Marciel Hopkins

Leef met waagmoed en streef na ontwikkeling 

“Ons kan nie sê ons wil ’n groot lewe lei en groot drome hê, maar te bang wees om net een tree buite ons gemaksone te neem nie,” sê lewensafrigter MARCIEL HOPKINS. 

Pak die lewe met dissipline en waagmoed aan 

As ons praat van selfdissipline, dink jy waarskynlik aan reg eet en reg oefen, maar selfdissipline is soveel groter. Selfdissipline is gelykstaande aan selfrespek en selfliefde. 

Wanneer jy sê jy wil graag iets doen, of graag iets bereik, en jy doen dit nie, is dit asof jy ...

“Ons kan nie sê ons wil ’n groot lewe lei en groot drome hê, maar te bang wees om net een tree buite ons gemaksone te neem nie,” sê lewensafrigter MARCIEL HOPKINS. 

Pak die lewe met dissipline en waagmoed aan 

As ons praat van selfdissipline, dink jy waarskynlik aan reg eet en reg oefen, maar selfdissipline is soveel groter. Selfdissipline is gelykstaande aan selfrespek en selfliefde. 

Wanneer jy sê jy wil graag iets doen, of graag iets bereik, en jy doen dit nie, is dit asof jy nie jouself respekteer nie. Jy het ’n visie en ’n doel gehad, maar net handdoek ingegooi. 

Ek dink baie keer terug aan Mej. SA en die 14 kilogram wat ek in vier maande verloor het. Dit was 100% selfdissipline.  

Ek het al baie vroue gehad wat vra: Wat was die geheim?  

Dit was net harde werk. Ek was toegewyd. 

Wat ek wel van my Mej. SA-reis kan sê, is ek sou tot vandag toe spyt gewees het as ek nie minstens probeer het nie. Ek dink daar is min dinge in die lewe so hartseer soos om eendag op die ouetehuis se stoep te sit en te sê: Ek wou nog so graag … 

Ek wil eendag kan terugsit en sê: Ek het ’n vol lewe gelei. Daar was baie teleurstellings en miskien het ek goed aangepak wat glad nie vir my uitgewerk het nie, maar ten minste kan ek sê ek het probeer. 

As jy vind dat jy iemand is wat altyd verskonings maak, of dalk selfs ’n bietjie saboteer, lê die verantwoordelikheid ook by jou om te gaan werk aan die beperkings wat jy vir jouself stel. 

Dit is nie die Here se visie vir ons om uit ’n plek van vrees te leef en keuses te maak nie. Hy wil nie hê ons moet bang wees nie. Inteendeel, Hy wil hê ons moet die lewe met waagmoed aanpak. 

Voel die vrees en doen dit in elk geval 

Wie ek is en hoe ek gekom het waar ek is, is nie omdat ek lucky was nie. Dit was nie omdat dinge in my skoot geval het nie. Niemand het my in ’n winkelsentrum raakgesien nie en gesê: Jy moet ’n model word.

Inteendeel, ek het studeer. Geleer. Ek het vir honderde oudisies gegaan. Ek het baie doelbewuste keuses gemaak om te wees waar ek vandag is.

As jy waagmoed het en jy daardie groot tree buite jou gemaksone neem, gaan God jou dubbel en dwars seën en bederf.

As jy vir my tien jaar terug gesê het ek gaan in die industrie wees waar ek vandag is, sou ek jou nie geglo het nie. Dit het egter van my vereis om baie keuses te maak wat my met tye baie bang gemaak het.

’n Jaar terug het ek ’n oudisie vir ’n groot internasionale reeks afgelê, wat in Kaapstad geskiet sou word. Ek moes ’n Amerikaanse aksent onder die knie kry. Daar was verskriklik baie woorde wat ek moes leer, en dit was moeilike woorde. Ek het twee nagte omtrent nie geslaap nie. Ek was slaggereed vir die oudisie.

Die dag toe ek voor die internasionale vervaardigers en hul kamera staan, het ek gevoel ek gaan naar word. My bene was soos jellie. Ek het gevoel as ek opstaan, gaan ek omval, maar ek het steeds my oudisie afgelê.

As ek nie het nie, het ek nooit ’n kans gestaan nie. Hulle sou nooit geweet ek wil daardie rol hê nie. Dit is ’n metafoor van die lewe ook: Ons moet dikwels in die lewe vrees voel, en dit is oukei.

Moenie bang wees om kanse te waag nie 

Daar is ’n mite dat as iets jou bang maak, dit nie die regte ding is nie. Ek dink as iets jou bang maak, is dit juis ’n goeie teken. Dit beteken jy is besig om groot te droom. Jy is besig om uit jou gemaksone te beweeg.

Dit is dikwels vir my rigtingaanwysers om te dink: Wat maak my bang?

Ek wil jou aanmoedig om so vreesloos moontlik te wees as dit kom by die keuses wat jy vir jou lewe moet maak. Hoe meer waagmoed jy het, hoe meer bederf en hoe meer vrugte gaan jy aan die einde van die dag pluk.

Teen die einde van jou lewe moet jy kan sê: Ek was vrek bang om party goed in my lewe te doen, maar ek het. Sommige van dit het vir my gewerk en ander het nie.

Probeer ten minste. Dalk kry jy nie die kans nie, maar dalk sien iemand jou raak, en sê oor ’n paar maande: Ek dink daar is ’n ander rol vir jou. Kom terug.

Dit is hoe die lewe ook werk as jy opdaag en sê: Hier is ek. Hier is wat ek wil hê. Hier is wat ek wil bereik.

Die harde werk wat jy ingesit het, sal iewers na jou toe terugkom.

Ons moet die lewe geniet. Die Here wil vir ons vreugde en vrede hê sodat ons die lewe ten volle kan geniet. Te dikwels staan ons vrees in die pad daarvan.

Deel die artikel

Méér artikels

“Die wese van die hemel is nie hoe dit daar lyk en wat ons daar gaan doen nie, maar dat ons by God gaan wees,” ...

Scroll to Top