Lewensdrama Só oorkom ek ... hartseer en moedeloosheid_result

Só oorkom ek … hartseer en moedeloosheid

LIZETTE COETZEE se sprokiesverhaal het presies op die oomblik begin toe haar wêreld in duie gestort het weens al die spanning wat sy moes verduur. Sy sou nooit kon raai dat soveel vreugde op haar sou wag nie.

Op 15 Desember van die jaar toe my derde dogter gebore is, moes ek en my kinders volgens die egskeidingsbevel uit die huis uit wees. Óns drie kinders. My maag was permanent op ’n knop en ek het gesukkel om te eet.

Ek was so kwaad vir die Here – hoe kon Hy toelaat ...

LIZETTE COETZEE se sprokiesverhaal het presies op die oomblik begin toe haar wêreld in duie gestort het weens al die spanning wat sy moes verduur. Sy sou nooit kon raai dat soveel vreugde op haar sou wag nie.

Op 15 Desember van die jaar toe my derde dogter gebore is, moes ek en my kinders volgens die egskeidingsbevel uit die huis uit wees. Óns drie kinders. My maag was permanent op ’n knop en ek het gesukkel om te eet.

Ek was so kwaad vir die Here – hoe kon Hy toelaat dat hierdie ding met my gebeur. Ongeag my woede, het Hy tog voorsien. Ek het ’n tweeslaapkamermeenthuis gekry waarin ons weer kon begin. Met niks.

Moenie moed verloor nie – ‘n nuwe begin is moontlik

Dit is hoe ek daardie dag in die supermark beland het. Met ’n vrolike, klein Kersboompie en ’n geskenkie vir elkeen sou ons op ons eie Kersfees hou.

Tussen die winkelrakke het ek gevoel hoe my gesig en ore warm raak. Ek het nog ’n tree vorentoe probeer gee, maar alles om my het dof geraak. Én toe heeltemal donker. Verder kan ek niks onthou nie.

Alles is eers uit fokus uit en word dan stadig duideliker. My mond is droog en my lyf is swak. Voor my gesig kyk die mooiste paar groen oë na my. Hy praat. Rustig en kalm. My kop voel dik en deurmekaar.

“Mevrou,” sê die man met die wit jas vir my, “jy het flou geval.” Stuk-stuk begin ek onthou. Die winkel, die pop, en toe die gesuis in my ore. Iemand het my na die spreekkamer in die sentrum gedra en dis waar ek is – by die dokter.

Dis vier dae voor Kersfees en ek is ’n wrak. Fisiek en emosioneel. Dis so vernederend. Ek wil so gou as moontlik daar wegkom en ’n pop gaan soek.

Met ’n voorskrif in die hand, en uiteindelik ook die pop, is ek huis toe. Net om uit te vind dat ek Kersdag alleen gaan wees – vir die heel eerste keer in my lewe. My kinders se pa wil hulle bederf en by hom hê.

Intussen moes ek weer dokter toe gaan vir medikasie – na die dokter met die groen oë. Drie jaar later is ek en hy getroud! Natuurlik was dit nie so eenvoudig soos wat dit nou klink nie. Aanvanklik was ek versigtig en skrikkerig, maar sy sagte manier het my hart gewen.

Bly hoop en glo, al voel jy moedeloos

Hy het van die begin af my kinders soos sy eie grootgemaak, en so drie jaar nadat ons getroud is, was dit tyd om vir ’n babatjie te probeer. Ons huwelik was vol liefde en geluk, en hy was ’n wonderlike pa – dit sou die seël op ons eenheid wees.

Ses jaar van vrugbaarheidsbehandeling en miskrame het verbygegaan. Weer het ek God bevraagteken – ons het Hom vir ’n baba gesmeek.

Toe ons eintlik reeds moed opgegee het, het ek vir ’n teken gevra. Hierdie keer was ek spesifiek – dit moes ’n duif wees. Ek het besef dat dit verwaand is om vir die Here te sê wat Hy moet doen, maar ek wou weet wat Sy planne vir ons is.

Om seker te maak ek mis nie die Here se teken nie, en ek gee Hom genoeg ruimte om dit te doen, het ek die dag afgevat. Ek het in my kar geklim en gery – en die heeltyd rondgekyk.

Daar was niks. Nêrens ’n enkele duif nie. Moedeloos het ek teen die einde van die dag in my kar geklim en teruggery.

Net voordat ek by die huis aangekom het, sit daar toe ’n klomp duiwe op die middelmannetjie. Én tussen al die grys lywe, is daar een spierwit duif. Op daardie oomblik het al die ander duiwe weggevlieg, en net die wit een het oorgebly – met sy stertvere groot oopgesprei.

’n Jaar later is ons dogtertjie gebore.

Ek en my man was onlangs vir 21 jaar getroud – die gelukkigste 21 jaar van my lewe.
Dikwels, wanneer ek dink oor hoe geseënd ek is, wonder ek wat sou gebeur het as ek nie daardie dag in die winkel was nie. Dan besef ek hoe wonderlik God se planne nog altyd vir my was.

Deel die artikel

Méér artikels

JOHANNI STEENKAMP, suksesvolle besigheidsvrou, voorkomskonsultant en prokureur, het besluit dat vrees en verwerping haar nie gaan terughou nie. Ek weet hoe ongevraagde kritiek, die vrees ...

Vriendinne moet aan mekaar se kant wees. Almal is mos uniek. Dis immers hoekom ons vriende is – om mekaar aan te vul, glo SUE ...

Scroll to Top