Anzél Rabie

Ek was nog altyd lief vir die BOLAND

ANZÉL RABIE bekend vir Anzél in die Boland gesels oor die mooi en die seer van die lewe, hoe geloof haar dra, en natuurlik oor die lieflike Boland. 

Hoe het jou lewenspad geloop tot TV-aanbieder? 

My deelname aan Mej. Suid-Afrika 2014 was ’n wonderlike ervaring vir my en spesifiek oor die vroue waarmee ek omring was. Ek het net weer besef dat vroue – Zozi [Mej. SA 2019] het dit so mooi gesê – we can take up space. Ons moenie jaloers wees op mekaar nie.

As ...

ANZÉL RABIE bekend vir Anzél in die Boland gesels oor die mooi en die seer van die lewe, hoe geloof haar dra, en natuurlik oor die lieflike Boland. 

Hoe het jou lewenspad geloop tot TV-aanbieder? 

My deelname aan Mej. Suid-Afrika 2014 was ’n wonderlike ervaring vir my en spesifiek oor die vroue waarmee ek omring was. Ek het net weer besef dat vroue – Zozi [Mej. SA 2019] het dit so mooi gesê – we can take up space. Ons moenie jaloers wees op mekaar nie.

As vroue bymekaar kom, is daar iets wat gebeur, dit is kragtig. Ek het net daar ook besef dat my hart is om vroue te bemagtig. We’ve got a lot to say, we’ve got a lot to give.

En ja, dit is vir my ’n voorreg om tien jaar later steeds dit te kan doen.

Nadat ek nie Mej. Suid-Afrika gewen het nie en net in die Top 5 geëindig het, moes ek terugkeer na studentwees.

Ek het toe HonsBRek geslaag en my drie jaar se klerkskap by Deloitte in Johannesburg en die Kaap voltooi. Daarna het ek as ’n GR [geoktrooieerde rekenmeester] gekwalifiseer.

Hoewel ek gekwalifiseerd is, was daar steeds ’n begeerte om deel van die mediabedryf te wees, maar ek het nie geweet hoe om die twee te kombineer nie.

Gelukkig ontmoet ek my man, wat jare lank in die bedryf was as ’n regisseur van verskeie gewilde programme. Toe Covid tref, het ek steeds as ’n GR gewerk en hy in sy bedryf.

Dit was toe dat KykNET ons die kans gegee het om ’n konsep vinnig te ontwikkel en voor te stel. Ons het binne ’n naweek ’n konsep geskep, en binne drie weke is die program verfilm, geredigeer en uitgesaai.

Ons het pas ons vierde seisoen afgehandel, en dit is ongelooflik dat ’n groot droom, danksy Covid, kon realiseer.

Is daar ’n oomblik in die program wat vir jou uitstaan as ’n hoogtepunt? 

Dit is moeilik om een hoogtepunt uit te kies. Ons is reeds deur vier seisoene en ek knyp myself soms om te besef dat ek my droom uitleef. Dit is die ware hoogtepunt as ek een moet noem.

Ons het onlangs by Lanzerac verfilm. Dit was vroeg in die oggend, om 09:00, en ek moes saam met die wynmaker ’n glasie klink. Die pragtige, romantiese kelder met ongelooflike wyne was ’n a-ha-oomblik vir my.

Ek het gedink hoe gelukkig ek is om saam met aangename mense oor hulle passies te gesels, omring deur ’n professionele span wat die beste werk doen. Hier kan ek my droom uitleef.

Dit is snaaks hoe werk soms ’n mens vasvang in die dag-tot-dag take. Jy vergeet om die oomblik te koester.

’n Paar weke gelede het ek nog ’n a-ha-oomblik gehad en vir die span gesê: “Stop net gou. Dit is vir my ongelooflik spesiaal en ek waardeer julle.”

Ek is dankbaar dat ek my passie vir kos, wyn, toerisme en die Boland kan uitleef.

Jy en jou man, Stephanus, is al vriende vanaf kinderdae. Hoe het julle liefdesverhaal ontvou? 

My en Stephanus se liefdesverhaal is spesiaal. Ek knyp myself soms om te besef hoe gelukkig ek is om met my eerste liefde getroud te wees.

Ons ouers was groot vriende. Met ’n ouderdomsgaping van agt jaar was ek as klein dogtertjie al verlief op Stephanus, wat einde laerskool/begin hoërskool was.

Ek het my suster gevra om vir hom ’n briefie te skryf waarin ek sê ek wil eendag met hom trou. Ek het my pa gevra om spesiaal vir Stephanus te bid en het geskenkies in Pick n Pay gekoop om aan hom te gee.

Hoewel Stephanus altyd vriendelik en liefdevol was, was dit ’n gesinsgrap dat ek so verlief op hom was.

Toe my ouers skei, het ons na Stellenbosch getrek en ek het Stephanus 18 jaar lank nie gesien nie. Ons het aan die einde van 2015 weer by ’n troue mekaar raakgeloop en dadelik ’n “magic” gevoel ervaar.

Ons kon nie ophou gesels en dans nie. Ek het geweet ek voel veilig by hom.

Ek was reg; ek het Stephanus weer begin sien en geweet hy is die laaste man met wie ek sal uitgaan.

