Jy hoef nie ’n perfekte ouer te wees om gesonde, gelukkige kinders groot te maak nie! Ontdek eenvoudige maniere om ’n selfversekerde ouer te wees.
Ken die verskil tussen jou kind bederf en verantwoordelikheid leer
Waar is die balans tussen versorg, beskerm en koester teenoor terugstaan en jou kinders hulle kant laat bring? Die goue draad van ’n “lekker” ma wees aan die een kant, en kwaai wees aan die ander, sodat hulle verantwoordelike grootmense word.
Moet jou kleintjies help skoonmaak? Of is hulle nog te klein? Hoe ver strek hulle sin van verantwoordelikheid? En aan die ander kant, hoe maak jy die “werk” pret dat dit nie vir hulle ’n las word nie, maar dat hulle dit wíl doen?
Hierdie dinge klink dalk vir jou so voor die hand liggend. Maar vir my het dit baie tyd op my knieë geverg en klomp skietgebedjies.
’n Vriendin het dit vir my twee foto’s gestuur. Op die een foto was daar ’n lys take soos kamer opruim, badkamer skoonmaak, klere optel, ligte afskakel, ensovoorts. Langs elke taak was daar ’n beloning in Monopoly geld geskryf.
Op die tweede foto was die winkel met belonings … lekkers, speelgoed. Wat jy ook al in die huis kan kry wat jou kinders wil hê, maar waarvoor hulle moet werk.
As gesin het ons besluit om dit te implementeer. My mond het oopgehang oor die aanvanklike wonderlike resultaat van hierdie eksperiment. Ons huis was skoon, netjies en ordelik. Die kinders se speelgoed het nie meer rondgelê nie.
En as ek ’n opdrag gegee het, was dit in ’n japtrap gedoen. Net omdat hulle dan kon aanmeld vir ’n geldjie waarmee hulle eindelik iets by die winkel kon koop.
Het dit vir ewig gehou? Die vroeë entoesiasme het so effens afgeneem toe die winkel en rewards min raak, maar die fondasie was gelê. Hulle het beleef dat dit voordelig is om verantwoordelikheid te neem.
Dit bly ’n unieke reis vir alle gesinne, aangesien elkeen se situasie ’n besonderse een is. Soms neem dit ’n val en opstaan en weer probeer, maar met gebed kom ons dag ná dag nader aan die balans.
Leer jou kind die kuns van jammer sê en regmaak
Hoe moeilik is dit vir jou om te erken dat jy ’n fout gemaak het? Hoe belangrik is dit vir jou dat jou kinders met jou moet eerlik wees indien hulle ’n fout gemaak het?
Hoe jy optree nadat jy ’n slegte besluit geneem het, wys en leer vir jou kind hoe ’n sekere situasie hanteer moet word. Uiteindelik gaan dit nie oor die fout wat jy gemaak het nie, maar oor hoe jy te werk gaan om dit reg te stel, daaruit te leer en enige skade te herstel.
Om foute te maak, help dit volwassenes en ook kinders om hulle besluitnemingsvaardighede te verbeter. Dis geleenthede om te leer en te groei vir almal in die huis.
Probeer altyd ’n voorbeeld stel en beeld dieselfde positiewe gedrag en houding uit wat jy graag in hulle wil sien.
Jy is jou kind se belangrikste voorbeeld en is spesifiek gekies om jou kind se ouer te wees. Daar is nie ’n beter ma vir jou kind as jy nie. Vergewe jouself vir foute wat gemaak is en hoe jy dit hanteer het.
Begin dan vandag om positiewe veranderinge te maak met hoe jy situasies vorentoe hanteer. Dink ’n situasie eers deur voordat jy reageer.
Dit is belangrik vir jou om uit jou foute te leer deur te identifiseer waar die probleem is. Sodoende kan jy verander om ’n beter weergawe van jouself te wees.
Niemand weet presies hoe om alles wat in die ouerskapavontuur op hulle pad kom te hanteer nie. Tog bly die beste ouers altyd op soek na maniere om te verbeter.
Ons gesin leer elke dag by ons. Dit is ons verantwoordelikheid om vir hulle nuwe lewensvaardighede aan te leer en hulle voor te berei vir die grootmenswêreld.
Hoewel ouerskap een van die moeilikste uitdagings en “beroepe” is wat bestaan, bly dit ook die bevredigendste werk wat jy nog kan aanpak. Dra jou kroon as die ma in jou huis met trots. Indien dit begin afval of ’n bietjie skeef sit, skuif jy hom reg en begin weer.
