Is jou beleggingsportefeulje belastingdoeltreffend? Aftreefondse as belastingvriendelike beleggingstrukture bied jou die geleentheid om minder belasting te betaal én verseker dat jou opbrengs belastingvry kan groei. Aftreefondse val ook buite jou boedel en is buite bereik van krediteure.
Daar is verskillende aftreefondse wat jy kan gebruik om jou beleggingsportefeulje belastingdoeltreffend te maak en jou belastinglas te verlig. Aftreefondse hou verskeie voordele en beperkinge in om jou spaargeld te beskerm.
- Ons kry hoofsaaklike vier tipes aftreefondse: uittree-annuïteite, pensioenfondse, voorsorgfondse en bewaringfondse.
- Hoe betaal jy minder belasting deur van ʼn aftreefondse gebruik te maak?
- Wat is die voorskrifte en beperkinge op beleggings in ʼn aftreefonds?
Aftreefondse as belastingvriendelike beleggingstrukture bied jou die geleentheid om minder belasting te betaal én verseker dat die opbrengs op jou beleggings binne-in hierdie strukture belastingvry kan groei. Die regering wil mense aanmoedig om te spaar en om eendag na hulself te kan omsien wanneer hulle aftree en nie meer kan werk nie. Die staat sê dus dat hy bereid is om minder belasting van jou af te neem om jou te help om meer van jou inkomste te kan spaar, sodat jy nie later in jou lewe van die staat afhanklik sal wees vir oorlewing nie. Jong mense wat nog ver van aftrede af staan is soms ongeïnteresseerd om oor aftreefondse te praat. Maar as jy van vroeg af die voordele van aftreefondse in jou beleggingsportefeulje benut, gaan jou geld langer kans kry om eksponensieel te groei en gaan jy heelwat minder belasting deur die jare betaal. So luister aandagtig, al is jy jonk, sodat jy hierdie uitstekende boublok in jou finansiële plan kan benut.