Ek het soveel LEWENSLESSE geleer

VANES-MARI DU TOIT – ’n Unieke pad na veelsydige sukses 

VANES-MARI DU TOIT, voormalige Proteas-netbalspeler, is nou ’n TV-aanbieder en kommentator. Sy inspireer deur geloof, lewenslesse en haar unieke pad van sukses. 

Jou skedule is propvol. As jy terugkyk op jou pad tot hier – watter een oomblik laat jou die dankbaarste voel?  

Ek is diep dankbaar om elke dag hier te kan wees. Dit bied my die geleentheid om myself met die wêreld te deel. My dankbaarheid spruit uit God se voorsiening van talryke geleenthede in my lewe. 

Elke geleentheid wat ek met albei hande aangryp, ...

VANES-MARI DU TOIT, voormalige Proteas-netbalspeler, is nou ’n TV-aanbieder en kommentator. Sy inspireer deur geloof, lewenslesse en haar unieke pad van sukses. 

Jou skedule is propvol. As jy terugkyk op jou pad tot hier – watter een oomblik laat jou die dankbaarste voel?  

Ek is diep dankbaar om elke dag hier te kan wees. Dit bied my die geleentheid om myself met die wêreld te deel. My dankbaarheid spruit uit God se voorsiening van talryke geleenthede in my lewe. 

Elke geleentheid wat ek met albei hande aangryp, vul my met opregte waardering. As ek een ervaring moet uitlig, sou dit die besondere voorreg wees om Suid-Afrika vir tien jaar op die netbalbaan te verteenwoordig.  
 

Dit was ’n ongelooflike eer om die nasie se hoop en drome op my skouers tydens internasionale kompetisies te dra. 

Die druk wat hiermee gepaard gegaan het, het my onmiskenbaar gevorm tot die mens wat ek vandag is.  

Ek waardeer die positiewe en negatiewe ervarings in my loopbaan. Sonder hierdie vormende ervarings sou ek nie kon wees wie ek vandag is nie. 

Het jy ooit getwyfel tydens jou vele uitdagings? Hoe het jy al hierdie twyfel oorkom?  

Ja, natuurlik twyfel ek in myself. Dit gebeur gereeld, maar dan besef ek dat ons as mens ’n wil, intellek en emosie het.  

Wanneer hierdie aspekte in geloof gegrond is, verminder die twyfel aansienlik. God sê herhaaldelik in die Bybel dat ons tot alles in staat is deur Sy krag. 

God wil die beste vir ons hê en wil ons sien floreer in elke aspek van ons lewens. Dit is tyd dat ons hierdie eienaarskap aanvaar en volkome in ons Godgegewe potensiaal glo. 

Twyfel en uitdagings is onvermydelik. Sodra ’n mens aanvaar dat uitdagings deel van die lewensreis is, kan jy jouself toerus. Die wete dat God jou perfek geskape het, versterk jou om enige hindernis te oorkom. 

Niks op jou pad sal jou ooit werklik onderkry nie. God het dit so beskik en beplan vir jou unieke lewensreis. Sy voorsiening is altyd voldoende vir elke uitdaging. 

Jou verhouding met jou pa was met tye wankelrig. Wat het tot jul versoening gelei?

Ek dink baie verhoudings werk nie uit soos beplan nie. Daar is verskeie faktore betrokke, maar ek is bevoorreg om ’n lang pad van versoening met my pa te kon stap.  

Oorspronklik het ons nie dieselfde waardes gedeel nie, maar my pa het nooit opgehou om ’n pa te wees nie. Hy sal ook sê dat dit ’n mooi storie vol lewenslesse is.  

Ek glo versoening en vergifnis behoort maklik te wees, want God vergewe ons daagliks vir ons sondes. Wie is ons om nie te vergewe nie? Vergifnis is die sleutel tot genesing in verhoudings wat seer gekry het. 

 
Vir my pa het dit begin by Jesus se laaste woorde: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hierdie beginsel is uiters belangrik. As jy nie jouself of diegene wat jou seergemaak het, kan vergewe nie, kan jy nie ’n gesonde pad volg nie. Die kern is verhoudings, en Jesus se voorbeeld van vergifnis is fundamenteel.  

Hy erken hy het nie altyd geweet wat om te doen nie, maar God het hom geleer deur Sy voorbeeld. 

 
Ons pad was nie maklik nie, maar dit was die moeite werd. Dankie tog vir vergifnis. 

Vertel ’n bietjie meer van jou verhouding met jou broers? 

Familie is ’n interessante konsep. Baie familie in my lewe het ek self gekies, hoewel familie dikwels Godgegewe is. Wanneer dit die geval is, maak jy die beste van die situasie deur liefde en aanvaarding te toon. 

My pa het vier kinders, ek is die oudste met drie jonger broers. My ma het twee kinders. My jongste broer is in graad 11.  

My middelste broer is tans in my sorg. Ek geniet elke oomblik daarvan om ’n ouer sussie te wees en saam met hom te groei. Hy is ’n ongelooflike jong man en tans in sy eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria.  
 

Ek is so trots op alles wat hy bereik. 

My oudste broer, Francois, is my alles en steunpilaar. Ons het ’n lang pad saamgestap, deur dik en dun. My broers is my anker en die liefde vir hulle is ongekend. Dit voel asof hulle deel van my is, asof ek hulle self gehad het. 

Ek sê altyd vir my ouers dat my boeties die beste geskenk is wat hulle vir my kon gee. 

Jy het onlangs 35 geword. Hoe het jy jou verjaardag gevier en watter emosies beleef jy as enkellopende op hierdie ouderdom?  

