[OUDIO] Woorde en dade kan verandering teweegbring

As jou lewe en toekomsdrome in ’n doodloopstraat beland, is dit tyd om verandering te verwelkom. Jy kan dit met jou woorde en dade teweegbring. 

Verandering raak ons op ’n persoonlike vlak, en ook in verskeie fasette van ons lewe. Vir die meeste van ons is dit onbeplan, vinnig en meestal ongemaklik. Soms sluip verandering stadig, stil-stil nader soos ’n kat wat ’n muis bekruip.

Ander kere is dit soos ’n donderstorm met wind, weerlig en hael wat neerslaan op ’n sinkplaatdak. Dit kan ons verpletter laat, soos platgeslaande bome en huislose dakke ná ’n tornado. Dit kom met spoed sonder die kans om dit te weerstaan of daarvoor te beplan.

Verandering kan egter ook beplan wees vir ’n alternatiewe en positiewe uitkoms. Ons lewe is dalk in ’n doodloopstraat met geen toekoms nie. Dan het jy die keuse om verandering teweeg te bring. Dit kan in jou eie of in iemand anders se lewe wees.

Beplande verandering bied ’n geleentheid en ’n definitiewe besluit vooraf om ’n bestaande realiteit doelbewus in ’n ander rigting te stuur. Dit vereis ’n keuse, ’n plan, dissipline en volharding om verandering te bewerkstellig.

Deel die oudio
Scroll to Top