[PODSENDING] 4 Praktiese wenke om jou geld teen inflasie te beskerm

Het jy al opgelet hoe jou mandjie kruideniersware elke maand ’n bietjie duurder raak vir dieselfde hoeveelheid inkopies? Inflasie is die koers waarmee pryse styg en alles oor tyd duurder raak. Hoe kan jy jou geld teen inflasie beskerm?

Niemand kan die styging in lewenskoste vryspring nie. Volg hierdie 4 praktiese wenke om jou geld teen inflasie te beskerm. As jy jou geld slim bestuur kan jy inflasie klop en jou koopkrag oor tyd behou.

  • Inflasie is die koers waarmee pryse styg en alles duurder raak.
  • Stap 1 is om inflasie en hoe dit jou koopkrag verminder te verstaan.
  • Stap 2 is om jou persoonlike inflasiekoers te bereken deur jou begroting by te hou.
  • Stap 3 is om te verseker jou beleggings groei vinniger as jou lewenskoste.
  • Stap 4 is om seker te maak jou inkomste hou tred met jou stygende lewenskoste.

Dit is onmoontlik om inflasie heeltemal te vermy, maar jy kan jou geld só bestuur dat dit oor tyd koopkrag behou en groei. Inflasie is soos klein gaatjies in jou finansiële bande – jy merk dalk nie op dat jou bande papper raak nie, maar as jy niks daaraan doen nie, gaan jy eendag op ’n pap wiel sit. Die goeie nuus is dat jy nie magteloos hoef te voel nie. Deur eerstens bewus te wees van inflasie en die uitwerking van stygende pryse op jou persoonlike begroting, kan jy die regte besluite neem om jouself daarteen te beskerm. Maak seker jy hou jou begroting op datum sodat jy eerstens daarby kan hou en tweedens jou persoonlike inflasiekoers kan bereken. Deur saam met jou welvaartbestuurder te verseker dat jou beleggingsplan reg is en jou beleggings goed gediversifiseer is met genoegsame blootstelling aan groeibates kan jy inflasie oor die langtermyn uitpresteer en jou koopkrag en lewenstandaard behou.

Deel die oudio
Scroll to Top