Maak jou huwelik die belangrikste verhouding in jou lewe 

Maak jou huwelik die belangrikste verhouding in jou lewe 

Maak jou huwelik die hart van jou lewe en stel mekaar eerste! Ontdek die geheim om jou verhouding te verbeter en jou verbond met jou eggenoot te versterk. 

Van bemarkingsfase tot blywende liefde en vennootskap

Daar is ’n mooi gesegde wat lui: As ek moet kies tussen my en jou, kies ek óns – want tussen my en jou, is óns die belangrikste!  

Wanneer paartjies begin uitgaan en nog in die bemarkingsfase van ’n liefdesverhouding is, gebeur dit sommer natuurlik om mekaar altyd eerste te stel. Ek ...

Maak jou huwelik die hart van jou lewe en stel mekaar eerste! Ontdek die geheim om jou verhouding te verbeter en jou verbond met jou eggenoot te versterk. 

Van bemarkingsfase tot blywende liefde en vennootskap

Daar is ’n mooi gesegde wat lui: As ek moet kies tussen my en jou, kies ek óns – want tussen my en jou, is óns die belangrikste!  

Wanneer paartjies begin uitgaan en nog in die bemarkingsfase van ’n liefdesverhouding is, gebeur dit sommer natuurlik om mekaar altyd eerste te stel. Ek noem dit spesifiek die bemarkingsfase omdat dit ’n baie waar beskrywing is.  

Ons stel ons beste eienskappe ten toon, en wil graag hê die “kliënt” moet tevrede wees. Ons sê die regte dinge en hou die mooiste weergawe van onsself voor. Jou grootste doelwit is om die ander persoon te beïndruk en hom of haar goed te laat voel. Jy sit jou heel beste voetjie voor en sal omtrent enige iets doen om dit so te hou.  

Leer om jou eggenoot weer eerste te stel

Wees egter getroud vir ’n ruk, en jy sien sommer hoe hierdie strategie verander. Bemarking is verby – die produk is gekoop en betaal. Ons wys nou ons ware kleure, bly nie meer stil soos voorheen as ons kwaad of ongelukkig is nie. Ons loop onversorg en ongeskeer rond.  

Jy erken jou moegheid en probeer nie meer wakker bly soos in die dae toe jy nog by jou meisie gaan vlerksleep het nie. Sy is mos nou jou vrou – sy moet verstaan. Hy is jou man – dis oukei om nie meer saam te gaan na die rugbywedstryd of om daardie skop-skiet-en-bloei fliek te geniet nie.  

Sonder dat ons dit werklik besef of ’n dag en datum daaraan kan koppel, verflou dinge mettertyd. Ons kyk anders, praat anders, kies anders en doen anders. As ons ongelukkig is oor iets, is die belangrikste doelwit om ons stem te laat hoor. Ons wil ons maat laat besef dat hy of sy sekere dinge verkeerd doen. Alles waarvan ons beskuldig word wil ons regverdig. Die fokus is op “ék”. 

Die hartseer waarheid is dat baie paartjies hierdie dinge te laat snap. Baie sien nie die verflouing raak nie en verval in roetine. Ons leef in ontkenning en dink ons voel maar so omdat die lewe gejaag is en ons moeg is.

Dalk is elke huwelik se beste strategie vir oorlewing en geluk om juis terug te gaan na die aanvanklike plan. Stel jou maat eerste en besef dat jy nie net kan oorleef nie. Kies weer en bewys dit met elke keuse, woord en daad!  

Wat verbond in die huwelik werklik beteken

Wanneer ons oor huwelike of die getroude lewe praat, is “verbond” ’n woord wat selde gebruik word. Ek het agtergekom die meeste mense weet nie eers wat die woord werklik beteken nie. Terwyl dít die woord is wat God gebruik om die huwelik tussen twee mense te beskryf.  

Ons weet meer van die kontrakte in huwelike as wat ons weet van die bedoeling van God se kontrak tussen twee mense wanneer hulle trou. Ons weet baie goed hoe om ’n huwelikskontrak saam te stel ten einde die beste te hê as ons dalk skei of finansieel verloor deur sekwestrasie of in die geval van dood. Maar stop ons ooit om te dink wat verbond regtig beteken? Verstaan ons regtig hierdie heilige kontrak?  

