Moeilike ekonomiese tye

Wouter Snyman

Geldkenner: Wouter Snyman

Dit is ’n uitdaging om stygende pryse te absorbeer en jou begroting te laat klop. Gelukkig is daar maniere om jou geld beter te bestuur as dit broekskeur gaan.

In plaas van om in sak en as te gaan sit, raak eerder prakties. Wees verantwoordelik vir dit wat jy kan beheer en bestuur dit so goed moontlik. Dinge soos die goudprys en die wisselkoers kan jy nie beheer nie. Moet dus nie toelaat dat dit jou snags laat wakker lê nie. Dink eerder aan maniere om jou sente om te draai.

Moenie dat koopsiekte jou beursie kaap nie

As jy sukkel om by jou begroting te bly, help dit nie juis om die Reserwebank of die minister van finansies vir ’n hoër rentekoers te blameer nie. Of omdat jy nou meer geld vir jou skuld moet opdok nie. Jy kies wat jy met jou geld doen en hoe jy dit spandeer.

Gaan sit eerder met ’n pen en papier, en skryf ’n paar praktiese dinge neer om nie méér geld uit te gee as wat jy in jou sak het nie. As jy inkopies gaan doen, probeer om dit nie aan die einde van die maand te doen nie. Die eenvoudige rede is dat die meeste pryse dan verhoog word. Ons is nie altyd bewus daarvan nie, maar die middel van die maand is die beste tyd om kruideniersware te koop. Die pryse is beter en die gangetjies stiller.

Baie mense ry hulle voertuie vir ten minste vyf jaar. As jy, soos ek, in Duitse tegnologie glo, kan jy hierdie voertuig 10 of 20 jaar lank gebruik. Is dit dalk net vir jou lekker of gerieflik om ’n nuwe kar of huis te koop of die sitkamer en slaapkamer in hulle geheel op te knap? Ly ons nie dalk aan die siekte dat ons geld uitgee net omdat dit beskikbaar is of om by te hou by die bure nie?

Kom in beheer en bou aktief aan jou bankbalans

Die tyd is dalk reg om ’n kopskuif te maak en eerder planne te begin beraam om geld weg te sit. Dit beteken dat jy daardie swaarverdiende inkomste elke maand so aanwend dat jy ook ’n paar rand opsy kan sit vir jouself vir eendag. Die oomblik as jy dit begin doen, het jy beheer oor dit wat jy wel kan verander.

Daar is talle mense wat R10 000 of R20 000 ’n maand verdien en aktief besig is om aan hulle welvaart te bou. Aan die ander kant is daar mense wat R100 000 per maand verdien, maar al wat hulle van die een salaristjek na die ander een doen, is om te koop en nogmaals te koop.

Dink ’n bietjie aan daardie nuwe uitrusting, sofa, sitkamergordyne of Persiese mat wat jy nou dadelik moet hê. Dis dalk nie so nodig as wat jy dink nie. Daar is heel waarskynlik klere in jou kas wat jy met ’n bietjie kreatiwiteit in die perfekte skepping kan omtower. Of jy kan meng en pas en jou sitkamer ’n nuwe voorkoms gee sonder om duisende rande te spandeer.

Maak ’n kopskuif en dink voor jy koop

Die uitdaging is om anders te begin dink oor jou geld. As jy dit nie met oorleg en spaarsamig gebruik nie, gaan jy niks noemenswaardigs hê om daarvoor te wys nie. Daardie kamera of nuwe iPhone neem dalk die voortou op tegnologiese gebied, maar dis nie te sê jou ou foon werk nie net so goed nie.

Hersien jou selfoonkontrak. Baie mense bestee baie geld omdat hulle die nuutste pakket wil hê. Talle koffiewinkels bied gratis WiFi aan, wat jou geld spaar op data vir jou selfoon. Maak gerus gebruik daarvan. Begin anders dink oor die sente in jou sak, en jy kry dit dalk net reg om jou rande te rek en by jou begroting te hou.

Ek daag jou uit: Moenie net geld uitgee omdat jy dit het nie. Dink voor jy koop. Ons almal begeer tog ’n vol beursie sonder skuld en skuldgevoel.

 

kommentaar (0)

Lewer Kommentaar

To prevent automated spam submissions leave this field empty.
CAPTCHA
Hierdie vraag is om te toets of jy ’n persoon is om outomatiese "spam" inskrywings te voorkom.
Image CAPTCHA
Website Security Test