Ek is groot op verjaarsdae. Elke jaar maak ek ’n groot poging om in Augustus, die Vrouemaand waarin ek verjaar, fees te vier. Ek vier die feit dat ek nog hier is, geseënd, gesond en gespaar is vir nog ’n lewensjaar. 

Toe ek 35 word, was dit egter heeltemal anders. Ek wou skielik nie meer verjaar nie. Ek het besluit, hoekom moet daar vir my gesê word wanneer ek verjaar? Ek was eenvoudig nie lus om hierdie spesiale mylpaal te vier nie. 

Op 35 het dit gevoel asof die samelewing en ander se opinies my ongewoon beïnvloed het. Op hierdie ouderdom word daar dikwels gesê jou kanse om kinders te kry, verminder drasties. Hierdie realiteit het stadig by my begin insink. 

Baie van my vriende het reeds hulle tweede of derde kind en is gelukkig getroud. Ek tiek nie noodwendig al daardie boksies teen dieselfde tempo nie. My vriende het wel opgemerk: “Vanes, ons het nie hierdie suksesvolle loopbaan wat jy het nie”, of “ons het nog nie die wêreld gesien soos jy nie”.  

Dit het vir my ’n nuwe perspektief op my eie reis gegee. 

Ek wil nie my lewe meet volgens wat die samelewing verwag nie, maar volgens God se unieke plan vir my.  

Dit is dalk nie die prentjie wat ander wil hê ek moet hê nie. Dit is my eie storie, en ek voel volkome tuis daarin. 

Op 35 was daar ’n groot besef: “Suster, waar is jy, en waar wil jy wees?” En só het ek my prioriteite geherkalibreer. 

Wat is jou raad vir vroue wat druk voel om ’n tradisionele gesinslewe te hê? 

Dis uitdagend in vandag se samelewing, veral met die oorweldigende druk van sosiale media. Mense luister dikwels na wat die samelewing van hulle verwag, maar niemand is perfek nie, en elkeen het ’n unieke pad om te stap in hierdie lewe. 

As jy ore uitleen vir ander se menings oor wat jy moet doen en waar jy in die lewe moet wees, kan dit teenstrydig wees met God se heilige wil vir jou. Dit is belangrik om jou eie koers te vind en daarop te vertrou met volle geloof. 

Ek glo ons moet in ’n geestelike dimensie funksioneer waar ons weet: Ek is op die regte pad volgens God se plan vir my. As jy na die Heilige Gees luister wat deur jou innerlike gevoel met jou praat, kry jy duidelikheid oor jou roeping en bestemming. 

My raad aan vroue in hul dertigs wat nog nie getroud is of kinders het nie, en wat druk ervaar omdat almal om hulle dit wel het: Moenie na ander kyk en jouself met hulle vergelyk nie, fokus eerder op jouself en waar jý wil wees.  

Selfontdekking is noodsaaklik op hierdie reis en jou unieke pad mag heel anders lyk as ander s’n. 

Onthou, ons is almal op pad na dieselfde eindbestemming. Aan die einde maak niemand se menings of verwagtinge meer saak nie.  

Moenie jou laat beheer deur sosiale druk of ander se sienings nie – volg eerder jou eie unieke pad met God se leiding. 

Jy motiveer vroens om gesonder te leef. Wat beteken gesondheid vir jou?  

Gesondheid vir my is nie net fisiek nie, maar ook ’n geestelike, emosionele, finansiële en sosiale gebalanseerde lewe. Dit omvat alle aspekte van ons menswees en daaglikse bestaan. 

Gesondheid en sukses hang af van balans. Om balans te handhaaf het vele fasette omdat ons multidimensionele wesens is.  

Jy moet kan balanseer sonder om in uiterstes te verval, met God se wil as jou fondasie. Jou eie wil, intellek en emosies beïnvloed jou keuses en bepaal waar jou krag vandaan kom. 

Die regte keuses op die regte tyd vorm die kern van gesondheid. Hierdie keuses moet gemaak word met inagneming van al jou unieke omstandighede en persoonlike situasie. 

Niemand kan vir ’n ander voorskryf wat die regte keuse is nie – ons is almal verskillend geskape. Ons moet self ons pad uitwerk volgens eie behoeftes en waardes, en juis hierdie persoonlike reis maak die lewe werklik betekenisvol en verrykend. 

Watter drome jaag jy nog na? 

As ek my lewe moet beskryf, sal ek sê dis veelsydig. Dis moeilik om net een droom te hê. In elke aspek van my lewe wil ek groter droom en meer ambisie toon om hoër hoogtes in al my ondernemings en daaglikse uitdagings te bereik. 

Ek streef daarna om die beste TV-aanbieder, kommentator, netbalkliniek-aanbieder en motiveringspreker te wees. Bowenal wil ek in volkome ooreenstemming met God se wil vir my lewe optree en wandel. 

Ek wil graag ’n betekenisvolle verskil maak waar ek ook al gaan. Ek is meer intrinsiek as ekstrinsiek gemotiveerd – vir my gaan dit oor persoonlike verhoudings en die positiewe impak wat ek op ander se lewens kan hê. 

My uiteindelike doelwit en persoonlike lewensroeping is om, waar die Here my ook al plaas, ’n verskil te maak in die lewens van mense rondom my. 

Deel die artikel

Méér artikels

Lewensafrigter en vuurloop-instrukteur, COBUS ‘THE VIKING’ VISSER, vertel hoe hy sy beperkings oorkom het om sy drome te bewaarheid en te leef sonder spyt. Wat ...

Lisa van Niekerk, oftewel LISA MET DIE ROOI HARE, kyk verskeie werklikheidsreekse sodat ons nie hoef nie. Sy deel haar reis van Afrikaanse realiteit-TV resensies, ...

Scroll to Top