Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. (Efesiërs 6:18)
Dit moes al met jou gebeur het. Jy het ’n vreeslike mal dag. Die kinders is amper laat vir skool, jy sit in verkeer op pad werk toe en is vyf minute laat. Jy moet nog besluit wat om te maak vir aandete, en voor jy jou oë kan knip, is jy al met een oog toe in die bed.
Dis wanneer jy gewoonlik besef … ek het nog nie gebid nie. Dit begin dan met ’n “dankie, Here, vir die dag, dankie vir my kinders, help my asseblief met … zzzzzzzzz”.
Ek blameer jou nie, dit het al baie met my gebeur. Ek het toe besluit om nie meer ’n vaste tyd vir gebed te hê nie, maar heeldag met die Here ’n gesprek te voer. (Dit sluit nie familietyd in wanneer ons saambid nie.) Wanneer ek in verkeer sit, draai ek die volume van die radio af en begin met Hom gesels – oor my dag wat voorlê, my bekommernisse, my gesin. Ek raadpleeg Hom oor groot besluite en vra vir sy leiding. Ek pleit die bloed van Jesus oor my man en my baba, oor my liggaam. Ek bid vir daardie seer spier in my rug wat pla en vra vir genesing. Ek sê dankie vir sy goedheid en guns.
Wanneer die taxi voor my inry, vra ek sy beskerming en ingryping vir ons land (orraait, partykeer moet ek eers om vergifnis vra vir dit wat ek gesê of geskree het, niemand is perfek nie, hie-hie). Die punt is, God is nie net in jou slaapkamer nie, Hy is oral waar jy gaan, en jy kan Hom enige tyd, enige plek raadpleeg of net met Hom gesels.