Die wêreld het gesinne met sterk waardes nodig. Daarom is dit belangrik dat elke man (en vrou) elke oomblik in ooreenstemming leef met dit wat hulle glo.
Wýs met jou dade hoe om voluit te lewe
Ons word van kleins af geleer: Móénie sonde doen nie! Móénie foute maak nie … Móénie mense teleurstel nie. Sonder dat ons dit besef, maak ons almal wat met ons saamleef en -werk gespanne en onseker.
Gelowiges moet eerder wýs hoe om die lewe voluit te leef – nie sê hoe dit gedoen móét word en wat alles verbode is nie.
Vertel van jou stoutighede, vrese, teleurstellings en hoe jy dit oorkom het. Daar is niks lekkerder vir vriende en familie as om te hoor dat mense van die kerk ook soms twyfel, angs ervaar en selfs oortredings begaan nie.
Wys dat jy nie perfek is nie, maar dat jy real is. Almal van ons maak foute. (Al hoop ons dit gebeur nie.) Wanneer jy ’n fout maak, lag vir jouself en vergewe jouself verbaal en spot so ’n bietjie met jouself.
Maak jy nooit ’n fout wat jy dan erken en vir jouself daaroor lag nie? Dit beteken waarskynlik dat jy van almal verwag om ook hierdie onmoontlike reëls te volg en altyd skuldig te voel.
Dit is ’n emosioneel dooie plek, dis wreed en ook skynheilig. Perfek bestaan nie in hierdie wêreld nie – net God is perfek.
In plaas daarvan om ander te oordeel, maak hulle vry, gee hulle ’n alibi. Die angsvlakke van die mense in jou leefruimte sal daal, want oordeel lei tot konflik en konflik lei tot gevegte.
Daar is geen wenner in enige geveg nie … veral nie wanneer dit kom by die wen van siele nie.
Stop woorde wat seermaak … praat mooi en opbouend
Dit wat mense sê, het nog altyd potensieel groter wonde veroorsaak as vuishoue. Baie mense voel geknak deur wat neerhalend vir hulle toegesnou word of uit die hoogte aan hulle gepreek word.
Ouer mense dink jongmense is onnosel. Mans en vroue vertel grappies waarin daar minagting vir geslagte verskuil is. As kiesers kritiseer ons deur die bank owerhede vir alles wat skeefloop sonder om al die feite in ag te neem.
Dink hoe jy met almal wat oor jou pad kom, praat. Oor hulle, oor jouself, want woorde klou vas en kleef en knaag. Het jy regtig die reg om jou moegheid of werkstres op petroljoggies en bankklerke uit te haal? Wat klou aan ander nadat jy met hulle in gesprek was?
Maar gelukkig: Net so klou en kleef die positiewe dinge wat jy sê. Daar is nie verniet die uitdrukkings: tel jou woorde, of sit ’n wag voor jou mond nie.
Dit is juis só omdat daar tog wel slim mense is wat verstaan hoe giftig woorde kan wees.
Dink altyd twee keer voor jy iets sê. Besluit of jy dit dalk op ’n ander manier kan stel, of op ’n ander tyd daaroor kan praat. ’n Mens is soms onder druk om dadelik te reageer en dit is nie altyd die regte oplossing nie.
As ’n mens iets uit liefde vir iemand moet sê om hom te help, dink wat sal die beste manier wees om die boodskap oor te dra. Jy behoort die persoon te ken en te weet watter woorde meer aanklank by hom sal vind.
Verstaan die situasie. Plaas jouself in iemand se skoene en probeer jou indink hoe jy die situasie sou ervaar.
Neem ouderdomme in ag. Kinders dink anders op verskillende ouderdomme. Dit is ewe moeilik om die gedagtegang van iemand wat dekades ouer is as jy, te volg.
Staan op, staan vas waar ander passief of negatief is
Waak teen jou irritasie omdat jy dink iemand begryp iets nie. Stel ten alle tye die regte voorbeeld. Let op hoe jy met jou huweliksmaat praat, wat jy rondom jou vriende sê en hoe jy oor vreemdelinge praat.
Die kanse is goed dat jou hele gesin soos jy sal optree … Dink net hoe wyd julle kan opbou (of afbreek).
Oefen saam met jou huismense hoe om in sekere situasies te reageer en weldeurdagte woorde uit te spreek. Dis oukei as jy sukkel. Hou net aan probeer!
Gee jy vir andere die reg om jou gedagtes te vorm en te besoedel? Mense sal ongenaakbare en wrede woorde op jou hart probeer skryf.
Hou vas aan hierdie waarheid: “Jy is ’n veroweraar van die wêreld, jy is bestem vir groot dinge, jy is geroepe om God se volmaakte wil vir jou lewe uit te voer!”
