[OUDIO] Vind jou balans en gewigsverlies sal volg

Gewigsverlies vereis ’n balans van verskeie dinge. Dinge wat jy moet beoefen en gewoontes van maak. Ook dinge wat jy moet aanvaar en vrede mee moet maak.

Die meeste vroue is die een of ander tyd ontevrede met hoe hulle liggame lyk. Hulle hou nie van wat die skaal sê, of hoe daardie gunstelingdenim oor hulle boude sit nie. Dit is ’n alewige stryd om die heeltyd gelukkig te wees met hoe jy lyk.

Aanvaar dit net, jy gaan nooit die heeltyd tevrede wees nie. Jou liggaam verander te veel en te gereeld. Party dae het jou lyf net bietjie meer liefde en aandag nodig. Om gewig te verloor, van oormatige vet ontslae te raak en jou spiere te versterk, verg goeie en gesonde balans.

Maak vrede met wie en wat jy is. Vergewe jouself vir alles wat jy dink jy oor die jare moes gedoen het om fiks en gesond te bly. Eers wanneer jy ophou met die verwyte kan jy regtig aan jouself verander, vir die lang termyn, en vir altyd.

Begin beweeg! Jou liggaam gaan net sterk bly oor die jare as jy gereeld oefen. Probeer ’n klomp verskillende sportsoorte om iets te kry waarvan jy hou. Of dit nou tennis, snelstap, pilates of rolbal is, dit moet vir jou lekker wees.

Hoe minder jy van ’n aktiwiteit hou, hoe skraler is die kans dat jy tyd daarvoor gaan maak. Dit is belangrik om ’n kombinasie van kardio- en kragoefeninge te doen. Onthou, jou hart is ook ’n spier en moet daarom oefening kry.

Oefen drie keer ’n week vir 30 minute op ’n slag. Jy sal beslis ’n positiewe verandering in jou krag, fiksheid, en hoe jy in jou gunstelingdenim lyk, sien.

Deel die oudio
Scroll to Top