God steur Hom nie aan aardse kontrakte en reëlings met die prokureur of Binnelandse Sake nie. Daarom moet ons vra: Wat beteken verbond en is daar raakpunte in die verbond tussen God en mens; met die verbond tussen ’n man en vrou?  

In die Bybel word die woord “verbond” die eerste keer gebruik wanneer God met Noag ’n verbond sluit. In leketaal klink dit amper soos ’n ooreenkoms. Sekerlik die bekendste verbond in die Bybel is waar God met Abraham in verbond tree. In Genesis 17:2 lees ons: “Ek maak nou ’n verbond wat vir My en jou aan mekaar sal verbind …”  

Die vers wat my eintlik vir lank baie verwar het, was die gedeelte waar God aan Abraham noem dat hy hom (en sy nageslag) moet laat besny aan sy manlike orgaan. Dat dit ’n herinnering sal wees aan die verbond tussen hom en God (vers 10).  

Jy het dit dalk al baie kere in jou lewe gelees, maar het jy al ooit régtig oor hierdie verbond gaan dink?

Julle troubeloftes is meer as net ’n verbintenis op papier 

Ons belowe ewe plegtig voor die predikant, voor God en gemeente in ons mooi rokke en ons netjiese pakke klere. Tog verstaan ons nie dat daar ’n verskuiwing in die gees kom wanneer ons daardie belofte en eed aflê nie. Ons besef nie hoe ernstig daardie oomblik van “ek belowe” vir die Vader is nie.  

Ek het nooit regtig oor die woord verbond gedink nie. Ek het geweet dat dit in die Bybel staan en ’n vae idee gehad van die feit dat God betrokke is. Dat dit dalk anders is as ’n gewone geskrewe kontrak tussen twee partye. Maar op ’n dag het my prentjie verander. ’n Hoërskoolseun het my eendag letterlik hieroor vasgevra in een van my geslagsopvoedingskursusse.  

Ek het besnydenis as tema behandel om die fisiologie vir die seuns verstaanbaar te maak. Om die honderde vrae oor die verskil tussen mans wat besny is en dié wat nie is nie, te verduidelik. Die antwoord is ongelukkig nie so eenvoudig soos dat party manne die lewe oop-kop kan ingaan nie.  

’n Vasvra-sessie oor God se bedoeling met die besnydenis was nou nie juis in my beplanning nie, maar helaas, die tienerseun het weggetrek en uiteindelik gevra waarom God die penis gekies het. God kon, volgens die seun, mos baie ander dinge gevra het van Abraham – soos byvoorbeeld ’n vastydperk, ’n tyd van rou of afsondering, iets maklik soos hare wat afgeskeer word … Maar die pénis?  

Daardie aand probeer ek toe ’n antwoord kry. Ek kry allerhande teorieë, maar niks wat ek self verstaan nie. Toe gaan dink ek oor die stuk in die Bybel.

Die dieper betekenis agter Abraham se besnydenis en verbond

God het gesê dat Abraham se besnydenis vir almal ’n herinnering sal wees dat hy en God aan mekaar verbind sal wees.  

Nou goed, dink saam met my. In die eerste paar dae na die ritueel was herinnering onnodig. Abraham het seker redelik moeilik geloop, of heeldag in die tent gelê. Maar na ’n paar weke was hy sekerlik weer op die been. Hoe sou ander nóú herinner word dat hy aan God behoort?  

As almal sy penis moes sien om bevestiging te kry van sy verbondskontrak, sou hy seker die eerste flasher in die geskiedenis van die mensdom moes wees. 

Ek was meer deurmekaar as ooit, en ek het geweet dat die seun die volgende dag ’n antwoord van my sou wou hê.  

Kom ons wees eerlik, mans maak baie maklik grappies oor die spesifieke stukkie anatomie. As hulle ’n draai by die badkamer maak, kondig hulle trots aan dat hulle net gaan handskud met Napoleon. Of dat hulle net gou gaan na waar die grootkoppe uithang. Die met die groot boepense merk altyd ewe droog op dat ’n Mercedes nie in die son kan staan nie. Ag, die grappies en uitlatings is eindeloos.  

Of jy nou al self die grappies gemaak het, gehoor het of nie – die waarheid is dat dit ’n geweldige belangrike deel is van mans se “manhood”. Die grote, prestasie en energie wat aan dié deel se sukses gekoppel word, is nou nie juis ’n staatsgeheim nie. Die penis was nog altyd die simbool van die man se trots; ’n bevestiging van “I’m the man!”  

