Die grootste uitdagings in die lewe kan jou met lesse van onskatbare waarde seën. Om die positiewe te vind, is belangriker as die sukses daarna.
Die ironie van die lewe is dat ons grootste lesse soms wonderbaarlik as struikelblokke vermom is. Die dinge wat jou hart breek, maak dikwels jou oë oop.
Die keuses wat ons maak, bepaal ons ervarings later in die lewe. ’n Pa het twee seuns. Een kies byvoorbeeld om tyd saam met sy pa te spandeer wanneer hy in die motorhuis aan die karre werk. Dié seun bou kennis op oor hoe om sy eie motor eendag in stand te hou.
Wanneer sy motor langs die pad gaan staan, weet hy waar om vir die fout te begin soek. Die ander seun toon nie belangstelling in die kennis wat sy pa aan hom wil oordra nie. Wanneer sy motor probleme gee, moet hy langs die pad staan en wag tot iemand hom kom help.
Geloof werk ook so. Wanneer ons meer tyd saam met ons Hemelse Vader spandeer, leer ons meer. Ons raak wyser. Ons kan makliker ons geloofslesse gebruik om die moeilike dinge wat oor ons pad kom, beter te hanteer.
Jakobus praat oor die doeners van die Woord. Hy verduidelik die belangrikheid om doeners van die Woord te wees en nie net hoorders nie. Jakobus sê dat onbesmette godsdiens voor God onder andere beteken om “jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld”.
Mense probeer dikwels hierdie opdrag met menslike energie uitvoer.
Dit lei tot ’n ewige stryd tussen klein oorwinnings gevolg deur talle mislukkings. Menslike energie is nie ewigdurend nie. Daarom lei pogings gebaseer hierop uiteindelik tot ’n doodloopstraat.