loop nie. Dit is die een of die ander. Dit is waardevolle lesse wat ek geleer het, en ek is so dankbaar ek het dit gedoen.
Hierdie was ’n baie groot uitdaging – moontlike sneeustorms, wind en ysige koue, moeilike paadjies. Hoe het die gesprekke in jou kop geklink voordat jy die berg uitgeklim het?
Voordat ek oorgegaan het, was dit omtrent die grootste kopskuif wat ek moes maak. Om te weet dat ek myself gaan blootstel aan hierdie ekstreme kondisies waarvoor ek glad nie gekondisioneer is nie.
Ek het vrede gemaak met die dood. Ek het voor die tyd amper al my goedjies wat ek gespaar het vir “eendag” oopgemaak en geniet.
’n Baie goeie bottel wyn wat ek gehou het vir ’n spesiale geleentheid, is oopgemaak. Ek het van my duur truffelolie gebruik en ontbyt gemaak. Ek het ’n duur bottel whiskey saam met my familie gedrink.
Toe ek op die lughawe kom, het ek my familie gegroet, huilend, asof ek hulle nooit weer gaan sien nie, want dit was die realiteit.
As jy so blootgestel word aan hierdie kopskuif, dan leef jy anders. Jy hanteer mense anders. Jy groet mense anders, jy sê wat jy wil sê.
Jy maak vrede met dit waarmee jy vrede moet maak. Hoekom moet ’n mens eers in so ’n situasie wees voordat jy die lewe werklik begin geniet en waardeer? Hoekom moet ons eers met die dood gekonfronteer word, voordat ons voluit begin lewe.
Vir elke liewe treë wat ek gegee het, was ek dankbaar dat ek nog daar was en nie ernstige beserings opgedoen het nie.
Ek het wel my lae rug seer gemaak en dit was verskriklik pynlik. Ek het nie geweet of ek die ekspedisie sal kan voltooi nie. Ek het besef ek kan net doen wat ek kan doen in daardie oomblik.
Ek kon hitte opsit, pynmedikasie drink, probeer strek, maar verder moes ek oorgee. Ek moes die Here vertrou om daar te wees vir my, en Hy was.
Elke tree na bo was taai. Jy sien die berg en dit lyk so ver. Maar jy kan net beheer wat jy kan beheer. Ek was dankbaar om nog te leef en dit te kan doen, om die natuurskoon te beleef en hierdie pad met die Here te stap, in geloof en nie in vrees nie.
Die elemente was uitdagend. Dit was ysig koud, ons het rotsstortings beleef, daar was grondverskuiwings, baie nou paadjies wat ons teen hoogtes moes uitklim.
Daar was sneeu, glibberige oppervlaktes, min suurstof en gate waarin ’n mens kon val. Ek het baie gegly en op my agterstewe beland.
Daar was kere waar ek nie geweet het of ek dit gaan kan doen nie, maar ek moes my geloof en vertroue in God plaas.
Julle het die wêreldrekord gebreek. Wat is die grootste lewensles wat jy uit hierdie ervaring geleer het?
Ek het soveel waardevolle lesse geleer. Hierdie berg is ’n metafoor vir soveel goed. Om uit jou gemaksone te leef, lyk vir almal anders.
Vir party mense is dit om net op te staan en te glimlag. Almal se gemaksones en grense lê op verskillende plekke. Dit kan klein take wees, dag tot dag.
Ek het ook geleer dat daar geen reguit paaie na bo is nie. Daar is altyd ’n kronkelpad. Dit vat tyd en tree vir tree.
Soms moet jy ’n stop, asem haal en dan weer verder gaan.
Moenie te hard op jouself wees nie.
Jy het al saam met haaie geduik, valskerm gespring en die Himalajas uitgeklim … Is daar enigiets wat jou bang maak en wat doen jy om jou vrese te oorkom?
Vrees is ’n unieke konsep. Ek het nog altyd ’n vrees gehad vir die dood. Ek was bang oor my familie en vriende, en selfs my eie dood, maar dit is deel van die lewe.