Ouers moet as ’n span saamwerk om kinders groot te maak
Kinders grootmaak (net soos kinders maak) is nie ’n eenmansaak nie. Dit vat twee mense. Twee mense wat self baie anders grootgemaak is en heel waarskynlik hulle eie idees van “reg” en “verkeerd” het. So hoe maak ons nou? Wie “wen”?
Die kinders natuurlik! Ons kinders is ons s’n vir ’n rede. Die enigste “regte” manier van hulle grootmaak, is sáám. Hulle het Pappa se vrye gees net so nodig soos Mamma se partykeer kwaai wees.
Soms vra die situasie vir ’n sagte woord en ander kere kort daar strenger aksie. Solank ons op dieselfde bladsy is, al vereis dit om ’n bietjie in te gee. Dis selfs belangriker wanneer ouers dalk nie ’n huwelik deel nie. Ons is ons kinders se veilige hawe en sekuriteit. Hulle kyk op na ons.
Wanneer ouers as ’n eenheid saamstaan en vir hulle die veilige ruimte skep om te groei en groot te word, floreer hulle.
Gee mekaar die ruimte om saam die ouers te word wat julle albei wou wees. Kommunikasie is die hart van enige suksesvolle vennootskap.
Maak tyd om met mekaar te gesels oor alles. Verwagtinge vir die gesin, dissipline, belangrike drome en waardes, roetines en huisreëls. Dinge wat jou pla of wat jy graag anders wil hê.
Wees oop vir mekaar se voorstelle en verduidelik waarom sekere dinge vir jou belangriker is as ander. Luister ekstra lank en moet nie mekaar in die rede val nie.
Soos ons kinders ouer word, duik daar gereeld nuwe uitdagings op. Daar moet keer op keer heroorweeg word waar almal staan.
Dit is moeilike onderwerpe om aan te spreek. Ouers vergeet steeds daarvan tot hulle besef, hulle verskil alweer. Tog is hierdie gesprekke kosbaar en hou dit aan om ons huishouding en verhouding as ma en pa te transformeer. Net omdat ons weet waar die ander persoon staan.
Ouerskap bring ’n mens gereeld tot op jou knieë. Daarom is daar geen plek oor vir veroordeling nie. Niks meer vuil kyke of baklei voor almal nie. Die enigste pad tot sukses en geluk is samewerking en aanpasbaarheid.
Die impak op ouers van moeg of uitgeput wees en uitbranding
Fisieke en geestelike moegheid is die gevolg van ’n oormaat stres oor ’n lang periode. Die eise wat aan ’n ma gestel word, is meer as wat met die hulpbronne beskikbaar hanteerbaar is.
Dit bestaan uit drie dimensies – emosionele uitputting, depersonalisasie en verlaagde effektiwiteit. Dit het ’n ernstige uitwerking op ma-wees. As ma, voel ’n persoon soos ’n totale mislukking.
Die energie om tyd en aandag aan jou kinders te gee, ontbreek. Vir die geringste dingetjie verskree jy hulle. Hulle raak bang vir jou.
Uiterste vermoeidheid kan die geheue aantas. Belangrike gebeurtenisse word vergeet. Jou emosies ry wipplank en die kinders reageer met aggressie. Die verhouding met jou man versleg, dis chaos in die huishouding.
Al drie dimensies het hulle eie simptome. Tipiese simptome van die beginfase van uitbranding sluit in slaaploosheid, ’n gebrek aan konsentrasievermoë, gemoedskommelinge en fisieke siektes.
Hoe meer gevorderd die uitbranding, hoe meer simptome kom by. Op ’n dag voel jy jy is nie meer in beheer van jou lewe nie. Alle hoop vir die toekoms verdwyn en jy vertrou niemand nie.
Maar jy kan ’n paar dinge doen … Vra hulp. Besef jy is nie die enigste ma wat moeg is, alleen in die verhouding of in die wêreld nie. Begin by God en staan net 15 minute vroeër op om die dag rustig saam met Hom te begin.
Maak tyd vir jouself. Jy weet jy moet en mag, maar doen dit nou in alle erns. Sit elke dag ’n paar minute opsy hiervoor. Jy sal vind dat jy skielik baie meer tyd en energie het. Vat af en toe ’n dag net vir jouself. Besoek ’n spa, bly in die bed met ’n boek, bederf jouself.
Leef gesond deur reg te eet en te oefen. Leer die kinders die speletjies wat jy gespeel het toe jy jonk was. Spring tou, speel wegkruipertjie, gaan stap. En hierna fokus jy op genoeg slaap. Spandeer minder tyd op jou foon of tablet en slaap meer.
Wees voorbereid daarop dat daar verandering sal moet wees, en dat dit nie altyd lekker of welkom is nie.