Leer om … tyd te maak vir God

Leer om … tyd te maak vir God

Wat doen jy om betekenisvolle tyd saam met God te spandeer? Ons vra die geloofsvroue van die AANLYN KURSUS Is jy te besig vir God? 

Jou tyd saam met God is kosbaar 

Stephen Covey het gesê die meeste van ons spandeer te veel tyd aan wat dringend is en nie genoeg tyd aan wat belangrik is nie.  

Tyd is die een ding wat almal wil hê, maar die een ding wat almal verkeerd gebruik en soms misbruik. Die druk skedules en geraas van die lewe om ons ...

Wat doen jy om betekenisvolle tyd saam met God te spandeer? Ons vra die geloofsvroue van die AANLYN KURSUS Is jy te besig vir God? 

Jou tyd saam met God is kosbaar 

Stephen Covey het gesê die meeste van ons spandeer te veel tyd aan wat dringend is en nie genoeg tyd aan wat belangrik is nie.  

Tyd is die een ding wat almal wil hê, maar die een ding wat almal verkeerd gebruik en soms misbruik. Die druk skedules en geraas van die lewe om ons kan ons aandag aftrek van ons stiltetyd met God.  

God ken ons harte en al ons behoeftes voordat dit uitgespreek word (Matteus 6:8). Maar ons kan nie net tyd maak om te bid wanneer ons behoeftes het en dit soos ’n inkopielysie vir Hom aflees nie.  

God wil eerste geplaas word in ons lewe, besluite en denke. Jou tyd saam met Hom is kosbaar.  

Is dit verpligtend dat gelowiges altyd moet stil word?  

“Ek rus nou maar in hemelse vrede al raas die lewe rondom my,” sê iemand. En daar is dit, die aha!-oomblik. Die pouse-knoppie van stiltetyd is nie ’n stop-knoppie nie. Dis aktief midde die aksie.  

Die “word stil en erken dat Ek God is”-knoppie bring ons enige oomblik van die dag wanneer ons dit druk tot bedaring. Dit bring nie die fisieke aktiwiteit waarmee ons besig is tot stilstand nie, maar dit bring sekondes waar ons ons afhanklikheid in die oomblik erken.  

Hierdie “knoppie” wat uit vrye wil geaktiveer word, skakel ons selfbeheptheid af om te fokus op ons geloofsverhouding. Wie weet watter wonderlike openbarings kan in dié kosbare oomblikke geskied?  

En hoe wonderbaar dat ons die vrye wil het om te kies of ons dit wil beleef. Bedaar en erken jou Skepper in elke asemteug.  

–ALMARIE DU PREEZ, RADIO-OMROEPER  

Niemand is perfek op hulle geloofspad nie 

Identifiseer wat jou ore doof maak vir Sy stem  

Nie een van ons is perfek in ons aanbiddingstyl of op ons geloofspad nie. Moet daarom nie so hard op jouself wees nie. Maar werk aan ’n plan om jou luisterpad makliker te maak. Weet waarna om te luister en wat jy maar gerus kan ignoreer.  

Een van die grootste dinge wat soms kan inmeng, is onsself. Ons staan in ons eie pad. Die menslike natuur neig daarna om alles te bevraagteken en heroorweeg. Dit laat ons dikwels alleen agter in hartseer omstandighede.  

Die moontlikhede is oorweldigend en los ons in verwarring. ’n Swak selfbeeld kan ’n mens ook keer om drastiese geloofstappe te doen. Jy glo dalk dat jy nooit suksesvol sal wees nie. Selftwyfel is een van die grootste sondebokke.  

Vertrou net op die Here en vra minder vrae. Dis eintlik tog maar ons opdrag.  

–ANGELA REED, RADIO-AANBIEDER  

Gebruik die krag van musiek om kragtig te glo 

Dit wat ons inneem, is wat ons gees en siel vol maak. Musiek maak nie net die emosies binne-in jou wakker nie, dit is ’n hartstaal wat almal verstaan.  

Soms is dit ’n stil gesprek tussen jou en God wat eggo in die musiek. Sing daarom vir Hom wanneer dit voel asof jy ver van Hom af is.  