Die wêreld is inderdaad wreed. Dis nie dat mense só wíl wees nie. Dis baie maal omdat hulle nie self weet wie hulle is nie. En hulle gedagtes reeds negatief is. Hulle soeke na “wie is ek?” word dan op ander uitgehaal.
Jy weet wie jy is. Sommige sal dalk jou optrede met arrogansie verwar. Bewaar jou gedagtes en fokus op die regte dinge. Laat die sang van voëls, die mooi van blomme en die lag van ’n mens jou elke dag inspireer.
Indien iets jou nie opbou en ’n beter mens maak nie, moet jy dit van die hand wys. Neem elke gedagte vas en beoordeel of dit opbouend en in lyn met jou lewensplan is. Jy is verantwoordelik vir dit wat jy dink en is die regisseur van die rolprent in jou gedagtes.
Dis menslik om verkeerd op te tree, maar dit gee ons nie vrywaring om dit aanhoudend te doen nie.
Moenie dat negatiewe vriende jou gedagtes negatief maak nie
Dalk het jy skuldgevoelens oor iets wat jy dink nie vergewe kan word nie.
Miskien voel jy verpletter omdat die gifgedagtes jou al so aangeval het dat jy voel jy is niks werd nie.
Moenie dat negatiewe vriende en andere jou gedagtes negatief maak of verlam met húlle opinies oor jou nie. Jy ken nie hulle motiewe nie en jy weet nie hoe hulle denke vervorm is nie.
Moenie persone wat dit die minste kan bekostig, toelaat om vir jou raad te gee of menings oor jou uit te spreek nie. Omring jou met mentors wat jou inspireer en aanmoedig om altyd die beste weergawe van jouself te wees.
Hoe jy jou vrou behandel, sal ook die voorbeeld wees wat in jou kinders se gedagtes verewig word. Jou kinders se gedagtes mag nooit hulle toekoms bepaal met halwe waarhede nie.
Hulle emosies mag nooit die barometer wees waaraan hulle hulleself meet en hoe hulle gaan reageer nie.
Jy en jou gesin is wenners, trouens méér as oorwinnaars! Laat jou gedagtes daagliks gesuiwer en bewaar word om te bly glo in die seën en voorspoed wat vir julle beplan is.
Daar is ’n gesegde wat lui: “Wys vir my jou vriende en ek sal jou sê hoe jou toekoms gaan lyk.” Kan vriende regtig so ’n groot rol in jou lewe speel?
Wanneer jy in ’n vertrek staan wat iemand besig is om te verf, dra jy die reuk van die verf saam met jou, al is jy nie die verwer nie. Van hier ook die stelling: “Jy word ’n produk van die mense waarmee jy jouself omring.”
Mense sê maklik hulle het nie beheer oor wie hulle is of waarvandaan hulle kom nie. Maar ’n persoon het wel beheer oor wie en wat jy gaan word.
Vervang vrot vriende met nuwes gekies met wysheid
Jy word die produk van die vriende met wie jy jouself omring. En jy kan kies wie dit is.
Vra: Bring hulle die beste in my na vore, of word ek negatief deur hulle beïnvloed?
Ondersteun hulle my en droom saam? Of breek hulle my drome af en sê jy gaan dit nooit bereik nie? Dan is hulle nie die regte maats vir jou nie.
Waar begin ’n mens? Vra jouself wie jy is en waarvoor jy staan. Het jy reeds jou identiteit in Christus ontdek? Ondersteun jy jou vriende, bou hulle op en droom saam met hulle? Volgens watter waardes en norme lewe jy?
Wanneer julle vriendekring bymekaar kom, gesels oor julle mylpale, doelwitte en drome. Só sal jy gou agterkom wie in lyn is met jou en wie ’n droomafbreker is.
Vermy sulke mense eerder.
In ’n situasie waar jy wonder of jou beste vriend slegte bedoelings vir jou huwelik het, moet jy besluit of jy daardie vriend in jou lewe wil hê.
’n Ware vriend ervaar spontane en opregte blydskap saam met jou wanneer jy ’n mylpaal bereik.
Hulle is verheug en dankbaar saam met jou as jy sukses bereik, maar huil ook saam met jou as jy ’n nederlaag ervaar. In sulke geselskap voel jy altyd op jou gemak en hulle aanvaar jou onvoorwaardelik vir wie jy is. Vriende staan saam deur dik en dun.
As ouers het ons ’n groot verantwoordelikheid teenoor ons kinders. Ons kan nie verwag dat hulle goeie vriende gaan kies as ons nie die voorbeeld gestel het nie.
Die groot vraag is: sal jy as ouer vandag jou eie vriende goedkeur as hulle jou kinders se beste vriende was? Indien jou antwoord “NEE” is, moet jy jou huidige vriende heroorweeg.