Die huwelik is soos ’n legkaart met honderde stukkies. Een stuk wat die hele prentjie kan bederf, is destruktiewe kommunikasie. Ons weet mos hoe belangrik dit is om dinge uit te praat, of hoe?
Ons ken almal die reëls: dat ons mekaar moet respekteer, ons tong in bedwang moet hou en nie ’n probleem onder die mat moet invee nie. As dit maar so maklik was! Duisende paartjies sukkel om by hierdie basiese reëls te hou.
Om tussenin te praat los nie probleme op nie
Mense erken gefrustreerd dat hulle nie hulle probleme kan oplos nie – hulle praat in sirkels, sê kwetsende dinge, slinger verwyte rond en eindig gewoonlik by dieselfde probleem. Later is huweliksmaats net nie meer lus vir baklei nie. In party huwelike is die groot probleem die feit dat net een die praatwerk doen. Die ander een word met stomheid geslaan, of beweer hulle het niks om te sê nie.
Tog is daar ’n karnallie wat meer gereeld moeilikheid en frustrasie veroorsaak as al die ander – die “intjip”-siekte. Kyk, as al twee gelyk probeer praat, bars chaos los. Albei partye wil hulle sê sê, en luister nie na die ander een nie. Die bakleiery klink later belaglik: “Luister net eers… Ja, maar hoor net wat ek wil sê… Kan ek net klaar praat! Jy luister nie! Kan jy net stilbly en hoor wat ek sê?!”
Niks hiervan word in ’n rustige stem gesê nie. Of ons nou daarmee saamstem of nie, tussenin praat sê: “Jou opinie is nie nou belangrik nie” en “Dit wat ek wil sê, is belangriker as wat jy wil sê.”
As jy tussenin praat, respekteer jy nie jou maat nie
As ons aanmekaar iemand in die rede val, gebeur daar twee dinge: mense vererg hulle bloedig, verloor kop en sê mekaar sleg uit frustrasie (wat ons nie by ’n oplossing uitbring nie), of iemand draai om en loop weg – moedeloos en gefrustreerd met ’n “Toemaar, los dit”-houding.
Tussenin-praters kan hulleself mos ook altyd regverdig. Hulle val nie in die rede nie, hulle wil net gou iets sê. Hulle praat nie tussenin nie, hulle praat net saam… Hulle is bang hulle vergeet wat hulle wou sê.
Enigeen wat met ’n “intjipper” getroud is, giggel nou lekker saam en dink, ja, wraggies! Maar as jy die een is wat gedurig ander in die rede val, stem jy natuurlik glad nie met my saam nie. Jy praat nie opsetlik tussenin nie, ons verstaan jou net verkeerd!
Waarom eindig mense by die frustrasie, slegsê of omdraai-en-wegloop-oomblik? Want hulle voel moedeloos, geminag en magteloos. En dit is die kern van enige gesonde huwelik – ’n plek waar mense voel hulle is waardig. Waar hulle voel hulle is belangrik in die ander een se oë.
As ons hierdie dinge in ons huwelik begin verloor, verloor ons baie meer as wat ons besef. Ons is dalk ordentlik met mekaar, maar diep binne-in jou groei ’n stuk wrewel wat later in elke argument opduik.
Deur werklik te luister dien jy jou maat in liefde
Daar is ongekende waarde in werklik luister. Ons huweliksmaat voel hy word gehoor en na waarde geag. Deur te luister sê ons vir ons maats hulle is ’n prioriteit vir ons. Die beste hiervan is dat ons nie angstig hoef te raak, ons stemme te verhef, weg te loop of moedeloos te raak nie.
Jy moet vir jouself besluit: Wil jy reg of gelukkig wees? Is dit wat jy wil sê, op daardie oomblik regtig belangriker as om te hoor wat in jou maat se hart leef?
Effektiewe luister is ’n manier om jou maat te dien. Om nie altyd die laaste woord te wil inkry nie, nie altyd tussenin te praat of sleg te sê nie, is ’n teken van volwassenheid. En dít is iets wat huwelike laat blom. Eiegeregtigheid laat verhoudings bloei.
Jou maat bloei dalk in stilte omdat hy moeg gestry is. Julle kinders staan dalk seer en broos tussen julle omdat alles altyd lelik eindig, en die kinders angstig moet toekyk. Sê vir jouself en dalk ook vir jou maat: “Ek weet ek ‘tjip’ maklik in, maar vandag wil ek luister – ongeag of ek iets wil sê en of ek saamstem. Vandag is jou hart my prioriteit!” Jou huwelik kan dalk baat by so ’n wonderwerk.