Die krag van aanraking is groter as wat ons besef. Dit kan wondere vir liggaam en siel verrig.
Daar is verskeie masseringstegnieke wat jy tuis kan doen om te ontspan en van stres, skete en pyn ontslae te raak.
Ons skouers is seker die algemeenste area waar spanning opbou. Jy gaan wel iemand nodig hê om jou hiermee te help. Slegs tien minute se pamperlang sal al ’n groot verskil maak.
Werk met albei hande aan een skouer op ’n slag. Voer met jou duime sirkelbewegings uit terwyl jou vingerpunte om die skouers vashou.
Met jou kneukels plat, vryf van die buitekant van die skouers op teen die nek na die onderkant van die skedel.
’n Goeie kopmassering voel hemels! Onthou, dit is belangrik om die vel oor die skedel te beweeg, eerder as om net die hare te vryf.
’n Voetmassering is fantasties as jy heeldag op jou voete is of sukkel met slapeloosheid en angstigheid. Gebruik ’n klein bietjie olie en vryf die voetsole vyf keer met die plat kant van jou hand.
Vat dan een voet op ’n slag in albei hande vas en werk ’n bietjie met jou duime.
Konsentreer op die groottoon vir hoofpyn of die binnekant van albei voete – van jou hak tot jou groottoon – om die ruggraat te ontspan.
Moenie van jou hande vergeet nie. Wend ’n bietjie olie aan en begin op die palm. Draai die hand om en werk aan die bokant en dan aan elke vinger. As jy sukkel met spanningshoofpyn fokus op die punt van die duim, onder die duim (nek) en net onder die wysvinger (oë).