Groei gebeur buite jou gemaksone. MARTELIZE BRINK, radio-aanbieder en kookboekskrywer, is al amper 35 jaar in ’n rolstoel, maar leef elke dag met oorgawe.
Wanneer ek ’n probleem het en iemand sê ek kan nie iets doen nie, wil ek maniere vind om dit tog te kan doen. Een van ons grootste probleme in die wêreld is dat ons vashaak by hindernisse in plaas van om oplossings te soek.
Daar is net een pad en dit is vorentoe. Die lewe gaan aan en jy moet saamgaan.
Ek moet bieg, ek raak ouer en dan kry ’n mens min lus om uit die huis te gaan. Jy wil net in jou gemaksone bly en niks uitdagend ervaar nie. Dan besef ek skielik: Jy beter nou iets doen.
Ons is geneig om vas te steek waar ons gemaklik is, waar ons nie noodwendig lewendig voel nie. Jy leef nie regtig nie; jy bestaan maar net.
Ek ervaar redelik baie pyn van sit – dis onvermydelik ná amper 35 jaar in ’n rolstoel. Maar as ek by die huis bly en niks doen omdat ek pyn het nie, sal ek nooit enigiets beleef nie.
Iewers moet jy ’n gedagteverskuiwing maak: Gaan, doen dit! Jy kan later rus en jou liggaam ’n kans gee om asem te skep. Die lewe motiveer jou om te léwe.
Jou gemaksone is lekker, maar gee ’n klein treetjie buitentoe. As jy bloedrooi hoëhakskoene wou koop – doen dit! Begin eenvoudig: Stap net om die blok. Maak jou hare die kleur wat jy nog altyd wou hê. Verf pienk naellak aan. Probeer ’n nuwe lipstiffie.
Dit hoef nie massiewe veranderinge te wees nie. Stelselmatig, stadig maar seker, kan jy aanpas en buite jou gemaksone groei.
