Gelukkig is ouderdom net ’n getal en is vyftig die nuwe dertig. Ons help jou om jou kop reg te hou sodat jy positief oud sal word.
Die wêreld verander vinnig en daarom durf ons nie stagneer nie. Nooit nie. Ons moet energiek, betrokke en produktief bly.
Moeë, oudmodiese denke is tot nou toe as ’n onvermydelike deel van ouer word beskou. Nie meer nie! Verby is die dae van op die stoep sit en fisies en verstandelik agteruitgaan.
Party tagtigjariges kry grade, ander neem aan marathons deel en ’n groot aantal maak nog hulle merk in die samelewing.
Wie het in elk geval gesê die lewe het ’n sperdatum? Dis tyd om die ouderdomsbeperkings te ignoreer wat jy vir jouself gestel het. Dink eerder aan hierdie fase as ’n voorreg en as ’n seën.
Om mooi oud te word beteken nie meer Botox en vullers nie. ’n “Jong” brein is die beste teenmiddel. Om met grasie oud te word het nou ’n heel ander betekenis as voorheen.
Jy is dalk begaan oor die paar grys hare of plooie wat bygekom het. Dit is egter die onopvallende, geleidelike agteruitgang van veral jou denke wat die probleem is.
Dit is nooit te laat om jou denke ’n verjongingskuur te gee en daardie vonkie van lewenslus en jeugdige energie aan te blaas nie.
Oudword begin in jou kop. Deur jou kop reg te hou, kan jy ’n vervulde, suksesvolle en gelukkige vrou wees.
Dit sal die lewe op talle terreine beter maak. Hoe klink tonne meer pret en meer avontuurlus?
’n Gelukkige jy sal ook beter met die familie klaarkom, saam met die kleinkinders chill en nuwe vriende maak.
Moenie toelaat dat ouer word jou lewe reël nie
By die werk sal jy meer kreatief wees en verandering makliker hanteer. Jou kollegas sal jou sien as ’n entoesiastiese, energieke ouer vrou, vol briljante idees en altyd een stappie voor.
Jy sal meer dinamies en vol selfvertroue wees, ’n spanspeler en innoveerder wat nie bang is om kanse te waag nie.
Geen vrou mag toelaat dat om ouer te word haar lewe reël nie. Sy besluit self watter dinge gaan bepaal of sy in hierdie tyd sal floreer of nie.
Gaan jy sit en wag dat iets moet gebeur, terwyl jou dae leeg en sinneloos voor jou uitstrek? Of gaan jy aftrede eerder beskou as ’n uittrede of oorgang van die een seisoen na die volgende?
Ons kan uitsien na ’n gelukkige oudag waar ons nog steeds produktief kan wees. Een onderwyseres het na haar aftrede begin om ekstra klasse aan te bied en sy floreer. Sy geniet die interaksie met die kinders, en sy en haar man het nou geld om Afrika te verken.
Die suurpruime verkies om net te sit en kla en skinder. As ons dit toelaat, kan onverwerkte pyn, woede en vertroebelde verhoudings ons lewensvreugde steel.
Begin vandag om ’n toekoms tegemoet te stap waarin jy ’n aktiewe rol speel en belangstelling in alles om jou behou. Dan sal jy ’n stimulerende, interessante lewe vol pret hê, en elke dag sal ’n nuwe uitdaging inhou.
Jou brein is die sentrale beheerstelsel van jou ervaringswêreld – intellektueel, fisies, emosioneel en geestelik.
Wanneer die brein gesond is en aanhou groei, kan ons op ons beste funksioneer en die lewe voluit geniet.
Groei en ontwikkeling hou jou brein jonger vir langer
Voorheen is daar geglo dat ’n mens met ’n sekere aantal breinselle gebore word en dat jou denke noodwendig met tyd agteruitgaan omdat die selle sterf. Met ander woorde, jy was gelukkig as enige van jou breinselle nog betekenisvol kommunikeer aan die einde van jou lewe!
Die konsepte “neurogenese” en “neuroplastisiteit” het later begin kop uitsteek en nou het dit navorsers aan die praat.
“Neurogenese” beteken dat die liggaam aanhou om stamselle te maak. Wanneer jy nuwe dinge leer, vestig die stamselle in die brein. “Neuroplastisiteit” beteken dat die brein kan groei en verander, afhangend van ervaring, stimulasie, oefening, meditasie en leer.
Ons is dinamiese wesens, met breine wat in staat is om aan te hou groei en ontwikkel solank ons bly beweeg en leer.