Sonder vertroue en respek is daar nie verbond nie

In daardie nag het ek iets besonders van verbond gesnap. God vra vir Abraham om dit wat vir sy manwees en identiteit kosbaar is, dit waarop hy homself kan roem, neer te lê en te verwyder. Met verbond wil God hê dat ons dít wat vir ons belangrik is, of waarin ons ons identiteit probeer vind, neerlê. Dis amper asof God wil sê: Verwyder jou trots (eie ek). Lê dit neer. Daar is groot seën in die opoffering!  

Met hierdie insig het ek skielik verstaan hoe maklik dit was vir mense om te weet dat Abraham in verbond met God gestaan het. Hy het nie nodig gehad om die wond van die besnydenis te wys nie. Hy was bereid om gehoorsaam te wees – al het dit nie vir hom sin gemaak nie. Hy het God bloot eerste geplaas, en sy manwees neergelê voor God. Tot vandag toe is mans (en vroue) wat besny is in die hart, maklik om uit te ken.  

’n Verdere openbaring was dat die besnydenis die penis se kop ontbloot. Niks word toegemaak en weggesteek nie. Dalk wil God hê dat ons met verbond ons hart sal oopmaak teenoor Hom. Dat ons ontbloot sal staan, met niks wat weggesteek of toegemaak is nie. Miskien klink dit vir jou vergesog. Dalk dink jy dat ek enige redenasie sal gebruik om sin te maak van my eie teorie.  

Hoe jy dit ook al verstaan – daar is ’n diepe verborgenheid in hierdie verbond se heiligheid.

Maak jou hart oop om ’n sterk huweliksverbond te bou

In die huwelik is daar ’n wonderlike resep om jou hart oop te maak teenoor jou verbondsmaat. Om oop te leef sonder enige geheime met ’n bereidwilligheid om alles van jouself te deel. Dit bring jou by iets heiligs wat God self beskerm!  

Om jou trots (eie-ek en selfsug) neer te lê in die huwelik en jou hart ten volle oop te maak teenoor jou maat, is ongelukkig twee dinge wat nou nie juis natuurlik kom vir almal nie. Hierdie trots maak ons selfsugtig en eiegeregtig. Dit laat ons meer neem as wat ons wil gee. Ons houding, dade, woorde en keuses bring ons soms in die moeilikheid, en dan hou hierdie trots ons daar!  

Om ons hart eerlik en ten volle aan mekaar te openbaar verg geweldig baie vertroue en respek. ’n Wete dat ons emosioneel veilig is met mekaar se diepste geheime.  

Dit klink soos twee klein dingetjies, maar almal wat al lank genoeg getroud is, sal weet: Trots is iets wat nie sommer net afgelê word nie. Ons sal veg vir ons eie opinie en behoeftes, partykeer dae van stilstuipe deurmaak, maar jammer sê of aanpassings maak? Nie sommer nie!  

As jou hart boonop al genoeg kere vertrap of geïgnoreer is, maak ons daardie afdelinkie eerder dig toe. Met sulke seer leer ons mettertyd om onsself teen ons eie huweliksmaats te beskerm. Ons bou mure om ons hart en sluit mekaar uit. Dit terwyl God wil hê dat verbond ons moet saambring en in eenheid laat leef. As jy werklik jou huwelik nuut wil maak, of net weer ’n vars stuk liefde wil gee, is dit dalk waar jy moet begin. 

LIEFDESUITDAGING 

Is daar iets waarvoor jy jammer moet sê?  

Wys jou prioriteite dat jy bereid is om jou maat se behoeftes te eer en respekteer? Of kom jou eie wense altyd eerste?  

Is daar dinge wat jy wegsteek vir jou maat? Hetsy ’n geheim of leuen, of dalk sommer net ’n emosie wat jy nie deel nie?  

Kyk jou maat diep in die oë en sê die volgende:  

Ek het op ’n dag voor God belowe om jou te eer, waardeer en respekteer. Ek weet dat ek dit nie altyd doen of regkry nie, maar vandag kies ek dit weer. Terwyl ek jou in die oë kyk, wil ek die volgende sê …

Deel die artikel

Méér artikels

Scroll to Top