Die voorkomskonsultant JOHANNI STEENKAMP het tydens die Oulike ma–bederfdag gesê sy weet nou dat sy orals genoeg is en presies is waar sy moet wees.
Die krag van ’n persoonlike verhaal van sukses
In my universiteitsjare het my ouers ná ’n huwelik van 22 jaar geskei.
Om hierdie identiteitskrisis verder te beklemtoon, was ek ’n 20-jarige rebel, en drie weke voor my LLB-eindeksamen is my dogter gebore.
Ek was 23 jaar oud en binne ’n periode van vier jaar het daar ’n hele paar bomme in my lewe afgegaan.
Ongeag die feit dat ek verloof was, het ek gekies om nie te trou nie.
In ’n familie soos my familie was my besluit om nie te trou nie geweldig ongewild, want my ouma was die voorsitter van Aksie Morele Standaarde in Suid-Afrika.
Daar is van my verwag om te trou.
Ek het gekies om ’n enkelma te wees. Ek het nie besef die swaar las wat saam met dit sou kom nie.
Deur die dag het ek my klerkskap gedoen en in die aande regskool bygewoon. Dan het ek gejaag om Milla te gaan borsvoed, sodat ek haar net gesond kan kry.
Alles sodat ek so gou moontlik as ’n prokureur toegelaat word wat geld kan verdien.
Ek het nie geweet dat ek so uitgestoot gaan voel as ’n enkelma nie.
Ek is naderhand nie meer uitgenooi na partytjies toe waarheen al my getroude vriende genooi is nie, want ek was die enigste een wat nie getroud was nie.
Ek is ook baie uitgeskuif in die kleuterskool, want ek was die jongste ma.
Ek het so ’n behoefte gehad om iewers ’n plekkie te kry waar ek kon inpas. Ek het nêrens ingepas nie.
Dit het ’n dryf in my begin wakker maak om myself te bewys. ’n Dryf in my om te bewys: Ek behoort ook, ek het ook ’n plek hier.
Jy is genoeg en presies waar jy moet wees
Ek het baie lank gewag voordat ek vir die eerste keer getroud is. Ek was 40.
Ek het altyd gedink Milla gaan ’n blommemeisie wees, maar sy was in matriek toe ek getrou het.
Deur die jare as ’n enkelma het ek geweldig baie prestasies bereik en toekennings gekry. Maar dit was omdat ek hierdie dryf gehad het om net te wys dat ek ook ’n plekkie in die son verdien. Dat ek ook net so graag aanvaar wil word.
Hierdie het my ongelukkig so ver gedryf dat ek ná ’n totale ineenstorting in die hospitaal opgeneem is.
Ek het ’n totale burnout gehad. Dit het my tot in my diepste wese geskok. Ek het besef iets moet verander.
Daar in die hospitaal het ek God herontmoet. Heeltemal gestroop van enige pretensie, van enige toekennings, het ek Hom rou en naak ontmoet.
Hy het vir my ’n vrede kom bring deur vir my te sê: Jy is genoeg.
Die Here het vir my kom sê: Jy is orals genoeg en jy is presies waar jy moet wees.
Ek was oorweldig deur die vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Daar in die hospitaal het ek God herontdek. Ek het ’n nuutgevonde selfvertroue gekry.
Ek het vir die heel eerste keer gevoel dat ek ’n stem kan wees vir die jong Johanni wat nooit namens haarself kon opstaan nie. Die Johanni wat nog nooit kon praat, of geweet het waar sy behoort nie.
“I could finally step into my power.”
Bo en behalwe dit, het ek gevoel ek kan regtig met selfvertroue praat. Ek weet ek het ’n plek en ek word gehoor.
Dit was vir my ’n ongelooflike deurbraak in my lewe.