Hoor God se stem in ’n besige wêreld

Hoor God se stem in ’n besige wêreld 

’n Druk besige program ... Te veel pligte, take en mense wat jou aandag opeis ... Dis die realiteit van die wêreld. Iewers wil jy tyd vir jou geloof maak. 

Moenie te besig word vir wat belangrik is nie 

Maak jy nog genoeg tyd vir aanbidding en studie van die Woord? Ja, jy hoef nie skuldig te voel oor jou leefstyl nie, maar dit is belangrik om teenoor jouself verantwoording te doen.

Toets jouself met ’n paar vrae, maar wees werklik eerlik in jou antwoorde. Waaraan dink ...

’n Druk besige program … Te veel pligte, take en mense wat jou aandag opeis … Dis die realiteit van die wêreld. Iewers wil jy tyd vir jou geloof maak. 

Moenie te besig word vir wat belangrik is nie 

Maak jy nog genoeg tyd vir aanbidding en studie van die Woord? Ja, jy hoef nie skuldig te voel oor jou leefstyl nie, maar dit is belangrik om teenoor jouself verantwoording te doen.

Toets jouself met ’n paar vrae, maar wees werklik eerlik in jou antwoorde. Waaraan dink jy, waaroor bid en praat jy, en wat doen jy met die meeste van jou tyd?

Ons maak altyd tyd vir die dinge wat ons graag wil doen – maak nie saak hoé besig ons skedule is nie. Wanneer jy werklik tyd aan jou geloofsverhouding wil spandeer, sal jy tyd máák en herprioritiseer om by geloofsverdieping uit te kom.

Tyd het ’n manier om vir ’n mens te wys wat werklik van waarde is. Stephen Covey het gesê: “Die meeste van ons spandeer te veel tyd aan dít wat dringend is en te min tyd aan dít wat belangrik is.

Tyd is die een ding wat almal wil hê, maar die een ding wat almal verkeerd gebruik en soms misbruik.”

Jy kán te midde van ’n besige leefstyl jou daaglikse stiltetyd in iets prakties verander. Gebruik Jesus as jou voorbeeld en word stil wanneer jy alleen is op ’n bergtop en ook tussen mense.

Moenie jou aan tyd laat bind nie en bid sonder ophou, soggens, saans en heeldag.

Dit is die druk skedules en geraas van die lewe om ons wat ons aandag van ons stiltetyd met God kan aftrek. Gee jou belangrikste kommoditeit – naamlik tyd – vir Hom. Nie uit skuldgevoel nie, maar as ’n intieme hartsbesluit.

Ervaar God se teenwoordigheid op nuwe maniere 

Ons geestelike wandel is nie ’n ontvlugting uit die lewe nie, maar ’n bewys van God se alomteenwoordigheid. Neem die besluit om Hom in alles raak te sien … en te hoor!

Die radio, TV, internet, sosiale media, nuus, valse nuus, lysies wat deur jou kop gaan, aanhoudende selfoonkennisgewings … Dis alles dinge wat jou doof (en blind) maak. Die vraag is: Hoe kan ek die Here hoor en vind in elke dag se gebeure tussen elke dag se geraas?

Begin by jou stiltetyd en maak daarvan ’n daaglikse en seisoenale roetine. Onthou: “Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag” (Jes. 40:31).

Hy praat op verskillende maniere met jou. Wag op die Here, skenk geboorte aan ’n God-gedagte en nie net aan ’n goeie gedagte nie.

Die Bybel is God se boek van beginsels en voorskrifte. Hoewel dit ook as ’n geheel met ons praat, praat die Here meestal met ons deur ’n spesifieke woord of gedagte in sy Woord.

Maar as ’n vrou vir my man, ’n mamma, ’n dogter, ’n suster, ’n vriendin, ’n medewerker en ’n leier moes ek oor die jare aanpas en leer hoe om die Here in my alledaagse roetine te hoor en te vind. Soms ook op kreatiewe maniere en nie net in die oomblikke van afsondering nie.

Terwyl ek met gewone dinge besig is, vra ek vrae wat later op die interessantste maniere deur Hom beantwoord word. Ander kere wag ek net op Hom om iets van wie Hy is en wat Hy besig is om te doen of wil doen aan my te openbaar.

Die een manier waarop die Here met my praat, wat my die meeste opgewonde maak, is deur drome. Baie aande voor ek gaan slaap, vra ek die Here om in my drome met my te praat. Soms sal ek weer ’n profetiese droom oor iemand droom sonder dat ek daarvoor gevra het.

Ek vra die Here vir uitleg van die droom en bevestiging uit sy Woord voordat ek dit deel.

Ander kere sal ek op ons bed gaan sit, terwyl my man die kinders besig hou. Ek sal my oë toemaak en in my geestestaal bid en wag dat die Here vir my ’n visioen gee.

Daar is soveel meer! As ons God alleenlik in ons stiltetyd of tydens ’n Sondagdiens vind, het ons ’n ernstige gebrek aan begrip van wie en wat God is.

Skep doelbewus tyd om stil te word 

Begin deur te identifiseer wat jou aandag van jou geloofslewe steel. Waar alles Woordgesentreerd moet wees, versteur ons die harmonie deur te veel aandag aan ons omstandighede te gee.

