Maak jou huwelik jou moeg?

Jy wonder of jou man jou regtig liefhet en of julle ooit moes getrou het. Is jy – of jou huwelik – dalk besig om uit te brand?

Tussen die kinders, julle werk, die familie, sy weeklikse gholf en jou gimsessies het jy skaars genoeg energie om hom hallo te soen! En erken dit nou maar: Soms lê jy wakker en wonder of dít werklik is hoe ’n huwelik moet wees. Jy is moeg, hy is moeg en (dalk) is jou huwelik ook moeg.

Jou negatiewe gedagtes het dalk ’n ander oorsaak

Jou verhouding met jou maat is veronderstel om jou woema te gee, maar nou gebeur die teenoorgestelde. Jy is uitgeput as jy net dink aan ’n lang toekoms saam met jou man.

Dit voel asof jy die enigste een is wat nog moeite doen met die verhouding. Party dae dink jy selfs dit is miskien tydmors om getroud te bly. Dit maak jou moeg om aan hom aandag te gee en jy vermy hom eerder – jy gaan slaap al vroeër en staan later op.

Dit beïnvloed ook ander aspekte van jou lewe. Jou kreatiwiteit is op ’n laagtepunt. Jy raak humeuriger, en dinge wat jou nooit in die verlede gepla het nie, irriteer jou skielik. Jou huismense en kollegas moet op eiers loop en nie hulle óf jy verstaan wat aan die gang is nie.

Dit raak sommer oor die algemeen al moeiliker om verhoudings aan die gang te hou. Jy sal eerlik na jou situasie moet kyk en besin waar die fout lê. ’n Bietjie vertroeteling en versorging is dalk al wat nodig is om weer jou ou self te wees.

Ly jy aan stres of uitbranding?

Dit is belangrik om te onderskei tussen stres en uitbranding. Stres gebeur wanneer situasies verander en jou dwing om besluite te neem, soos wanneer ’n ouer by julle moet kom woon, iemand siek word, jou man uit sy werk bedank of iemand naby aan jou sterf. As meer as een situasie jou gelyk tref, kan jy sukkel om aan te pas en dan aan stres begin ly.

Uitbranding gebeur wanneer jy vir ander moet sorg, soos wanneer jy vir té lank na jou man moet luister, sy gemoedstoestande in ag moet neem, hom moet ondersteun en gelukkig hou.

Jy voel dan maklik oorweldig deur alles wat jy vir almal moet doen en jy wil sommer net wegkom. Die ironie is, jy gee 100% vir julle verhouding, maar jy dink jy is ’n slegte vrou vir hom! Jy sal dalk nie al bogenoemde simptome hê nie, maar as jy min of meer so voel, sal jy vinnig iets moet doen.

Kry só jou vreugde vir die lewe terug

Herinner jouself daaraan dat jy nie daarvoor verantwoordelik is om ander gelukkig te hou nie. As jy al die versorging doen, raak jou mense gewoond daaraan en verwag hulle dit van jou. Wanneer jy uitgebrand is, het jy gewoonlik woede en verset in jou hart. Jou man sal dink dat dit teen hom persoonlik gemik is. As hy verstaan dat vroulief eintlik moeg is en versorging nodig het, sal hy meer geduld hê met die situasie.

Kry maniere om te herlaai. Maak ’n lys van al die dinge wat vir jou lekker is. Dit kan enigiets wees – vrolike en opbeurende vriendinne, drome en ideale, of om kreatief te wees met ’n verfkwas.
Jy mag soms nee sê vir jou man en kinders. Deur elke keer dieselfde woorde te sê, soos: “Ek moet my battery ook laai”, sal hulle verstaan dat Mamma ook behoeftes het. Sê wat jy nodig het, soos ’n drukkie, blomme, ’n aand uit of stilte. En aanvaar dit dan as ’n geskenk sonder om skuldig te voel.

Miskien is jy aangenaam verras: Wanneer jy jou uitgeputte versorgingsbronne aangevul het, sal julle sommer nader aan mekaar wees. En kan julle die ou vonk weer terugkry!

 

kommentaar (1)

  • frederik (kommentaar)

    Dis altyd vir my interesant hoe die tipe artikels teen die mans is, dis dalk meer die tipe gespreke wat juis die huwelik beinvloed en belemmer.
    Die man is nie altyd die oorsaak nie, en mans voel net so oor vrouens ook. klippe gooi wanneer jy in n glas huis bly is gevaarlik.

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
Website Security Test