Drie jaar later het ons verloof geraak en kort daarna getrou. Ons het al ’n pragtige dogtertjie en oorweeg dalk om ons gesin groter te maak.

Is daar enige uitdagings wat julle ervaar om as getroude paartjie so nou saam te werk? 

Baie mense sê hulle kan nie met hulle huweliksmaat werk nie, en ek verstaan dit. Maar as jy grense stel, kan dit nie net goed werk nie, maar jy kan floreer.

Dit is spesiaal om jou werk en verhouding so na aan mekaar te hê. Die grootste uitdaging is om grense en reëls in plek te hê oor wanneer julle vennote en wanneer julle huweliksmaats is.

Ons kry dit nie altyd reg nie, maar ons probeer hard. Dit is uniek om saam aan ’n projek te werk en sukses te behaal. Dit is egter noodsaaklik om nie die huwelik op ’n backseat te plaas nie, aangesien die huwelik belangriker is as werk.

Ons herinner onsself gereeld aan wat regtig belangrik is en vermy werkgesprekke op onvanpaste tye. Byvoorbeeld, in ons slaapkamer praat ons nie oor werk nie en gebruik nie fone nie, en dit werk vir ons.

In 2023 is julle pragtige dogtertjie, Anna Aloha, gebore. Het ma-wees jou perspektief oor die lewe verander?

Mamma-wees is vir my die belangrikste titel van my hele lewe en ek dink dit is omdat ek soveel perspektief gekry het. Jy wil vir jou kind leer waaroor die lewe gaan en dan moet jy vir jouself afvra, waaroor gaan dit?

Ek dink die groot ding is dat jy besef, moet nie top oor kleinighede nie. Wees goed vir ander sonder om enigiets terug te verwag. Rus jouself toe met vaardighede, soveel as wat jy kan, want jy wil soveel deure as moontlik oophou, maar jy wil goed wees vir ander mense sonder om iets terug te verwag.

Sy is nog net een, so kom ons kyk hoe dit vaar, maar ja dit is ’n groot verantwoordelikheid om vir iemand so klein so ’n bietjie van die lewe te moet leer. Ons hoop maar net vir die beste.

Kort ná jou dogtertjie se geboorte is jou pa oorlede in jou motorongeluk. Hoe het jy die krag gekry om deur die moeilike tyd te kom? 

Om jou pa sewe weke ná die geboorte van jou eersteling te verloor, was die ergste ding wat ek kon ervaar; ek wens dit nie vir iemand toe nie.

In hierdie tyd van uiterste emosies het ek die vreugde van my pragtige dogtertjie beleef terwyl ek die verlies van my grootste held, my pa, moes verwerk. Dit was ’n tyd van skoonheid en verdriet.

Ek wou sterk wees en vreugde aan my dogtertjie leer, al was my hart gebroke. Hoewel ek wou rou, het ek die behoefte gevoel om sterk te wees vir haar.

In retrospek besef ek dat my pa dit so sou wou hê. Hy was ’n realis en sou gesê het ek moet aangaan en sterk wees vir haar.

My pa se invloed en lewenswysheid het my die krag gegee om deur hierdie tyd te kom. Ek moes sterk staan soos hy sou wou.

Ná ’n jaar het ek gesien dat ek inderdaad deur sy nalatenskap en die Here se genade ongewone krag ontvang het.

As dit nie vir my dogtertjie was nie, sou ek dalk in my kamer gebly het, maar ek moes my kop oplig vir haar, wat my pa ook sou wou hê.

Hoe het jou geloof jou deur die op- en afdraandes van die lewe gelei? 

As dit nie vir my geloof in God was nie, weet ek nie hoe ek deur die donker tye sou kom nie. Ek glo my pa is by Jesus.

’n Dag ná sy dood het ek sy gees ervaar en ’n warm gevoel gehad dat hy by Jesus kuier en dat ek moet aangaan. Ek kon nie anders as om daardie oorweldigende vreugde te voel nie, en dit dra my steeds deur moeilike tye.

Ek wil eendag my pa weer in die hemel sien, en ek weet daar wag ’n wonderlike tyd op ons. In my verdriet het ek besef dat hoewel ek my aardse pa verloor het, God my hemelse Vader is en Hy bied soveel meer. Ek kan oor my pa treur, maar God se liefde is oorvloedig.

Wie is ek om te tob? God lei my deur verlies en alles wat voorlê. Ek ervaar ’n sagtheid en genade wanneer ek by Jesus se voete is. Deur moeilike tye het ek sy genade ervaar en ek hou vas aan die belofte van voorspoed.

Die lewe het sy ups en downs, maar God het voorspoed en ’n goeie lewe vir ons bedoel. Selfs al kom daar moeilike tye, weet ek dat met die Here aan my sy, sal dit goed gaan. Hy gee ’n innerlike vrede wat niemand kan wegneem nie.

Deel die artikel

Méér artikels

MINKI VAN DER WESTHUIZEN se positiewe ingesteldheid is vasgemessel deur ’n paar lesse wat sy vandag met oortuiging leef. Wees positief en sien die goeie ...

Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid? Wat ...

Scroll to Top