Hoor

Kleintyd het ek gedink, as ek een van my sintuie moet verloor en ek kan kies, sal dit my gehoor wees. Want, het ek gedink, om nie te kan sien nie, moet verskriklik wees.

En om nie lekker kos te kan proe en ruik nie, moet ‘n straf wees. En om nie aan mense te kan vat nie, sal vir my geel geaardheid ‘n straf wees.

As jy doof is kan jy darem nog kar bestuur en op jou eie oor die weg kom. En daar is altyd gehoorapparate en operasies wat jou kan help. Dis soos bril dra, het ek gedink.

Ek het onthou van ‘n vriend van my oupa wat op sy sewentigste verjaardag ‘n gehoorapparaat by sy kinders gekry het. Na ‘n week het hy dit teruggegee. Vir die kinders het hy gesê dit akkordeer nie met hom nie – maar ons het almal geweet dat die tannie se gekerm tóé vir die eerste keer vir hom hoorbaar was. Hy was beter af met die stilte en vrede om hom.

Omdat ek soms verlang na stilte, het ek gedink dat doofheid nie te erg kan wees nie. Ek het in my onkunde nie gedink aan musiek en al die wonderlike klanke van die natuur wat ek sou mis nie. Ek het ook nie besef dat doofheid met ‘n pynlike uitdaging kom nie – vereensaming en isolasie.

Dit moet verskriklik wees om nie met mense te kan praat nie, om nie sonder moeite te kan kommunikeer nie, om niemand te kan bel nie. Dink net aan die frustrasies van dowe mense wat in ‘n winkel vir iets probeer vra. Dink hoe hierdie gebrek jou selfbeeld en selfvertroue moet aantas. Ek het dit al ervaar wanneer ek by ouer mense kuier, veral dié wat nooit leer liplees het nie. Hulle raak eensaam, selfs tussen mense.

Dis nie soos brildra nie, het ek besef. Ek sal nie sonder my ore kan klaarkom nie. Dankie, dankie, dankie Here dat ek kan hoor!

Vorige artikelWat is die mens dat U aan hom dink
Volgende artikelVerloor van die eie ek
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.