Ek beskou myself as ’n OPTIMIS

Ek beskou myself as ’n OPTIMIS

ELSJE SLABBERT, bekende aktrise en onlangs te sien as Lisa in Suidooster, is al 10 jaar getroud en het twee woelwaters. Elsje deel graag haar optimisme, geloof en groot drome. 

Wat het jou laat besef dat toneelspel jou ware roeping is? 

Ek het nooit ’n spesifieke oomblik gehad waar ek gedink het dit is wat ek wil doen vir die res van my lewe nie.

Vanaf graad 1 het ek aan eisteddfods deelgeneem en dit vreeslik geniet. Die jaar toe ek graad 9 toe gegaan het, het ...

ELSJE SLABBERT, bekende aktrise en onlangs te sien as Lisa in Suidooster, is al 10 jaar getroud en het twee woelwaters. Elsje deel graag haar optimisme, geloof en groot drome. 

Wat het jou laat besef dat toneelspel jou ware roeping is? 

Ek het nooit ’n spesifieke oomblik gehad waar ek gedink het dit is wat ek wil doen vir die res van my lewe nie.

Vanaf graad 1 het ek aan eisteddfods deelgeneem en dit vreeslik geniet. Die jaar toe ek graad 9 toe gegaan het, het ons van Brakpan na Witrivier getrek.

Daar het ek by ’n drama-onderwyser, Jan Prinsloo, begin. Hy het ’n groot passie vir die bedryf gehad. Hy het die saadjie geplant en regtig in my geglo.

In die jaar wat ek in standerd 9 was, wat nou graad 11 is, het ek vir my ma-hulle gesê ek wil graag drama gaan swot. Hulle het my ondersteun.

As jy terugkyk na jou vroeë dae in die bedryf, wat was die grootste uitdaging waarvoor jy te staan gekom het? 

In my twintigerjare het ek baie omgegee oor wat mense van my dink.

Dit is een ding as mense die karakter wat jy vertolk, aanval, maar mense kan brutaal wees en persoonlik raak.

Om dinge oor jou voorkoms, vermoë as aktrise, stem of gewig te lees, was vir my moeilik. Ek dink nie daar was iets spesifieks wat ek gedoen het om dit te oorkom nie.

Die dag toe ek ma geword het, het ek besef wat regtig saakmaak. Dit is wat jy jou kinders probeer leer oor die lewe, geloof, familie en liefde.

Só leer jy jouself van vooraf ken. As jou identiteit in Christus is, wie kan teen jou wees? Vandag kan ek sulke goed lees en daaroor lag. Dit is lekker om op daardie plek te wees.

Jy en Marco is sedert 2014 getroud. Wat doen julle om julle huwelik sterk te hou te midde van die op- en afdraandes van die lewe? 

Kies die regte lewensmaat. Baie vroue raak vasgevang in die opwinding van ’n nuwe verhouding. Maar dit is belangrik of hierdie persoon iemand is met wie jy die lewe wil deel, saam in die kerk wil wees, kinders grootmaak, en saam bid. Dit is wat regtig saak maak.

Met kinders wat die prentjie inkom, verander baie. Marco en ek het ondervind dat verhoudings maklik negatief kan word as daar kompetisie ontstaan. Ons het geleer dat hoe meer jy van jouself gee, hoe meer ontvang jy in ruil daarvoor.

Die wêreld is baie selfgesentreerd. Dit gaan teen die beginsels van die Woord. Hoe meer ek gee, hoe meer wil my man aan my teruggee. Dit is wanneer ’n goeie ritme ontwikkel.

As hy van werk af kom, kan hy sien as ek ’n rowwe dag gehad het met die kinders, en dan stap hy in om te help, en ek doen dieselfde vir hom.

Ons weet wat ons individuele sterkpunte en verantwoordelikhede is, maar ons maak dit nie ’n kompetisie nie. Ons gee net onselfsugtig vir mekaar.

Wat was tot dusver die mees verrassende vreugde van moederskap? 

Om ’n ma te word verander jou lewe. Ek het geweet ek gaan my kinders liefhê, maar ek het nie besef hoe diep hierdie liefde sou wees nie.

Die grootste en aangenaamste verrassing was hoe my liefde vir my man verander het.

