[VIDEO] LIESEL KRAUSE-WIID – Ontdek hoe uitreik vrede kan gee 

LIESEL KRAUSE-WIID se betrokkenheid by welsynaksies weerspieël haar liefde, vrygewigheid en geloof. Deur deernis en omgee maak sy daagliks ’n verskil. 

Die Bybel sê dit is lekkerder om te gee as om te ontvang, en dit is werklik die waarheid.  

Mense vra dikwels hoe hulle meer gelukkig kan wees. Die antwoord is eenvoudig: Reik uit na ander; gee om vir hulle; maak ’n verskil in mense se lewens. Dit gee jou die kosbare geskenk van ware vreugde en diep innerlike vrede. 

Ek dink mense met die grootste behoefte aan deernis en omgee is behoeftige kinders en bejaardes, wat my baie na aan die hart lê.  

Ek probeer gereeld uitreik na hulle, al weet ek ons is almal besig. Jy werk hard om die pot aan die kook te hou en jou gesin moet natuurlik eerste kom, maar probeer tog as gesin saam uit te reik na diegene in nood rondom jou. 

Wanneer ek welsynsaksies doen, neem ek my kinders saam. Dit is besonder voordelig vir hulle en vir julle as gesin om saam betrokke te raak. Dit gee jou kinders ’n breër perspektief op die wêreld wanneer hulle besef hoeveel hulle het om voor dankbaar te wees. 

Hulle besef hoe bevoorreg hulle is, en dit doen iets besonders aan ’n mens as gesin wanneer julle saam betrokke is by welsyn en saam ’n verskil maak. Dit kan selfs in jou onmiddellike omgewing wees – jy hoef regtig nie ver te gaan nie, en dit hoef nie altyd geld of baie tyd te wees nie. 

Jy kan iemand vriendelik groet, ’n boemelaar menswaardig laat voel deur opreg te vra hoe dit gaan. Jy kan ook bid vir mense in nood. 

Deel hierdie inhoud:

Meer Video's

Scroll to Top