Hoe onderwysers weer krag kan vind deur eenvoudige rusgewoontes

Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) moedig ouers, kinders en onderwysers aan om hulleself welverdiende rus te gun nadat ’n jaar van uitdagings, groei en uithouvermoë sy tol begin eis.

Rus begin wanneer jy leer om jou eie seisoen raak te sien

Wat as rus ’n vaardigheid is wat niemand ooit behoorlik vir ons geleer het nie?

Soos die jaar sy laaste draai maak en eindjaarmoegheid tussen klaskamers en huise insluip, raak die wêreld net ’n bietjie moeiliker.

Terugflitse, prysuitdelings en eindelose afhandelwerk laat selfs die mees toegewyde onderwysers wonder waar hulle nog ’n bietjie energie moet optower.

Onderwysers word geprys vir uithouvermoë, leerders vir vasbyt en ouers vir hul onwrikbare “alles dra”. Tog fluister ’n stil waarheid: almal is moeg, maar op verskillende maniere.

En dalk lê die oplossing nie in ’n langer vakansie of ’n nuwe kussing nie, maar in die vraag: Watter soort rus het ek werklik nodig?

Rus word ’n te eenvoudige taak op ’n moetdoen-lysie, iets waarvoor ons verskonings maak.

Maar ware herstel begin wanneer ons herken in watter seisoen ons leef. Soms beteken dit om die lewe stadiger te vat.

Soms beteken dit om stil te staan. En soms beteken dit om opnuut te leer asemhaal, sonder skuld en sonder skaamte.

Sluit aan by SOS se missie om onderwys te versterk.

Besoek skole.co.za vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.

Bewustelike ontspanning kan jou help om te voel wat jou vul

In ’n wêreld wat vinniger en meer uitdagend en veeleisend raak, het rus selde die ruimte wat dit verdien.

Ons lig geen wenkbrou vir iemand wat ’n pynpil drink nie, maar ’n middagslapie wek onmiddellik ’n oordeel – selfs al is dit presies wat ons nodig het.

Onderwysers en ouers leef met emosionele en sosiale uitputting, maar wat jou die meeste dreineer is besluitmoegheid. Kinders is sensories oorlaai en konstant onder druk.

So waar begin mens? Miskien by die eenvoudige vraag: Wanneer laas het ek iets gedoen wat niks met produktiwiteit te doen gehad het nie, maar tog goed gevoel het?

Dalk is dit ’n stappie om die blok, dalk ’n warm koppie tee sonder afleidings, dalk ’n paar minute se stilte.

Rus vra dat ons oplettend bewus word van dit wat ons vul. Die geheim lê nie in meer doen nie, maar in minder jaag.

Wanneer ons ophou kompeteer met die wêreld se tempo, begin ons weer hoor wat ons ligter maak. En presies daar, in die klein oomblikke, leer ons die soort rus wat nie net ontspan nie, maar herstel.

Hoe balans en genade jou help om af te skakel sonder skuldgevoel

Ons liggame vra nie vir luuksheid nie; hulle vra vir balans. Maar balans bly ’n besluit – een wat net jy kan neem.

Soms is die seisoen waarin jy is, een wat eenvoudig deurgewerk moet word, bietjie vir bietjie, sonder haastigheid en met baie genade vir jouself.

Rus is nie ’n beloning nie; dit is ’n herinnering dat jy mens is, dat jy perke het en dat jou menswees waardevol is.

Wanneer ons leer om te rus sonder om skuldig te voel, begin ons verstaan dat selfversorging nie selfsug is nie, maar wysheid.

Dit gee ons ruimte om sagter te wees met onsself, om die uitdagings van die jaar beter te verwerk en om met hernude hoop voorentoe te beweeg.

En bowenal hoef niemand hierdie pad alleen te loop nie. Hou vas aan die belofte van Romeine 8:28, wat sê dat alles, selfs moegheid en herstel, ten goede kan meewerk.

Dis in hierdie plek van balans en genade waar onderwysers weer kan groei, herstel en leef.

Sluit aan by SOS se missie om onderwys te versterk.
Besoek skole.co.za vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan raak.

Deel die artikel

Méér artikels

Die wagtyd ná matriek bring onsekerheid en angs; die Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied riglyne om emosies te verstaan, stres gesond te hanteer en veerkragtigheid te bou. ...

2025 was ’n warrelwind van roosters, aktiwiteite en eksamens. Met Wolkskool se hulp kan jy nou slim beplan sodat 2026 rustiger en meer georganiseerd begin. ...

Scroll to Top