Kubermisdaad neem met rasse skrede toe. INA WILKEN, ’n verbruikerspesialis, gee raad om jou te help om jou aanlyn veiligheid op te skerp en jouself teen slenters te beskerm.
Aanlyn aankope is vandag deel van almal se lewe. Dit is gerieflik en maklik, maar dit is uiters belangrik dat ons onsself beskerm wanneer ons aanlyn koop.
Net soos ’n soldaat of polisieman homself bewapen teen gevaar, moet ons ook die regte hulpmiddels vir veilige aanlyn aankope gebruik.
Die gerief van miljoene produkte wat slegs een klik weg is – en selfs die volgende dag afgelewer word – het ’n gulde geleentheid vir misdadigers (scammers) geskep.
Hulle probeer kopers bedrieg en betalings beland in verkeerde rekenings. Nog erger: Hulle steel jou persoonlike inligting vir hul eie gewin! Wat kan jy hieromtrent doen?
STOP.THINK.CONNECT.™ is ’n wêreldwye aanlyn veiligheidsbewusmakingsveldtog wat deur baie groot maatskappye ondersteun word. Dié veldtog help digitale gebruikers om veiliger aanlyn te wees. Hier is van hul wenke:
- Doen deeglike navorsing oor enige webblad. Vra aanbevelings van vriende en kollegas, en lees aanlyn resensies om te sien of klante ’n veilige inkopie-ervaring gehad het.
- Doen net transaksies op veilige webwerwe. Soek na die slotjie op die adresbalk, of geldige sertifikate soos VeriSign en veilige betaalstelsels soos PayU. Wanneer jy by die bladsy kom waarop jy jou kredietkaart of ander persoonlike inligting invoer, soek na ’n “s” na “http://” in die webadres van daardie bladsy. Dit moet wys “https://”.
- Persoonlike inligting is soos geld: Waardeer dit en beskerm dit! Moenie jou aanlyn inkopies in koffiewinkels en winkelsentrums doen nie. Met openbare WiFi is daar ’n groter kans vir kubermisdadigers om jou verbinding te onderskep en jou gebruikersname en wagwoorde in die hande te kry.
- Lees die “return policies” en ander webwerfinligting sodat jy weet wat om te verwag as die kopie nie verloop volgens plan nie.
- Konstante opdaterings kan irriterend wees, maar dit is daar om jou veilig te hou. Doen altyd stelsel- en toepassingsopdaterings om jou minder kwesbaar te maak. Gebruik gehalte-antivirussagteware – óf van jou bank óf van gerespekteerde verskaffers soos Norton, McAfee of Kaspersky Lab.
- Moenie ’n wagwoord skep wat maklik is om te raai nie. Gebruik ’n agtsyfer-wagwoordkombinasie van hoofletters, simbole en nommers. Het jy geweet dat ’n eenvoudige sesletterwagwoord ’n kuberkraker 10 minute sal neem om te ontsyfer? Moenie enige wagwoorde op jou rekenaar of toestel bewaar nie.
- Unieke rekening, unieke wagwoord: Met unieke wagwoorde vir elke aanlyn profiel kan jy verhoed dat kriminele jou data bekom. Dit is goed om jou persoonlike en besigheidsrekeninge van mekaar te skei, en maak veral seker dat die mees vertroulike rekenings/lêers die sterkste wagwoorde het.
- In die wêreld van aanlyn inkopies en bankwese is die OTP (eenmalige PIN) jou beste vriend. Dit word tweefaktorverifikasie genoem – wanneer jy ’n ander verifikasiemodus (behalwe jou wagwoord) nodig het om ’n transaksie af te handel. Jy sal gewoonlik ’n OTP as ’n SMS op jou selfoon ontvang.
Kontak Ons
Ina Wilken is ’n verbruikerspesialis wat haar BCom honneursgraad aan Unisa verwerf het. Sy het haar meestersgraad in verbruikerswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Kontak haar gerus by 083 268 9071.
Al hoe meer mense erken in meningspeilings dat hulle dieselfde wagwoord vir al hul aanlyn transaksies gebruik! Is jy ook skuldig hieraan?
As kubermisdadigers toegang tot jou wagwoord kry, kan hulle op al jou ander aanlyn profiele inkom en groot skade aanrig.
Dit is raadsaam om ’n wagwoordbestuurder (password manager) soos Dashlane of Universal Password Manager te gebruik – hiervoor het jy net een wagwoord nodig.
Let ook goed op om nie deur te klik na webwerwe met taal- en/of spelfoute in die onderwerpreël nie. Maak ook seker dat dié webwerwe nie net in hoofletters geskryf is nie. Wees altyd skepties oor aanbiedinge wat te goed klink om waar te wees.
Jou aanlyn veiligheid is jou verantwoordelikheid. Bly op die hoogte van algemene slenters en wenke op www.reportacrime.co.za; www.cybercrime.org; www.saps.gov.za en www.crimeline.co.za.