Val jy soms vas in die verlede en in kommer oor die toekoms? Dan mis jy die hemelse seëninge reg voor jou oë, sê ANNALIE STEENKAMP–NEL.
So kry jy insig vir die toekoms
Ons leef in ’n opwindende tyd waarin ons God duideliker kan sien as ooit tevore. Maar dan moet ons meer rustyd hê. Met die insig wat jy in hierdie stil tye kry, het jy groter vrymoedigheid om elke môre in Sy hande te los.
“Insig” is die vermoë om die waarheid raak te sien oor byvoorbeeld wie Hy is en wat Hy kan doen. Dit kan ook ’n openbaring wees wat jy oor verskeie sake kry: die groot meesterplan en waar jy tans daarin pas. Jy sien jou vaardighede en sterk punte en hoe en waar jy dit kan gebruik. Dis ook wanneer jy bewus raak van gevare en slaggate en hoe om dit te systap of bestuur.
Het jy al uit die bloute ’n idee gekry? Het jy persoonlik ervaring van ’n geestelike krag? Kan jy aan ’n oomblik dink toe jy beter oordeelsvermoë as die meeste ander mense gehad het? Dan het jy insig gehad!
’n Mens kan gelukkig hierin groei. Daar is universele beginsels wat oral werk. Lukas sê ons moet die Bybel met ’n opregte hart bestudeer, want dan sal ons Hom regtig leer ken. Leer om versigtig oor ’n saak te dink totdat jy insig kry oor Sy wil en werking in jou lewe. Dis hierdie “geheime” kennis wat jou hoop gee vir môre.
Ons besef dit nie, maar in die Bybelse tyd het mense ook ’n baie druk program gehad. Jesus en die dissipels moes altyd nóg ’n dorpie besoek, nóg iemand te woord staan of genees, vir nóg iemand bid. Markus vertel dat hulle soms nie eens kans gehad het om te eet nie.
Ek het gedink dat hulle, in die lig van die dringende koninkryksvisie en hulle groot taak, seker aanhoudend gewerk het. Jesus se aktiewe bediening was maar net drie jaar lank voordat Hy gesterf het.
As jou gedagtes begin dwaal, fokus op die nou
Jesus het die dissipels gesê hulle moet alleen wegkom na ’n stil plek toe om ’n bietjie te rus. Hy het self ook gereeld gaan rus. Nadat die mense weggestuur is, lees ons, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te gaan bid.
Soms dink ek my begroting en geldsake laat nie wegbreekkanse toe nie, maar wanneer die Here my kern is, hoef ek mos nie bang te wees nie. Hy sorg tog vir my. Ek kan wegbreek sonder om rond te rol van bekommernis. In Spreuke 3:24 kry ons die belofte dat ons nie bang hoef te wees as ons gaan slaap nie.
Sodra jy in stilte sit of tussen slaap en wakker is, sal jy na sowat twee sekondes agterkom dat jy oor iets spesifieks begin dink. Dalk tob jy oor die verlede of bekommer jou oor die toekoms. Of dalk glip jy in die een of ander fantasie of dagdroom of verbeeldingsgesprek in.
Selfs ’n ou vrees of angs kan sy vinger in jou gedagtes steek. Soms begin jy die een of ander plan maak oor iets wat jy moet doen. Dan besef jy jy is besig om al hierdie dinge tevergeefs te probeer uitredeneer! Sodra ek dit agterkom, hou ek dadelik op om my situasie te probeer ontrafel. Of om skuldig te voel oor verspeelde kanse of misverstande wat my verhoudings benadeel het.
Bring jou gedagtes terug na die oomblik en fokus op ’n Bybelvers of ’n gedagte oor God. Op dié manier kan ’n mens jouself weer met Hom sinchroniseer. Hou aan om dit te oefen totdat jy dit vanself kan doen. Die wonder van naggedagtes is dat die Gees reeds binne ons bid. Ons moet net by Hom aansluit!