Nie een van ons is perfek in ons aanbiddingstyl of op ons geloofspad nie. Moet daarom nie so hard op jouself wees nie. Máár werk aan ’n plan om jou luisterpad makliker te maak. Weet waarna om te luister en wat om te ignoreer.

Een van die grootste dinge wat soms kan inmeng, is onsself. Ons staan in ons eie pad. Die menslike natuur neig daarna om alles te bevraagteken en heroorweeg. Dit, laat ons dikwels alleen agter in hartseer omstandighede.

Die moontlikhede is oorweldigend en laat ons verward. ’n Lae selfbeeld kan ’n mens ook keer om drastiese geloofstappe te doen.

Jy glo dalk dat jy nooit suksesvol sal wees nie. Selftwyfel is een van die grootste sondebokke. Vertrou net en vra minder vrae.

Dis eintlik tog maar ons opdrag. Ons verwar egter logika met vrees en maak dít ons steunpilaar. Só word dit ’n stopteken op ons geloofspad. Ignoreer jouself en streef na die begeertes en drome wat die Gees in jou hart gelê het.

’n TV-program, nuusberig of sosiale media kan jou van jou Godgegewe planne laat afsien. Vrees word ingeboesem deur net op die wêreld se probleme te fokus.

Dis dan wanneer ons moet grense stel en selfbeheersing toepas. Tegnologie is nie koning nie, die Woord is.

Familie is een van die kosbaarste aspekte van die lewe.

Ongelukkig kan hulle ook ons grootste vyande wees. Soms bedoel ’n familielid of ’n eggenoot goed deur al die raad wat hulle op ons neerstort, maar na wie luister jy?

Die grootste geleenthede kan misgekyk word omdat ander se besorgdheid en oorbeskerming ’n mens se ore toedruk vir die opdrag van die Here. God het egter fenomenale planne vir ons lewe.

Dalk het jy ander hindernisse wat jou fokustyd met die Here steel. Weet jy wat jou keer om van God te hoor? Kan jy dit identifiseer?

Gee dit ’n naam. Moenie dit ontken nie. Dit kan dalk net die oorsaak van die struikelblok in jou lewe wees.

Moenie toelaat dat die lewe se gebeure veroorsaak dat jy die boodskap wat jy moet hoor, misloop nie. Deur dít te doen, kan ons moontlik baie seëninge in ons lewe misloop. Vra in gebed waaraan jy minder aandag en fokustyd moet bestee.

Gesonde grense gee geleentheid vir vrede 

Dit is ’n Godgegewe opdrag om stil te word en te leer om gesonde grense te stel. Jy moet ’n doelbewuste besluit neem om tyd opsy te sit en ’n ruimte te skep vir Hom en sy werk.

Dit is nodig vir jou om by God se voete te gaan sit om te herlaai. Jy kan dan weer kreatief dink. En dan stel Hy jou in staat om te onderskei. Ons voel dikwels oorweldig omdat alles om ons so vinnig beweeg.

Die wyse waarop ons kommunikeer, veroorsaak dat verhoudings versnel. ’n Mens leer iemand skaars ken, dan is julle al in ’n verhouding. Soveel gaan verlore in ’n verhouding wat so vinnig beweeg. Daar is nie genoeg tyd om te dink of dinge te prosesseer nie.

Hierdie vervreemding kom deur versnelling, want ’n mens het nie tyd nie. Jy maak nie kontak nie. Jy dink nie oor dinge nie en jy is nie oorspronklik met jou idees nie. Jy volg net eenvoudig ander en maak nie tyd om werklik te besluit hoe jy voel nie.

Daar kom saam met die vervreemding ook verdeling. Toestelle neem sekere van ons funksies oor. Ons hoef nie meer te dink nie.

Ons gebruik die internet as ’n betroubare bron eerder as om self navorsing oor ’n saak te doen. Alle bronne op die internet is ook nie betroubaar nie.

Kreatiwiteit, konneksie en kommunikasie is wat verlore gaan.

Ek doen nie meer goed met my lyf, my hart, my verbeelding en my siel nie. Ons raak verslaaf aan tegnologie. Die dinamika van verslawing is dat ’n deel van jou brein – die beloningsisteem – geaktiveer word.

Die gevolg is dat jy dan vinnig uitbrand en daar is ongelukkig niks meer wat jou opgewonde maak nie. Maar ek is ’n voorstander om eerder soms nee te sê en om iets mis te loop!

Dit verskaf soveel vreugde om soms net grense te stel. ’n Mens het nodig om by jou Bron krag te kry. Om jouself daagliks te isoleer van alle tegnologie, geraas, mense, stemme en take wat gedoen moet word.

Word daagliks stil by God. Leer om net by Hom te wees. Om rus vir jou siel te vind. Wie jy is, is meer as genoeg. Jy hoef nie te presteer om in God se oë aanvaar te word nie. Jy hoef nie te werk vir sy guns en genade in jou lewe nie. Vind jou rus by Hom.

Deel die artikel

Méér artikels

Gee God beheer en kyk hoe jou lewe verander! Kenner LYNETTE BEER wil jou aanmoedig om te ontdek hoe vertroue op Hom kan lei na ...

Dis maklik om in swak gewoontes vas te val. Deur meer bewustelik te leef, ontdek jy wat jou motiveer én terughou sodat jy beter keuses ...

Scroll to Top