Om in jou dertigs te moet koebaai sê vir die lewe, enkele weke ná ’n verdoemende maagkanker-diagnose, is darem bitter jonk. En so onbegryplik.

Dit bly moeilik om te verstaan hoekom pa Herman moes gaan …  

“As Pa maar net nog hier was, hoe anders sou dinge gewees het …” Vir jare lank is daar elke dag hieraan gedink.  

Veral op skool en aan die begin van my loopbaan. Dit was ’n daaglikse wens: dat my pa die man kon ontmoet met wie ek eendag gaan trou.  

Dat hy my kon hoor sing. 

Op sewe is ’n mens nog te klein om te verstaan wat aangaan.  

Pappa voel nie lekker nie. Hy word siek. En dan, skielik oornag, net weg.  

Natuurlik wens ’n mens steeds dat hy hier was, dat hy kon sien wat ek bereik het.  

Pa wat self so lief vir country-musiek was en altyd wou gehad het ons moes sing. 

Sulke hartseer maak jou oë oop vir die wonder van die lewe … 

Die besef dat elke dag jou beste dag moet wees. Dat ’n mens geluk en dankbaarheid kíés.  

Vir my is geluk opgesluit in die daaglikse, eenvoudige seëninge. ’n Dak oor jou kop, kos op die tafel, ’n warm bed, ’n warm bad, ’n knetterende kaggelvuur.  

Die lysie kan vir ewig aangaan …  

Ek voel oneindig geseënd en is elke dag dankbaar vir al hierdie dinge, want ek weet hoe dit voel om dit nie te hê nie.  

Ma, as die enigste broodwinner, het vir lank drie werke gehad, net om die huis te kon behou. Sy het ons deur alles gedra deur nooit op te gee nie. 

Geluk beteken ook die voorreg om die lewe te deel met mense wat omgee …

Iemand wat soms deur dieselfde emosies van verlies en verlange stoei, omdat hulle dit ook ken.  

Bart se ma is ’n paar jaar gelede oorlede, en hierdie verlies verbind ons op ’n baie diep vlak. Dit gee ’n waardering vir mekaar wat moeilik is om in woorde te beskryf.  

Ek voel amper te lief vir Bart, maar hy maak my sielsgelukkig. By hom het ek geleer wat die waarde van geduld is. Hy het jare se geduld, en dit gee ’n spesiale dimensie aan ons verhouding. Ons praat geduldig met mekaar, raak nie kwaad nie.  

Dis ook lekker om ten volle myself by hom te kan wees, en hy by my.  

Ons was albei voorheen in slegte verhoudings. Wat ’n voorreg om by iemand te kan wees wat jou toelaat om te skitter.