As ek sien hoe hy met ons kinders speel, ervaar ek nuwe liefde vir hom as die pa van ons kinders. Dit was ’n groot en aangename verrassing.

Om deur seisoene met ons kinders te gaan is ongelooflik. My dogtertjie sê haar eerste woordjies en my vierjarige seuntjie het ’n groot verbeelding met fassinerende stories.

Elke seisoen bring nuwe uitdagings. Dit is nie elke dag maklik nie, maar dit is ongelooflik bevredigend. Ek het nog nooit iets gedoen wat so vervullend soos moederskap is nie.

Watter onverklaarbare insident uit jou eie lewe kan jy deel wat kykers opnuut sal laat glo in God se wonderwerkende krag?  

Ek was nog altyd ’n Christen en het grootgeword in ’n Christenhuis. Daar was tye wat ek ver van die Here was en tye wat ek na aan Hom was.

Die naaste wat ek nog aan Hom gevoel het, was toe ek en my man Kaap toe getrek het.

Ons het besluit om ’n familie te begin, maar gesukkel om swanger te raak. Ek was besig met hormoonbehandelings en inseminasies. Ek het baie gebid en gevas vir ’n babatjie.

’n Vriendin van my was deel van hierdie reis. Sy was in Israel vir ’n toneelstuk en het net teruggekeer. Ons het koffie gedrink en die moeilike tye gedeel.

Ek het haar vertel van my chemiese swangerskap. Sy het emosioneel geraak en gesê sy het iets vir my.

Sy verduidelik toe dat sy in Israel gevoel het sy wil ’n kind hê. Sy kon dit nie verstaan nie, want sy het ’n gesin gehad en was gelukkig.

Sy het gaan bid op ’n heilige plek. Ná die gebed het ’n vrou vir haar ’n swangerskap-blessing-olie gegee. Sy het dit toevallig saam met haar gehad en vir my gegee.

Ek was diep geraak en sy het my in die kafee met die olie geseën. Ek het die olie huis toe gevat en myself gereeld daarmee geseën.

Ek het geweet die Here het vir my gesê: “My kind, Ek sien jou, en Ek hoor jou.”

Kort daarna is my seuntjie gebore. Ek het geweet die Here het vir my ’n spesiale boodskap gegee. Daardie oomblik sal ek altyd koester.

Kan jy ’n tyd of gebeurtenis deel toe jou positiewe uitkyk ’n verskil gemaak het in ’n moeilike situasie? 

Ek hou nie van verandering nie. Dit maak my angstig en onseker. Ons het in Pretoria gebly, ons huis net gerestoureer, en ons familie en vriende was naby.

My man werk in Johannesburg en ons was gelukkig daar. Toe sê hy op ’n dag dat hy ’n geleentheid in die Kaap het en wil dit graag aanpak.

Alles in my het geskree: Nee! Ek ken niemand in die Kaap nie. Ek werk nie daar nie. Ek het nie familie en vriende daar nie. Maar ek het besef: Dit is belangrik vir hom.

Ek stem toe in om vir ’n jaar te gaan om te sien hoe dit gaan.

Jy kan kies hoe jy ’n dag aanpak. Bly in pajamas en binge series of gaan stap op die strand en ontdek nuwe plekke.

Dit is wat ek probeer doen het. Soms was daar tye van selfbejammering. Maar selfs ná ’n maand het ek besef: Die Kaap is pragtig. Ek het vir my man gesê ons kan maar bly.

Wat is die een groot droom waaraan jy nog vashou, waaraan jy werk en met verwagting uitsien? 

Ja, my drome het baie verander sedert ek ’n ma geword het. Gesondheid het nou baie belangrik geword. Ek het ’n prentjie van ’n Kersfeestafel in my gedagtes.

Alles lyk mooi en my kinders is daar. Eendag groot, saam met hulle kinders en partners. Net in liefde saam as ’n gesonde familie.

Ek streef daarna om elke dag die beste ma te wees. Ek wil hê my kinders moet huis toe wil kom en Kersfees saam met my wil vier. Familie, net lief wees vir mekaar en die lewe saam ervaar, is my groot droom.

Deel die artikel

Méér artikels

Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid? Wat ...

ELIZMA THERON het al groot hoogtes bereik as sangeres, aktrise en model, maar dié ma van twee weet dat haar gesin veel belangriker as roem ...

Scroll to Top