As ek in vrees vir die dood loop, hoe kan ek in geloof loop? Geloof is soveel sterker as vrees.
Vrees is ’n manier vir die duiwel om jou geluk te steel. As jy vreesbevange is, ontneem jy jouself van geluk.
Ek kies om in geloof te loop. Om een voet voor die ander te sit is ’n geloofsoortuiging. Dit is ’n besluit om aan te hou vorentoe gaan, in geloof, in positiwiteit en in gelukkigheid.
Ek het gevalskerm gespring omdat ek ’n vrees vir hoogtes gehad het. Ek wou nie toelaat dat daardie vrees my beheer nie. Daar is niks om te vrees as jy die Here in jou hart het nie.
Het jou grootwordjare enige rol gespeel in jou dryf om jou potensiaal te ontwikkel?
My grootwordjare het ’n groot impak op my gehad. My ouers is geskei toe ek vier jaar oud was. My pa was op die grens en my ma moes alleen twee kinders grootmaak.
Dit was moeilik vir my pa om aan te pas sonder enige ondersteuning. Ons het ’n groot vergifnisproses deurgegaan, en vandag is ek en my pa baie na aan mekaar. Hy help my geestelik en het my groot gedoop voordat ek my reis aangepak het.
My ma het twee kinders grootgemaak met die salaris van ’n motorverkoper. Sy het my die waarde van geld geleer en hoe om te spaar.
Sy is ’n absolute go-getter en ek is trots op haar. Sy is positief en borrelend, ongeag alles wat met haar gebeur het.
By albei my ouers het ek waardevolle lewenslesse geleer. Ek is dankbaar vir die slegte tye, want dit motiveer my om nooit terug te gaan nie en om die goeie tye meer te waardeer. Ek glo niks gebeur toevallig nie; alles het ’n rede en ’n doel.
Wat beskou jy as die “grootste fout” wat jy tot dusver in jou lewe gemaak het, en hoe het jou geloof jou hierdeur gedra?
Dit vat baie om te erken as jy ’n fout gemaak het. Ek vra altyd vergifnis, want dit maak jou vry. Ek het al baie foute gemaak, maar ek het geen spyt nie.
Ek glo alles gebeur met ’n doel. Ek bid vir onderskeid en wysheid wanneer ek besluite maak.
Ek het baie foute gemaak, maar ek glo dit is waar ek die meeste geleer het. Jy leer hoe om vergifnis te vra en in dankbaarheid te loop.
Foute is geleenthede om te groei en te leer. Ek is dankbaar vir al die foute en die lesse wat ek geleer het, want ek glo die Here laat alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet.
Deel ’n insident waar jy jou tong wou afbyt nadat jy gesê het wat jy gesê het.
Ek is dikwels verbaas oor wat by my mond uitkom. Ek sê ’n ding en dink dan later daaroor omdat ek eerlik is en my hart op my mou dra.
Ek sê dinge soos dit is en hou nie daarvan om voor te gee nie. Ek wil realisties wees en die dood in die oë kyk. Ek wil weet dat ek 100% eg was en niemand anders probeer wees het nie.
Ek hou daarvan om net myself te wees en trots te wees.
Watter raad het jy vir jong vroue vir wie jy ’n rolmodel is
Elke vrou en jong meisie het hulle eie berge om te klim en hulle eie manier om situasies te hanteer.
Teleurstelling, terugslae, negatiwiteit, skinder en oordeel is onvermydelik.
Ons almal gaan daardeur en jy is nie alleen nie. Maak vrede daarmee en leer die lesse wat dit bied.
Moenie toelaat dat die duiwel jou geluk steel nie. Gebruik negatiewe ervarings as geleenthede om te groei.
Ek sien nou teleurstellings as geleenthede om uit my gemaksone te kom en te groei.
Reik uit na iemand toe wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan. Maak jou Bybel oop en bid; die Here is daar vir jou en wil hê jy moet die beste weergawe van jouself wees.