So, kan ’n ou hond nuwe toertjies aanleer? Vir seker! Maar daar is voorwaardes.
Navorsers het bevind dat oefening wat die harttempo versnel, soos ’n vinnige stapsessie van twintig minute, die vorming van nuwe stamselle stimuleer.
Die selle moet egter rigting en fokus kry om nuwe breinbane te vorm. Die bane ontwikkel wanneer jy iets nuuts aanleer deur dit oor en oor te doen. Dis amper soos ’n voetpaadjie wat in die veld oopgetrap word as mense gereeld daarop stap.
Jy hoef nie vir ’n graadkursus in te skryf nie. ’n Nuwe danspassie, kaartspeletjie, stokperdjie, taal of kunstegniek sal ook die denke skerp hou.
Party van ons het bestaande breinpaaie wat lankal nie meer tot ons voordeel is nie. Vra maar vir rokers – die ou paaie word baie maklik weer geaktiveer.
Daar is ’n konneksie tussen jeugdig bly en kreatiwiteit
Die beste is om ou, ongewenste paaie te ignoreer en in onbruik te laat verval. Wanneer jy meer aandag aan die kweek van ander goeie gewoontes gee, gebeur dit outomaties.
Hier is ’n wenk om ’n nuwe gewoonte aan te leer: Maak dit maklik vir jouself. Sit jou oefenklere die vorige aand reg sodat jy dit sommer met halftoe oë kan aantrek om vroegoggend te gaan stap. Of maak die yskas vol gesonde kos en moenie sjokolade of koekies in die huis aanhou nie.
Deur gereelde, positiewe aksies kan jy swak gewoontes in onbruik laat verval en beter gewoontes vestig.
Dus, as jy ’n vervulde oudag wil beleef, moet jou brein in ’n goeie, werkende toestand bly. Jy moet aanhou leer!
Dit is net ’n storie is dat ons later baie van ons breinselle verloor. Wat ons wel verloor, is volume.
Dit is ook wat met die vel gebeur. Die velselle verloor volume, raak “platter” en plooie is jou voorland. Vir “plat” breinselle is daar egter nog nie vullers uitgedink nie, maar daar is raad.
Oefening is goed, want dit stimuleer die vervoer van suurstof en glukose na die brein, wat die selle oppof.
Daar is ook ’n konneksie tussen jonk bly en kreatiwiteit. Natuurlik beteken dit nie almal moet nou begin teken, brei of koek versier nie.
Kreatiwiteit is eintlik maar net om dinge op nuwe maniere te doen of om iets uit ’n ander hoek te sien. Dit is om oorspronklik te dink, meer as een moontlikheid te oorweeg en gereeld te dagdroom.
Dis waar dat kreatiwiteit verminder namate ’n mens ouer word.
Kreatiwiteit is ’n fantastiese teenmiddel teen oudword
Ons vra nie meer honderde vrae nie, want ons raak minder nuuskierig. Of ons dink ons wys ons onkunde met vrae, dan bly ons liewer stil. Ons spring nie meer van die tafel af net om te weet hoe dit voel om te vlieg nie!
Inteendeel. Ons dop ons oë om en vou ons arms sodra iemand met ’n nuwe voorstel kom of as ons uitgedaag word om iets op ’n nuwe manier te doen. Ons raak verknog aan ons roetines en gewoontes: “Nee wat, dit het nog altyd vir my gewerk” of: “Hoekom op mý ouderdom nuwe maniere aanleer?”
Uit hoeveel roetines bestaan jou dag, wat jy nooit meer bevraagteken nie? Dit is die wat, hoe, wanneer en waarmee jy iets doen.
Die plastisiteit van die brein stel dit in staat om te verander deur nuwe dinge te leer en dinge op nuwe maniere te doen. Daar is selfs bewys dat as jy genoeg tyd neem om net te dink aan die verandering wat jy wil teweegbring, jou brein klaar verander!
Verbeelding is presies wat nodig is om nuwe inligting met konneksies of paadjies in jou brein te vestig. Dis ’n uitstekende manier om te groei en daardie selle op te pof.
Maak ’n punt daarvan om besige tye in stil tye te verander en gee jou verbeelding vrye teuels. Verbeel jou hoe die vertrek gaan lyk wat jy wil verander. Of sien jouself met vakansie op ’n plek waar jy nog nooit was nie.
Kreatiwiteit is ’n gawe wat ons almal ontvang het, ’n fantastiese teenmiddel teen oudword!