Ervaar vrede en vreugde deur jou besige lewe aan God oor te gee. Vind rustigheid in geloof en leer hoe om te ontspan te midde van die chaos!
Vreugde, net soos liefde, staan in kontras met besig- of gejaagd-wees. Hoe meer ons teenwoordig is in die hier en nou, hoe dankbaarder is ons vir wat nou is. En dít is wanneer ons vreugde ervaar.
Plaas jou toekoms in God se hande. Laat Hom toe om jou daaglikse skedule te bestuur. God het ’n plan vir elkeen van ons. Ons kan ons sake met vertroue in Sy hande plaas.
Al wat ons het, is die hier en nou – hierdie oomblik, hierdie seer, hierdie dankbaarheid en hierdie oorgee. Hoe meer ons hierdie oomblikke stadig en met dankbaarheid oorgee aan God, hoe meer ervaar ons Sy vreugde.
Waarvoor is jy vandag dankbaar? Skryf alles neer waarvoor jy dankbaar is en dank Jesus daarvoor.
Die Hebreeuse woord vir vrede is shalom. Voel jy God se teenwoordigheid en Sy shalom wanneer jy baie besig is?
Hoe gaan jy voel en optree as jy jou vlug verpas of as jy laat is vir ’n belangrike afspraak? Die antwoord wat die meeste van ons sal gee, is dat ons eintlik gestres of geïrriteerd sal voel.
Wanneer jy ’n vertrek binnestap, is jou hart vol vrede of is dit vol angstigheid?
Onthou dat alles eintlik ’n gejaag na wind is en dat wêreldse dinge tot niks kom nie. As ons alles aanpak asof ons dit vir die Here doen, dan sal ons werke vrug dra!
Hoe gaan jy vrug dra in ’n besige wêreld? Gaan jy kies om liefde, vreugde en vrede uit te leef? Kies vandag vir God en gee jouself en jou besige skedule aan Hom oor, want Sy juk is sag en Sy las is lig.