Is jy sy ideale vrou?

2467

Vroue sê maklik wat hulle verwagtings en behoeftes in die huwelik is, maar weet jy wat jou man se idee van die perfekte vrou is?

Die huwelik word soms as ’n strafkamp eerder as ’n plesier uitgebeeld – veral uit ’n man se oogpunt. Die arme man verloor al sy vryheid, word teensinnig betrek by huishoudelike sake en mag net oë vir sy vrou hê.

Soek hy ’n poppie waarmee hy kan spog?

Watter rol speel aantreklikheid en voorkoms in ’n verhouding? Die meeste mans sal ontken dat voorkoms ’n rol speel as dit by die keuse van ’n vrou kom, maar in werklikheid is dit een van die belangrikste faktore.

In ’n meningsopname is mans gevra wat hulle verkies: ’n aantreklike arm vrou of ’n onaantreklike ryk vrou? Sowat 55% het eersgenoemde gekies.

Navorsers meen ’n man soek ’n mooi vrou omdat hy geneties geprogrammeer is om aangetrokke te voel tot iemand wat ’n gesonde, viriele potensiële maat is. Dit beteken nie dat ’n vrou soos ’n skoonheidskoningin moet lyk nie. Dit gaan meer oor haar styl en sjarme.

Mense se opvattings van skoonheid verskil, maar dinge soos selfvertroue, ’n mooi houding en ’n goedversorgde vrou wat die meeste van haar bates maak, is hoog op die lys.

Soek hy ’n sielsgenoot wat sy hart verstaan?

Die manne erken dat skoonheid vervaag, maar wat belangrik bly, is die kameraadskap waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. Hy smag na daardie sielsgenoot wat hy regtig kan vertrou.

Hy soek beslis nie ’n slaaf om die skottelgoed te was of kos te maak nie. Die meeste se verwagting van die huwelik is ’n verhouding waarin respek, vennootskap en gedeelde verantwoordelikheid ’n rol speel.

Mans het wel emosionele behoeftes, hulle is net nie so openhartig daaroor nie. Dit voel goed wanneer ’n vrou tyd maak om werklik na hom en sy drome vir die toekoms te luister.

Ons almal funksioneer beter as ons emosioneel veilig voel. En ja, dit is so dat mans ook emosioneel verwaarloos kan word. Die behoeftes van mans en vroue is eintlik baie eenders.

Paartjies se unieke verskille word saamgebind deur hulle eendersheid. Dit is ’n spirituele ervaring waar dit die onsigbare dinge is wat tel.

Hy het jou onbewustelik as sy maat gekies

“Mans het nie ’n lysie eienskappe wat hulle in ’n vrou soek nie.” Hierdie stelling is slegs waar as jy oor ’n man se bewuste denke praat.

Huwelikskenner Floris Knouwds sê mans kies selde op ’n bewuste vlak ’n lewensmaat. Dit is meestal ’n onbewuste proses waarin baie dinge ’n rol speel. Soos die persoonlikheid en optrede van sy ma, die eienskappe van ander vroue wat hy in flieks gesien het, sy idees oor hoe ’n vrou hom gelukkig gaan maak en sy behoefte aan nabyheid.

Hierdie prentjie laat hom dan aangetrokke voel tot ’n spesifieke vrou sonder dat hy kan verklaar hoekom. Hy verstaan dit maar as liefde. As die troudag verby is, word hierdie beeld die filter waardeur hy na jou kyk. Dit word die vereistes wat hy onbewustelik aan jou stel.

Elke keer wat jy nie aan hierdie verwagtings voldoen nie, beleef hy ’n mate van teleurstelling. In sy onderbewussyn pas jy nie meer in die prentjie nie.

Daarom is dit belangrik dat lewensmaats leer om eerlik by hulle eie harte uit te kom. Vra: “Wat wou ek regtig graag in ’n lewensmaat hê?” wanneer dit gaan oor dinge soos voorkoms, finansiële welvaart, afhanklikheid van mekaar, seks en kameraadskap.

Wees eerlik met mekaar hieroor; dan sal verwagtings nie ’n negatiewe uitwerking op julle verhouding hê nie.