Of daar nog iets oor is om voor te baklei en of jy eerder moet skei, is nie ’n maklike besluit nie. “Jy mag dalk voel daar is geen hoop vir jou huwelik nie en dat die seer te rou is. Die waarheid is, dit kan beter en sterker wees as ooit tevore!” sê die huwelikskenner GRETHA WIID.
As jy doodsheid ervaar, het julle ’n kans om dit nog te maak, want daar is nie afwykende gedrag, affairs op lang termyn of gewelddadigheid nie.
Dis ’n huwelik wat in die moeilikheid is – en daaruit kan kom …
Maak seker jy weet presies hoekom jy aanhou probeer
Glo jy dat God dit van jou verwag om te bly? Of luister jy na tradisie, mense en jou eie vrese? As dit vir jou ’n geestelike oortuiging is, kan jy glo dat jy wysheid en beskerming sal ontvang.
Jy het dalk besef daar is dinge wat jy kan doen, wat kan bydra tot jou man se verandering. Dit gaan opoffering vra. Jy sal moet saamwerk aan die wonderwerk waarvoor jy bid.
Hou aan om te glo in die waarde van die huwelik. Hou aan hoop. Kry hoop as jy dit tekort kom. Gaan woon iemand se naweeksessie by, maak hulpbronne bymekaar, word deel van ’n groep by jou kerk.
Pas goeie selfsorg toe en bou jouself op
Een van die belangrikste aksies gaan wees om jou menswaardigheid te behou en aan te hou te glo in wie jy is. Om aan te hou werk aan wie jy kan wees.
Miskien kan jy gaan oplees oor vroue wat geleer het hoe om hierdie omstandighede vir hulleself te maak werk.
Wees goed vir jouself! Dit beteken nie om geld op jouself te bestee of vir ’n naweek weg te gaan of om gereeld vriende oor te nooi nie.
Kies eerder om te gaan groei by iemand wat jy vertrou. Gaan sien ’n terapeut. Gaan sien ’n berader. Gaan sien iemand buite jou vriendekring by wie jy ook soms net kan ontlaai (“venting”).
Maak werk daarvan om die regte ondersteuning te kry
Om te ontlaai, is absoluut noodsaaklik! Jy moet jou kop skoonmaak oor dít wat jy eintlik besig is om op te offer. Dit kan jy nie met volkome openhartigheid tydens kuiers met vriendinne doen nie.
By ’n terapeut gaan jy waardevolle inligting en belangrike kennis oor jouself kry. Want gestel jou man breek jou herhaaldelik met sy woorde af, kan jy dink wat hulp, raad en advies vir jou gaan beteken?
Deur met iemand te kan praat, kan help om goeie selfsorg toe te pas, sodat jy steeds goed vir jou kinders kan sorg. ’n Terapeut kan jou help om jou grense te verken en te implementeer, sodat jy jouself kan beskerm.
Kry perspektief sodat jy realisties te werk kan gaan
Jy het ’n objektiewe siening van jou omstandighede nodig. Soms is daardie perspektief iets wat ’n mens by professionele kenners moet kry.
Afhangende van jou leefstyl, is dit belangrik dat jy voorsorgmaatreëls tref in geval dinge gebeur wat jou lewe of jou toekoms bedreig. Byvoorbeeld as jou man jou geen insae in julle finansiële sake toelaat nie.
Omdat jy nie weet waar jy oor tien jaar gaan wees nie, moet jy vir jouself ’n finansiële buffer skep en aan jou eie kredietwaardigheid werk. Praat met jou man hieroor – al kry jy net jou eie motor.
Belowe dat jy wat nou probeer om die regte ding te doen, ook die regte ding vir jouself sal doen. Bid daaroor.