Gebruik musiek om weer te hoor wat jy moet hoor. Sing wanneer dit voel asof die geraas die stem van ons Hemelse Vader uitdoof. Sing in Gees en in Waarheid, want musiek moet in ooreenstemming met die Woord wees.  

As jy nie gemaklik is om self te sing nie, sit jou gunstelingaanbiddingsliedjies aan, en laat toe dat die lirieke en melodieë met jou praat. Maak tyd hiervoor in jou motor wanneer jy van punt A na punt B beweeg.  

–CARINDÉ VAN SCHALKWYK, SANGERES  

Verdiep jou geloof deur te kyk na Sy skepping 

Kyk net om jou en vind waarna jy soek  

Romeine 1:20 is ’n sleutel vir dié wat hulle geloof wil verdiep. Volgens die Skrif het God elke liewe ding wat Hy geskape het, spesifiek geskape as ’n openbaring van Sy karakter en Sy onsigbare dinge.  

Elke kunstenaar is ’n openbaring van hoe Hy as kunstenaar dink en van verskeidenheid hou. Elke rekenmeester is ’n openbaring van hoe belangrik die fynste besonderhede is. Hoe heiligheid werk, hoe Hy alles of niks is nie.  

Ons verhoudings (ouerskap, huwelik, broers en susters, vriendskappe) sê dinge oor Sy verhouding met ons.  

So het Hy ook elke dier geskep. Daardie kyk wat ’n leeu gee. Die liefde vir aanraking en die speelsheid van ’n sebra of ’n bobbejaan. Elke ding het sy plek en prooi is ook nodig. Dit maak ons oë oop vir voorsiening en versorging, dat ons nie in beheer is nie.  

–JANINE VAN NIEKERK, MEDIA-EVANGELIS  

Leer ’n spesiale, nuwe manier van bid  

Begin deur te dink aan al die goeie goed in jou lewe. Waarvoor is jy dankbaar? Volgende deel jy jou gedagtes met die Here. Sê vir Hom dankie vir die goeie dinge. Erken dit kom van Hom af.  

Vra Hom daarna om jou te help om te onthou. As jy terugdink oor die dag wat verby is, dat Hy die belangrike goed sal terugbring waaraan jy aandag moet skenk. Vra vir Sy lig en Sy insig.  

En dan reflekteer jy oor jou dag se laagtepunt. Waaroor is jy ontsteld en ongelukkig? As jy na die hoogte- en laagtepunte kyk: Wat het jou energie gegee? Wat het jou dreineer? Is daar ’n besluit wat jy moet neem op grond hiervan?  

Hierdie oefening is ’n vorm van ’n eksaminering: ’n refleksiegebed om dankie te sê, insig te kry en te vra vir wat jy nodig het.  

–MELISSA VAN BILJON, LERAAR BY MOSAÏEK GEMEENTE  

Gee God jou toegewyde tyd en aandag 

God het nêrens heen gegaan nie. Hy is nie ver soos ons soms verkeerdelik dink nie. Dit is ons wat soms Sy hand los of van Hom af wegdwaal.  

Hy vra nie “godsdienstigheid” van ons nie. Hy wil nie hê ons moet ’n klomp reëls slaafs nakom nie. Hy wil hê ons moet Hom beter leer ken en liefhê.  

“As jy smag na ’n dieper verhouding met God, moet jy tyd belê in die verhouding. Dit is die beste belegging wat jy ooit sal maak. Dit sal jou lewe verander!” sê Liesel Krause-Wiid, Karien Basson, Melissa van Biljon en 18 ander geloofsvroue, ook die samestellers van die AANLYN KURSUS Is jy te besig vir God?  

Om God jou prioriteit te maak, bly ’n lewenslange proses waar jy elke dag kies om nie net jou spaar tyd vir God te gee nie, maar jou hele lewe. ’n Mens maak tyd vir dit wat vir jou belangrik is.  

Moet God nie by jou dagboek probeer indruk nie. Nee, gee vir Hom jou toegewyde tyd en aandag. 

Deel die artikel

Méér artikels

Teleurstellings kan lei tot ’n dieper verbintenis met God, sê KARIEN BASSON, aanbieder van die AANLYN KURSUS As jy (stilweg) wonder oor God se goedheid. ...

Scroll to Top