Help jou kind om vroegtydig met eksamenvoorbereiding te begin. Net soos ’n nuwe oefenprogram is die eerste tree gewoonlik die moeilikste. Moedig hom aan om net te BEGIN!
Wees gemotiveer voordat daar geleer word
Dis altyd makliker vir kinders om enigiets anders te doen as om te begin leer. Skielik wil hulle klere stryk of die vloere mop – dis amper soos towerkuns!
Sodra die woord “leer” genoem word, kry hulle skielik lus om te stofsuig of blare uit die swembad te skep. Hulle sien selfs kans om hul klerekas reg te pak!
Dis belangrik dat ouers weet hulle kind is nie die enigstes nie – hierdie “uitstelgedrag” tref almal die een of ander tyd.
Wat egter van kardinale belang is, is om nie toe te laat dat uitstel in die pad staan nie. Help eerder dat hulle betyds begin. Die gesegde lui immers: van uitstel kom afstel.
Wanneer leerwerk uitgestel word, lei dit tot paniek, en dit het ’n direkte invloed op die kind se leerproses.
Hier volg sewe praktiese maniere waarop jy jou kind kan help om aan die gang te kom met leerwerk.
Begin vandag!
Begin vroeg, bou selfvertroue en gebruik interaktiewe hulpbronne op Wolkskool vir vinnige hersiening en slim voorbereiding.
1. Help jou kind om te verstaan hoekom dit moeilik is om te begin
Wanneer ’n kind sukkel om te begin leer, is dit nuttig om saam met hom of haar ondersoek in te stel na die redes agter die weerstand. Só kan julle saam die regte oplossing vind.
Hier is ’n paar algemene redes hoekom kinders dikwels sukkel om te begin leer:
- Die werk voel oorweldigend of moeilik, en hulle weet nie waar om te begin nie.
- Hulle rebelleer dalk teen ouers of onderwysers.
- Die onderwerp interesseer hulle nie.
- Dit is nie vir hulle die regte tyd van die dag om te fokus nie.
Wanneer jy gehelp het om die oorsaak te identifiseer, is dit baie makliker om doelgerigte ondersteuning te bied.
2. Breek die werk in kleiner, hanteerbare afdelings op
Hoe eet ’n mens ’n olifant? Stukkie vir stukkie – of eerder happie vir happie.
Dieselfde beginsel geld vir eksamenleer. Help jou kind om die werk op te breek in kleiner, hanteerbare afdelings wat minder oorweldigend voel.
Moedig hom of haar aan om elke dag net genoeg van daardie stukkies te doen om die daaglikse doelwit te bereik.
Wanneer jou kind mylpale bereik, hou dit hulle gemotiveerd. ’n Eenvoudige rooster is ’n uitstekende hulpmiddel – nie iets waaraan dae spandeer word om dit kleurvol en perfek te maak nie, maar ’n praktiese uiteensetting van kleiner leerafdelings.
Help jou kind om daardie rooster realisties te gebruik en daagliks af te merk soos die werk gedoen word. Só bou hulle geleidelik momentum en selfvertroue op.
3. Bly op die wenpad met ’n studierooster
As ’n kind goed georganiseerd is, maak dit die leerproses baie makliker. Hulle weet dan presies wat elke dag gedoen moet word.
Die vooraf genoemde stuk-vir-stuk rooster bevat meer besonderhede, maar dit is ook nuttig om saam met jou kind ’n oorsigrooster op te stel. Só het julle ’n duidelike prentjie van wat, waar, hoe en wanneer daar geleer moet word.
Moedig jou kind aan om by die daaglikse doelwitte te hou en nie werk oor te skuif na die volgende dag nie – dit verhoed dat hulle agter raak en dat onnodige spanning opbou.
Hoe vroeër julle saam met die voorbereiding begin, hoe kleiner is elke dag se taak en hoe makliker word dit om dit te voltooi.
’n Goeie wenk: Help jou kind om hul foon se kalenderfunksie te gebruik as ’n daaglikse herinnering aan hul doelwit.
4. Identifiseer sukses en hoe om dit te behaal
Een van die belangrikste maniere om ’n kind gemotiveerd te hou, is om seker te maak hulle verstaan en onthou hoekom hulle graag goed wil presteer.
Help jou kind om hul rede neer te skryf – en plak dit op ’n groot papier teen hul muur waar hulle dit elke dag kan sien.
Hierdie visuele herinnering sal hulle motiveer om die harde werk en opofferings vol te hou totdat hul doel bereik is.
Onthou: Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie! Maak seker jou kind se rede is betekenisvol vir hulle, en herinner hulle daagliks aan daardie droom of doelwit.
5. Moenie dat ongemotiveerde dae jou kind pootjie nie
Moenie verwag dat eksamenvoorbereiding net maanskyn en rosegeur gaan wees nie. Help jou kind om te verstaan dat dit heel normaal is om party dae ongemotiveerd te voel.
Elke dag gaan ’n bietjie inspanning verg om hulself te motiveer om te begin leer.
Moedig jou kind aan om realisties te wees – sommige dae gaan makliker verloop, terwyl ander dae moeiliker gaan wees.
Die belangrikste is om deur te druk en konsekwent te bly, selfs al voel dit moeilik.
6. Moenie moed opgee nie
Wanneer ’n kind vir ’n eksamen voorberei, voel dit soms asof die studietydperk nooit gaan eindig nie. Dit is belangrik om hulle daaraan te herinner dat hierdie fase net tydelik is.
Verduidelik ook vir jou kind dat as hulle vandag se leerwerk uitstel, dit môre net moeiliker gaan wees om behoorlik voorberei te wees vir die eksamen.
Deur elke dag konsekwent te werk, maak hulle dit vir hulself makliker en minder stresvol later.
7. Fokus op die taak, nie die doelwit nie
Wanneer iemand vir ’n marathon begin oefen dink hulle nie aan hoe ver 42 km is nie. Net soos daardie olifant pak mens dit happie-vir-happie aan.
Wanneer ’n kind voorberei vir eksamens, moet hulle nie dink aan die volle omvang van alles wat gedoen moet word nie.
Fokus op wat vandag gedoen moet word – nie alles wat nog voorlê nie.
Só bou hulle geleidelik momentum op, en voor hulle besef, is die teiken binne bereik.
As jou kind op ’n konsep of afdeling vashaak wat hulle nie heeltemal verstaan nie, moedig hulle aan om Die Wolkskool te gebruik (www.wolkskool.co.za) om vinnig hersieningsvideo’s te kyk en hul kennis op te skerp.
Baie sterkte aan jou en jou kind – en onthou: Die harde werk wat nou ingesit word, sal vrugte afwerp!